Die jaar 1985 sal in die annale van die kerkgeskiedenis in Suid-Afrika onthou word as die jaar waarin die veelbesproke Kairosdokument gepubliseer is.
Dit was ’n boodskap van die kerk aan die mense van Suid-Afrika wat dit duidelik gestel het dat die land by ’n oomblik in die geskiedenis gekom het waarvandaan daar nie meer omdraaikans was nie.
Lees ook: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Van Sondag in Soweto na Woensdag in Mthatha: ’n Groter lied!
Die inleidende paragraaf het dit soos volg gestel: “Die tyd het aangebreek. Die oomblik van waarheid het gearriveer. Suid-Afrika is in ’n krisis gedompel wat die land tot in sy fondamente skud en alle aanduidings is daar dat dit nie net die begin van die krisis is nie, maar dat dit in die komende maande groter en meer bedreigend sal word.” Militante massa-aksie, ’n verskerping van die gewapende stryd deur die ANC en toenemende internasionale sanksies het die Nasionale Partyregering van PW Botha onder groot druk geplaas.
Op 21 Julie 1985 is ’n noodtoestand afgekondig wat tot in 1989 sou duur. Chaos was inderdaad op hande en die kerke in die land kon nie langer stilbly nie. Wat die Kairosdokument uniek gemaak het, was die Uitdaging tot aksie in die laaste hoofstuk van die dokument. Die tyd vir vroom praatjies was verby. Die kerk moes daadwerklik iets begin doen.
Draai ’n mens die geskiedenis 40 jaar vorentoe, bring dit jou by die Suid-Afrika van 2025. Die chaos wat op die oomblik in die land heers, hoef nie hier beskryf te word nie. Wat wel duidelik is, is dat die land sy morele kompas verloor het, dit terwyl die nuutste statistiek aandui dat 85,3% van die bevolking hulle met die Christendom identifiseer.
Miskien wag die mense van die land op geestelike leiers in kerke wat die inisiatief neem en plan maak om daadwerklik verandering in die land te bewerkstellig. Dit sal egter beteken dat die kerke in Suid-Afrika moet saamkom om saam te luister na die Woord, om saam te bid, om saam te praat, en om dan saam te begin doen! In 1960 was dit die Cottesloeberaad, in 1990 die Rustenburgberaad, en in 2025?
Die eerste geleentheid vir die kerke het reeds op 11 April 2025 aangebreek toe kerkleiers mnr Cyril Ramaphosa en lede van sy kabinet in Pretoria ontmoet het. ’n Tweede geleentheid is die Nasionaledialooginisitief wat eersdaags afskop waar die kerke in die land ’n belangrike rol kan speel. Miskien besef almal dat ’n nuwe Kairosoomblik inderdaad hier is. Die vraag is of die kerk soos in die verlede ’n verskil gaan maak.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Dit is die vraag. Dit is vir my baie hartseer, maar ek het nie veel hoop in ons kerkleiers om ‘n verskil te maak nie. ‘n Ruimhuisbenadering skep nie in my die vertroue van ‘n leierskap wat die regering kan aanspreek nie, maar om kompromië aan te gaan. Ons het nou nodig vir die kerk om kragdadig die moraliteit volgens die Bybel te verkondig tot eer van die Here, en nie om mense ter wille te wees nie. Praat in liefde, maar spreek die sonde aan. Ons land is sondeloos sonder enige morele kompas. Daarvoor moet ons die balk in ons eie (kerk) oog soek.