Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Van Sondag in Soweto na Woensdag in Mthatha: ’n Groter lied!

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

God se dade vra dat ons – ná Pinkster – ons lied sal verruim. Dieper, sáám met dié wat treur. Ligter, saam met dié wat bly is, skryf Jan Lubbe in sy jongste rubriek. 

 

Verbaas het die mense daardie eerste Pinkstersondag gevra: “Hoe hoor ons hulle dan oor die groot dade van God praat in die taal waarmee ons grootgeword het?” (Handelinge 2:8). Die tale van Palestina en Persië, Suidwes-Europa en Egipte in Noord-Afrika.

Só het die groot Sendingopdrag in vervulling gegaan: al die nasies, al die tale, dissipels en dopelinge, en “Ek is by julle” al die dae (Matteus 28:20). Dít is hoe die Heilige Gees (en ons) die koninkryk laat kom (Handelinge 1:8). Vanjaar was dit weer nie anders nie: NG gemeentes het ná Pinkster en deur die wintervakansie op hulle uitreike gegaan – na middestede en townships, Msinga in KZN en Tsumkwe bo in Namibië.

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Nege-en-veertig mense, én ander

Sê nou maar die mense se verbaasde vraag sou lui: “Hoe hoor ons die kerk síng oor die groot dade van God?” Dit is dikwels die ervaring op sulke uitreike, dat ons saam met mekaar leer sing, in die verskillende tale. En dan die wonderlike dat wanneer ons sing, versag ’n paar goed waaroor ons dikwels moeilik praat. Asof, minder belangrik nou, in hierdie moment. Baie herinneringe kom by my op, uit ’n kindertyd in die ou land van wit en swart wat ons was: 1972, by die graf van my Oupa Jan in Keimoes en die koor bruinmense wat by die hek van die begraafplaas gestaan en sing het, ons weemoed húlle s’n, en omgekeerd. En in die 1980’s toe my Pa en Ma kore in die Kleurlingdorp Wrenchville by Kuruman help afrig het.

’n Keer wat ek dit “amptelik” weer beleef het, was in Augustus 2022 in Katete, by die sinodesitting van die Reformed Church in Zambia, toe ek die woorde in Chichewa nie verstaan het nie, maar die melodie my meesleur, onmiskenbaar … toe hulle ’n volgende vers in Engels sing en die Afrikaans uit die ou Hallelujaboek deur my trane aankom: “Blye verseek’ring, Jesus is myn” (Halleluja 210). Ineens is die warm hart en toewyding van generasies sendelinge sedert 1899 in die noorde, gestuur uit die Vrystaat, my helder voor oë. In die lied herken ons mekaar, broers en susters, één Gees, één Liggaam, één hoop, één Here. “This is my story, this is my song”, en soveel swaar oor wat ons mekaar aangedoen het, word ligter en daar kom lof: “Praising my Saviour, all the day long.”

LEES OOK: Kan en móét kunsmatige intelligensie (KI) ons preke maak?

Dieselfde het daardie Sondagmiddag in Soweto gebeur. Nie die Sondag waarvan Stef Bos sing oor hoe hy geloof gevind het in ’n klein kerkie in dié grote stad nie, maar nou die dag – 22 Junie – toe die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se Nasionale Gebedsdag daar gebeur het en ons as NG Kerk ook welkom was en ’n woord gegun is. Oor versoening, nogals. Want, het die president van die SARK, biskop Sithembela Sipuka, gesê: “We can only describe ourselves as a family with disputes. We gather today not in denial of these conflicts, but because of them … symptoms of a family that has never fully learned how to be a family.” Hy praat oor vervreemding en vrese en vlugtelinge, die oor-en-weer beskuldigings. En ons almal wat luister, wéét dit ís so.

Ons sukkel. Maar toe ons sing – en ons het baie gesing tussen tweeuur en sesuur die Sondag (dís hoe daar in Afrika aanbid word, met jou hele hart en verstand en al jou kragte, en die stem wat die Here jou gegee het én in harmonie) – toe ons sing, toe kom dit spontaan ook in Afrikaans, ónse handjievol NG mense se moedertaal, oor die grootste daad van God: “Die liefde van Jesus is wonderbaar, wonderbaar, wonderbaar. Die mense verander maar Jesus nooit, kom ons verheerlik sy Naam!” Soos wat ons sing, gaan daar ’n ruimte binne jou oop vir gebed en genade en genesing van alles wat ons van mekaar skei; word jy bemoedig om heel te maak, reg te doen. Want Jesus verander nie; nie gister, môre of tussen ons nie.

LEES OOK: ’n Hedendaagse klaaglied: ‘Jesus en die kinders van Gasa’

Twee weke ná die Sondag in Soweto, vlieg ek oor sneeubedekte pieke van die suidelike Maluti’s en land in Mthatha in die Oos-Kaap. Hierdie keer is dit die “General Assembly” van die United Presbiterian Church in Southern Africa (UPCSA). Hulle eerste sinode post-Covid; ’n agenda van 512 bladsye! ’n Aangrypende huldiging van hulle uittredende leraars, pioniers met ’n bediening van veertig jaar agter hulle. En tussendeur, sing die sinode. Die woorde kom uit hulle hart en bewéég ons na troos en blydskap: “Praise the Lord, praise the Lord, let the earth hear his voice! Praise the Lord, praise the Lord, let the people rejoice! O come to the Father through Jesus the Son, and give Him the glory, great things He hath done.” Ek stuur die videotjie huis toe, na ons gemeente se Bybelstudiegroep, en vra wie weet watter lied dit is? Dadelik kom die antwoord van Elmien Thom, ons bekwame aflosorrelis: Lied 205! En ek dink: vandag sing ons ons nog hier ín kerkeenheid in …

Want is dít nie die punt nie: wanneer ons saam kan aanbid en sing, ontdek ons ’n veel dieper sin en eenheid as bolangs op die vlaktes van ons getwis en kerklike doodsbeendere? Ek herinner my uit studentejare met die onvergeetlike Deon Lamprecht as koorleier, sy woorde (aangehaal by Philip McLachlan en Awie van Wyk): “Vrees niet waar weerklinkt het lied, slechte mensen zingen niet!” Of, om Dietrich Bonhoeffer se veelseggende vermaning effens aan te pas: “Oppas vir die een wat nie saam met ander kan sing nie; oppas vir die een wat nie op sy eie kan sing nie.” Het ons in die NG Kerke verleer om regtig só te sing, uit die hart, uit die kop, sáám met mekaar? God se groot dade, vra dat ons – ná Pinkster – ons lied sal verruim. Dieper, sáám met dié wat treur. Ligter, saam met dié wat bly is. Hartlik, saam met dié wat anders is. Omdat die liefde van Jesus wonderbaar is, en Hy onveranderlik – dít is ons blye verseek’ring!


Ds Jan Lubbe is predikant by die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top