Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

In 2019, ná twee jaar saam met brugleraars, het Simondium Familiekerk se lidmaatgetalle so verstewig (van 24 tot 138) dat die kerkraad die geloofstap geneem het om ds Nadia Muller en haar man, DJ, as leraarsegpaar te beroep. Foto’s: DJ Muller

Kerk wat werk-artikelreeks | Spanwerk, waardes en geloof groei Bolandse kerk wat byna deure sluit


Ses jaar gelede het Simondium se NG kerk amper toegemaak. Hulle was sonder predikant met skaars 24 lidmate oor, maar onder hulle was dié wat geglo het dat God ’n wonderwerk vir hierdie Bolandse gemeente kan doen – en Hy hét, maar dit het ’n klomp kopskuiwe gevra. Heléne Meissenheimer praat met leraars en lidmate van ’n geskiedkundige kerk tussen die wingerde digby die Paarl.

 

Eenvoud. Egtheid. Inklusiwiteit. Diensbaarheid. Dit is die uitleef van hierdie vier waardes wat hy meen ’n geweldige rol speel om mense na hulle gemeente te trek. Só vertel tentmaker DJ Muller wat saam met sy leraarvrou Nadia al vir vyf en ’n half jaar by Simondium Familiekerk bedien. Dít en die feit dat gemeentelede deur die verskillende bedieninge verantwoordelikheid neem vir hulle gemeente. “Dit werk!” sê hy.

Lees ook: Kerk wat werk-artikelreeks | Tweelinggemeente sonder leraars, kategese of pastorieë sien toekoms in huiskerke

Sondae se eredienste by Simondium Familiekerk lyk heeltemal anders as vyf jaar gelede. “Ons gemeente bestaan uit ’n baie uitlopende groep mense – werklik soos ’n familie,” vertel ds Nadia Muller.

Amper 1 000 mense was laasjaar by hulle basaar. Sondae sit sakemanne, onderwysers en plaasvoormanne met hulle gesinne sy aan sy in eredienste. In die somer sommer met plakkies en kortbroeke. Lidmate sê hulle voel tuis in hierdie familiekerk, dit is “’n plek waar mense jou naam ken, waar jy werklik behoort, en waar jou teenwoordigheid ’n verskil maak”.

 

Uitdaging: Gee vorm aan nuwe manier van kerkwees

Riekie Vorndran is die gemeente se skriba sedert 2018. Dit was die jaar toe die eerste van drie brugleraars die gemeente kom help het om ’n nuwe manier van doen te vind. Sy onthou die Sondagoggend van dr Liena Hoffman se eerste preek was daar net 18 lidmate in die kerk. Iets wat toe al vir jare die norm was in wat sowat dertig jaar tevore ’n stampvol kerk op Sondae was.

Die gemeente se komvandaan strek terug tot by die eerste Hugenote wat wynplase in die 18de eeu kom aanlê het. Op ’n stadium was die gemeente ook deel van die historiese Strooidakkerk, maar in 1958 het hulle afgestig. Vir baie lank was Afrikaanse plaaseienaars en bestuurders en hulle gesinne ’n groot deel van hulle lidmate. Toe hierdie groep begin om hulle plase te verkoop en weg te trek het dit ’n sneeubaleffek begin wat amper die gemeente se einde beteken het.

Simondium Familiekerk se wit kerkgebou sit in ’n prentjiemooi landskap van wingerde en berge wat verskans dat hier gemeenskappe woon wat in ekstreme kontraste leef – van die luukse Val de Vie-landgoed en Evergreen aftree-oord tot ’n plakkerskamp.

Die leraar in wie se tyd hierdie skuiwe gebeur het, dr Eddie Orsmond, het die verlies aan inkomste probeer opmaak deur ’n kleiner salaris te aanvaar wat hy aangevul het met deeltydse werk by Universiteit Stellenbosch. Dit het egter beteken hy het minder tyd vir gemeentewerk gehad. Minder gesinne het minder kinders beteken wat die kategeseprogram laat skipbreuk ly het. Daar is gehoop ’n beoogde samesmelting met ’n buurgemeente in die Paarl kon hiermee help, maar toe val dit plat. Selfs die basaar het afgeskaal na ’n gemeente-ete met ’n hoenderbraai.

In kort, het die gemeente so gekrimp dat net Riekie en nog drie vroue oor was op die kerkraad. Sy vertel toe hulle moes besluit oor die gemeente se toekoms het hulle vas gestaan “in geloof dat God self sy kerk in stand hou … dat hy weer hierdie geskiedkundige kerk sal herstel”. Al vat dit dan ook ’n wonderwerk.

Aksie: Spanwerk in gemeentebedienings

Die eerste stap was om vir raad aan te klop by die kerkleiers van die Wes-Kaaplandse sinode. Dit het Orsmond reeds gedoen in die maande voor hy weg is en het gelei tot die betrokkenheid van drie brugpredikante waarvan Hoffman die eerste was. Sy is opgevolg deur dr Pierre Goosen en na hom, ds André Theron.

Kerkraadslid Elsabe Koch onthou hierdie tyd goed. Sy vertel hulle as kerkraad het begin om saam met die brugleraars die gemeente se “positiewes en negatiewes” te identifiseer. Gemeentelede is besoek en gevra om insette te gee en saam te bid. Tydens hierdie proses is besef dat hulle as gemeente nuut moet kyk na hoe hulle bediening lyk.

Die feit dat gemeentelede deur die verskillende bedieninge verantwoordelikheid neem vir hulle gemeente. “Dit werk!” sê ds DJ Muller. Amper 1 000 mense was laasjaar by hulle basaar.

Simondium se wit kerkgebou sit in ’n prentjiemooi landskap van wingerde en berge wat verskans dat hier gemeenskappe woon wat in ekstreme kontraste leef – van die luukse Val de Vie-landgoed en Evergreen aftree-oord tot ’n plakkerskamp.

