Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
“Versoening is die voorlaaste stap van ’n lang reis.” Met hierdie woorde het hy sy spreekbeurt begin skryf Jan Lubbe met verwysing na sy belewenis van die wydlopende aktuele gesprek tussen kerkleiers en president Cyril Ramaphosa op 11 April 2025, die Vrydag voor Palmsondag.
Waar was Jesus die Vrydag vóór Palmsondag?
Markus, die kort Evangelie, se laaste plekaanduiding op Jesus en die dissipels se reis na Jerusalem vir die Pasga, is Jerigo (10:46-52). Jesus “loop voor hulle uit”; dit is ’n dag of twee se stap, ’n styl bergpad, gevaarlik. Net buite Jerigo, die blinde Bartimeus se roep om ontferming – wanneer was dit? Want die volgende perikoop in die vertelling lui “toe hulle naby Jerusalem kom, by Betanië teen die Olyfberg” (11:1); die eerste dag van daardie laaste Week, die Sondag. Maar waar het Jesus-hulle die laaste Sabbat vóór daardie “Intog in Jerusalem” met die “Hosannas!” en palmtakke deurgebring? Waar – langs die pad – het Jesus vir ’n derde keer vir sy verbaasde dissipelkring en die bang skaretjie pelgrims gesê dat die “Seun van die Mens” oorgelewer gaan word, doodgemaak word? Waar op die pad verby Jerigo het die twee binnekringdissipels Johannes en Jakobus kom vra of hulle lángs Jesus kan sit in die komende koninkryk? Sy antwoord: “Julle weet dat by die nasies hulle heersers baasspeel, maghebbers is – só moet dit nie by julle wees nie …” (10:42-44)?
Onverwags lui my selfoon die vorige Sondagaand, 6 April. Op party almanakke staan ingeskryf: Van Riebeeckdag. Die oproep is van rev Mzwandile Molo, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK): die leierskap van die SARK – waaronder dr Nioma Venter (2e vise-president) – is genooi om tien “kerkleiers” saam te neem na ’n ontmoeting met president Cyril Ramaphosa op Vrydag, 11 April. Dit is die Vrydag vóór Palmsondag, ’n dag van voorbereiding vir dominees en kosters, die palmtakke moet nog gesny word. Inderhaas word reisreëlings getref en ’n gespreksdokument voorberei om aan die president voor te lê. Die SARK wou ses hoofpunte aan die president oordra: die dringendheid van ’n inklusiewe, breë burgerlike dialoog; die stryd teen korrupsie; kommer oor die stygende golf van misdaad en geweld; die diep behoefte aan versoening en heling in ons nasie; samewerking tussen staatsdepartemente en kerke in sosiale dienslewering; die komende G20-beraad.
Donderdagaand op die lughawe, kom die WhatsApp: “We want rev Jan Lubbe to say something about healing and reconciliation.”
Wát het die NG Kerk in 2025 in die ekumeniese kring van Suid-Afrikaanse kerke en teenoor die president te sê oor versoening en heling? Ná dié afgelope drie maande se gerumoer, gebalde vuiste, sleutelbordkrygers op die slagvelde van sosiale media, ons brose kohesie wéér aan flarde gedreunsing en versnipper tot plakkate oor vlugtelingstatus? Die eerste sinnetjie in die SARK-dokument op hierdie punt lui: “The SACC is deeply troubled by the re-emergence of the scourge of racism, tribalism, sexism, xenophobia and the many ways of bigotry in our nation.”
Lees ook: Elders gesien | Kerkleiers ontmoet met president Ramaphosa en kabinet
Die afspraak met pres Ramaphosa was Vrydagoggend by die Uniegebou in Pretoria. Vooraf het ons agttien by die kantore van die Algemene Sinode byeengekom, in my binneste ’n stil-trots oor die gasvryheid en styl van ons personeel. Aartsbiskop Thabo Makgoba met gravitas, ’n openingsgebed. Oor Pretoria hang daar wit wolke in die blou lug, die Uniegebou statig skoon. Stiptelik om 11:00 het die president, adjunk-president Paul Mashatile en drie ministers die vergadersaal ingekom en almal gegroet. Ek was verras dat swart kerkleiers nie geskroom het nie om die regering te kritiseer oor korrupsie van bó tot onder, oor geweld teen vroue en kinders, oor die gebrek aan effektiewe vervolging van misdadigers, oor die ineenstorting van dienslewering, oor swak onderwys. Dat daar baie gepraat word, maar te min gedoen. Oor watter boodskap dit uitstuur as die sing van “Kill the Boer” toegelaat word?! “Our society, outside of sloganeering about Ubuntu, is living a common life emptied of its substansive meaning.”
Pres Ramaphosa het deurentyd geluister, aantekeninge gemaak.
Opgekyk toe my spreekbeurt aanbreek, en ek sê versoening is die voorlaaste stap van ’n lang reis. Eers moet almal kan inkom in ’n veilige ruimte om vas te stel wat hét regtig hier gebeur, lank gelede, vóór 1990 en óók in die dertig jaar sedert ’94. Ons moet mekaar in die oë kan kyk, ál die stories hoor, ons is almal mense van hier, my moedertaal gebore uit Khoi en Kaaps.
Die tweede stap: om ín daardie ruimte, jou eie aandeel aan wat gebeur het, pynlik-eerlik te erken. Weerloos. Die NG Kerk hét al “jammer gesê” – in 1990, 1994 en 1998 amptelik – en tóg is daar steeds ’n ongedurigheid as ons oor belydenis en weerloosheid moet praat; ná al die ontnugtering, ’n soort bitterheid en verset.
Ek lees die woorde van die skulderkentenis uit Stuttgart, Oktober 1945: “We accuse ourselves for not standing to our beliefs more courageously, for not praying more faithfully, for not believing more joyously, for not loving more ardently.” Dit is dáár dat die derde moment op weg na versoening aanbreek: om vergifnis te gee en te ontvang; om sáám in God se genade te deel, ’n stil gebaar, ’n handdruk, afsluiting.
En uit daardie teerheid, word ’n voorneme gebore – die vierde stap: kom ons gaan maak reg. ’n Geregtigheid wat kan genees, omdat dit mense se waardigheid herstel, hulle ophelp van waar hulle alles verloor het, afgelaai is; ’n regstel – wat iets anders is as vergelding. Het die regering gedoen wat hulle moes en kón hieraan? Eers daarná kan daar versoening kom, die aanvaarding van mekaar as gewone medemense, gelyke landgenote; eenheid.
En, ten slotte, anderkant hierdie versoening, ’n land heelgemaak en ’n nasie wat floreer. Met Psalm 133 se seënbede vir só ’n land het ek afgesluit.
Pres Ramaphosa en die ministers het beleefd en goed ingelig geantwoord, erken daar is baie foute en uitdagings, kom ons vat hande en maak werk, laat ons ’n spoedige opvolgafspraak reël. “We need the churches to resuscitate social activism to restore our nation.” “Today was a reconnection.” Jesus het saam met die mense geëet, sê die president; volgende keer móét ons.
Waar was Jesus die Vrydag ná Palmsondag? In die praetorium voor die goewerneur, die valse aanklag en getuies, die skare woedend, “Kruisig Hom!” Die SARK is hoopvol, maar versigtig …
Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
