Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Nege-en-veertig mense, én ander

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Wat vra God van ons in die sesde gebod?

“Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie, en nog minder met die daad. Ek moet alle wraaksug laat vaar. Ek mag ook nie myself kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie. Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer.”

LEES OOK: Te midde van wye verdeeldheid, betreur kerk in VSA voorkeurbehandeling vir Afrikaners wat hervestig

Die Heidelbergse Kategismus (1563) is nogals ’n radikale dokument, wil ’n mens byna sê; so radikaal – van die Latyn: radix, wortel, bedoeling, essensie – soos Jésus se uitleg van die Tien Woorde vir ’n geseënde lewe, in sy Bergrede (Matteus 5 tot 7). Vir ’n alternatiewe, heilsame samelewing, want “die koninkryk van God het naby gekom” (Matteus 4:17). Gaan die Kategismus voort: “Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak nie?”

“Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor mekaar geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees; alles wat die naaste kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen” (Sondag 40, Vrae 105 & 107).

LEES OOK: Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek : Die Vrydag vóór Palmsondag

Dié woorde kom by my op toe ek die “49” daar sien staan met hulle in die hand gestopte nuwe Amerikaanse vlaggies, opgestel vir die publisiteit in daardie land, grootmense en kinders. Hulle gesigte moeg, sommige wat moedig probeer glimlag. Wát het dié mense tot dáár laat gaan? Dit is ’n dag voordat ons hier in Suid-Afrika op 8 Mei die honderd jaar gedenk sedert Afrikaans in 1925 ’n amptelike landstaal geword het. Die kategismuswoorde kom óók by my op toe kommentators en sleutelbordkrygers oor die “49” lostrek, om nie te praat van die politici nie: “Lafaards” – meneer die President, genugtig?! “Untransformed human beings” – meneer Lesufi?! “White genocide” – in hierdie twee jaar van Gasa?! Nóg ’n rondte oor “Kill the Boer”?! “Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie.” Hoe weinig te hore van “geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik” in die geskel wat die afgelope vier maande onder ons as Suid-Afrikaners – en kerkmense! – oor hierdie dinge losgebars het? Hoe gretig nie ons leedvermaak in die vingerwys en sondeboksoekery vir die feit dat dié “49” siele uit ons land dáár oorkant staan; wie se skuld is dit: die ANC? Afriforum? President Trump se ideologie van (wit) “christelik-nasionale” eiebelang eerste? Elon Musk se propaganda?

LEES OOK: Wat sê die Bybel oor die Heilige Gees?

Ons land behoort beter te weet oor “vlugtelinge”. Hoe kompleks en traumaties só ’n desperate besluit uiteindelik is om huis en haard agter te laat? Ter wille van perspektief: Vier dekades gelede – in die jaar 1984 – het bykans 38 000 mense uit Suid-Afrika gevlug, in die geheim, toe die “struggle teen apartheid” op sy hewigste gewoed het, townships gebrand het, noodtoestand op noodtoestand. Sedertdien het dit afgeneem tot … ja, minder as 50 per jaar uit Suid-Afrika wat aan die UNESCO-definisie vir “vlugtelingstatus” voldoen. Vergelyk dit met 122 miljoen vlugtelinge wêreldwyd, waarvan ten minste 250 000 in Suid-Afrika ’n heenkome soek, die meeste van hulle uit oorloggeteisterde Afrikalande soos Mosambiek, Kongo, Suid-Soedan en Somalië. Baie ongedokumenteerd. Armoede en honger wat duisende mense hoopvol uit Zimbabwe en Malawi na Suid-Afrika laat stroom, en die werkloosheidskrisis hier verdiep. Dan tel xenofobie – vreemdelingehaat – weer sy kop op. Faktore wat in die VSA tot beleid gelei het om dit moeiliker te maak, selfs onmoontlik, vir vlugtelinge om dáár in te kom, … behalwe hierdie keer?

KYK OOK: Narsisme … In verhoudings, werkplek en kerk 

Só groot is die vlugtelingkrisis in Suid-Afrika, dat die Katolieke Kerk in verskillende bisdomme departemente vir hulpverlening (“caritas”) aan vlugtelinge opgestel het. Onder bosse en brûe slaap mense. Aan die begin van 2020 het meer as 500 vlugtelinge maandelank en sak en pak die Central Methodist Church by Groentemarkplein in Kaapstad beset en geëis om na ’n ander land gerepatrieer te word. Verlede Dinsdag moes ons verneem dat die Episkopaalse (Anglikaanse) “Migration Ministries” in die VSA weier om aan sommige van die “49” uit Suid-Afrika hulp te verleen; “it has been painful to watch one group of refugees, selected in a highly unusual manner, receive preferential treatment over many others …” ’n Beginsel ter wille van die waarheid en regverdigheid?

LEES OOK: Kerk wat werk-artikelreeks | Spanwerk, waardes en geloof groei Bolandse kerk wat byna deure sluit

En in die NG Kerk? Was daar onder die “49” dalk ’n paar van ons lidmate? Waarom kom die herinnering aan die liggelowighede én lotgevalle van “Dorslandtrekkers” en “Jerusalemgangers” uit ’n vorige eeu nou weer na die oppervlak? En daardie “Herderlike Brief” van die Ring van Graaff-Reinet van 1837 (en weer in 1840), wat verwys het na “uitgewekenes” wat weens “armoede en andere oorzaken” en “zonder eenen Mozes en Aäron de woestijn introkken …” Die bekende dr Abraham Faure wat ná ’n besoek aan die Natalse Trekkers in 1843, in ’n brief aan die Kaapse goewerneur sy besorgdheid uitspreek oor sy “misleide landgenooten …”

’n Kerk soos ons behoort eerstens die waarheid van wat hier gebeur, te pobeer peil, hoe moeilik ookal in dié dae vol propaganda. Gee kans, luister, deurgrond die tyd en omstandighede, geloofsonderskeidend soos ’n Gamaliël. Wys dan na waarheid, oor gister én vandag. Profeties, nét so reguit teenoor owerhede aan wie God “die swaard om doodslag te weer” gegee het, as deernisvol teenoor diegene wat werklik gemarginaliseerd en moedeloos is. Tweedens, in priesterlike bewoëndheid, tree in vir hulle wat slagoffers van watter ellende ookal in ons land geword het; in gebed én pastoraat – ons mense en gemeenskappe verlang na hoop. Hier. En bedien die barmhartigheid en versoening wat aan ons toevertrou is sonder aansien des persoons. Nood is nood. Derdens, die koninklike weg van ’n verankerdheid oor wie ons regtig is en hoe ons tot hier gekom het; die intree vir waar daar om ’n helende geregtigheid gevra word en die herstel van ’n waardigheid vir elke mens in ons land. Dit vra dat ons mekaar in die oë sal kyk – die oë van daardie “49” én die oë van ons ander hier. “Doen goed,” sê die Kategismus.

 

  • Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen van die NG Kerk en predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top