Dit is ook ’n gewilde bestemming met heelwat te doen en sien vir gesinne wat uit naburige dorpe soos Stellenbosch en Paarl hierheen vir die dag wil uitry.

Dit is hierdie nuwe konteks wat genoodsaak het dat die gemeente nuut moes dink oor hoe kerkwees en bediening hier kan lyk. Stadig het die droom van ’n “leefstylkerk” begin vorm aanneem – een wat vier waardes as rigtinggewend omarm: eenvoud, egtheid, inklusiwiteit en diensbaarheid.

In praktyk het hulle ook begin kyk na ’n model van kerkwees wat groter eienaarskap van gemeentelede vra. Die uitkoms hiervan was om vier bedieninge te identifiseer waarby gemeentelede kan inskakel:

  • Gemeentebediening – gerig op interne sake soos jeug, gesinne, nuwe lidmate.
  • Omgeebediening – gerig op gebedsaksies, uitreike en hulpaksies by die plakkerskamp, arm gesinne en ook die Andrew Murray-kinderhuis.
  • Fondsebediening – bestuur finansies, administrasie en personeel.
  • Eiendomsbediening – sorg vir kerk- en pastoriegeboue en terrein.

Elke bediening het ’n kernspan van so ses of sewe gemeentelede.

’n Kinderdiens.

Na twee jaar saam met die brugleraars was die gemeente se lidmaatgetalle stewiger (van 24 tot 138) en het die kerkraad in Junie 2019 die geloofstap geneem om ’n beroep uit te bring. Op hulle vakature-advertensie in Kerkbode het hulle onder meer uitgelig dat hulle iemand soek wat jonk en dinamies is en die gemeente op ’n groeipad kan neem. Dit het die Mullers as jong leraarspaar oor hulle pad gebring. Ds Nadia Muller is in 2020 voltyds as leraar aangestel terwyl haar man DJ aanvanklik net as musiekkoördineerder opgetree het. Mettertyd is sy rol uitgebrei en is hy verlede jaar as tentmakerleraar bevestig.

Het julle gemeente ’n pos om te adverteer? Besoek gerus Kerkbode se gewilde vakatureblad om uit te vind hoe. Klik HIER.

Die leraarspaar skakel afsonderlik by twee van die bedieningsgroepe in. DJ by die gemeente s’n en Nadia by die omgee-een. Hy verduidelik die gemeente se mense is doeners – hulle is doodgelukkig dat hierdie klein groepies leiding neem en sal dan byvoorbeeld vir ’n geleentheid soos die jaarlikse Oesfees in groot getalle opdaag om te help met die werk en natuurlik ook vir die kuiergeleentheid self. Vanjaar se Oesfees het 200 kaartjies verkoop en laasjaar was daar by ’n 1 000 mense by die basaar.

Beperkinge: Weerstand teen verandering

Dit verg waagmoed om ’n kopskuif te maak wat wegstap van vashou aan hoe dinge nog altyd gedoen is. Vir sommige van hulle lidmate was dit moeiliker om te doen, hoor ’n mens by nog ’n jarelange lidmaat en oud-skriba Maresa Grobbelaar. Sy het onlangs verhuis maar bly by die gemeente betrokke.

Sy lig twee aspekte uit wat hulle hiermee gehelp het:

  • Die regte leierskap het rolspelers kon betrek en gehelp om gesindhede te verander om die pad na vernuwing oop te maak.
  • Sterk fokus op die bou van verhoudings. Sy sê Simondium vandag herinner haar aan die kerk van haar kinderdae – “’n plek waar mense jou naam ken, waar jy werklik behoort, en waar jou teenwoordigheid ’n verskil maak”.
DJ Muller DJ meen wat mense trek is hoe die gemeente hulle waardes uitleef. Inklusiwiteit beteken “enige liewe mens is welkom”. Eenvoud en egtheid beteken “eredienste is super eenvoudig”. Hier is hy en die musiekspan tydens ’n kinderdiens. Foto: Verskaf

Sukses: Vier waardes

Die gemeente het geweldig gegroei die afgelope ses jaar. Daar is tans sowat 400 mense betrokke – dit sluit in by die 70 laerskoolkinders en agt op hoërskool. Hulle kom vanaf die Paarl, Wellington en Stellenbosch asook die omliggende woongebiede. Nadia sê dit beteken hulle gemeente lyk dus heeltemal anders as vyf jaar gelede. “Ons gemeente bestaan uit ’n baie uitlopende groep mense – werklik soos ’n familie,” vertel sy.

Dit sien ’n mens by Sondae se eredienste met sakemanne, plaasvoormanne, onderwysers en pensioenarisse wat almal saam kerkhou. Tussen hulle is klein kindertjies, middeljariges en ouer mense (hulle oudste lidmaat is 91).

DJ meen wat mense trek is hoe die gemeente hulle waardes uitleef. Inklusiwiteit beteken “enige liewe mens is welkom”.

Eenvoud en egtheid beteken “eredienste is super eenvoudig”. Hy vertel mense kom in die somer sommer met kortbroek en plakkies. Hy speel klavier en Nadia sing. Soms wissel hulle dit af met orrelspel. Daar is ook nie “fancy klank, dekor of ligte nie … ons stel nie belang in dit nie. Dit gaan vir ons oor ’n unobstructed ontmoeting met mekaar en met die Here in ons eredienste”.

Hy vertel onlangs kom die gedagte ook by hom op dat hy besonder dankbaar is nie net vir mense wat ja sê nie, maar ook vir mense soos die vier vroue op ses jaar terug se kerkraad wat nee gesê het toe gepraat is van kerk toemaak.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top