Kleingroepe gaan hulle bediening word met ’n emeritusleraar wat een keer per maand kom preek. Só sê ’n tweelinggemeente in die streeksinode van KwaZulu-Natal. Die NG Gemeente Cedarville-Matatiele kan al geruime tyd nie meer ’n eie vaste gemeenteleraar onderhou nie. Hulle het ook nie meer ’n pastorie, kategese of jeugprogram nie, maar hulle leef kerkwees uit met ekodienste, omgee vir mekaar en nagmaalbrood saam om tafels breek. Hierdie saamgestelde gemeente van sowat 80 lidmate se domineelose-situasie is nie uniek in hierdie kleiner sinode nie – ’n mens hoor dat 15 van hulle 46 gemeentes in ’n soortgelyke bootjie is. Wat aandag trek, is die vernuwende maniere hoe hierdie gemeente kies om die ‘huiskerk’-pad te ondersoek. Hulle “lerende ouderling” Sydney Saayman meen dié manier van mekaar bedien kan werk. Heléne Meissenheimer het meer by dié emeritusleraar, ’n oud-kapelaan met ’n MBA onder sy belt, gaan uitvind.
Uitdaging: Kan nie eie predikant bekostig nie
Matatiele en Cedarville is twee dorpe net-net binne die noordelike grens van die Oos-Kaap. Die spitse van die Drakensberge is op ’n mooi sonskyndag sigbaar. Sydney vertel Matatiele as die groter dorp is ’n gewilde inkopiebestemming vir mense uit Lesotho wat skaars ’n halfuur se ry ver is. So 24 km van Matatiele af, rigting kus toe, kry ’n mens vir Cedarville, ’n kleiner dorpie met net ’n vulstasie, kafee en ’n paar kleiner winkeltjies. Armoede en werkloosheid is groot uitdagings hier.

Cedarville se NG gemeente is in 1888 gestig, wat dit een van die oudste gemeentes in die omgewing maak. Die gemeente van Matatiele het in 1945 uit hierdie gemeente afgestig. Net meer as 30 jaar later, in 1979, het die twee gemeentes herenig. Die nuutsaamgestelde gemeente het in dieselfde jaar vanuit die sinode van die Oos-Kaap na KwaZulu-Natal s’n verhuis.
Die gemeentelede se getalle het oor die jare minder geword soos wat die aantal Afrikaanse mense, wat dorpsmense en boergesinne insluit, minder geword het. Daar is ’n charismatiese denominasie op Matatiele wat van die jongmense trek, maar die hoofrede is waarskynlik demografiese skuiwe.


Sydney en sy vrou, Antjie, het na sy aftrede as gemeentebestuurder van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig in die Kaap, by hulle kinders kom bly, wat op ’n plaas in die omgewing van Cedarville boer. Hy het ’n ouderling geword en sy vrou het betrokke geraak by die vroue en die gemeente se gebedsgroep. In Covidtyd het die kerkraad hom gevra om as lerende ouderling geestelik leiding te neem.
Sy eie bedieningsloopbaan se begin lê 49 jaar terug toe hy in 1976 as weermagkapelaan aangestel is. Hy het in die weermag bly bedien tot hy in 1997 demissie geneem het. Hierna het hy hom in die sakewêreld begewe, ’n MBA verwerf en was daarna vir nege jaar gemeentebestuurder.
Sydney sê om nou in sy 70’s weer na gemeentebediening terug te kom, is vir hom wonderlik. “Ek sien dit as die hand van die Here,” vertel hy en voeg by dat sy wye ervaring hom baie help met die leierrol wat hy tans vervul. Selfs al beteken huisbesoek na baie reën dat sy klein rooi Opel Monza soms vasval op nat grondpaaie.
Hierdie oupa van nege kleinkinders sê hy vat uitdagings soos hulle kom. Toe inperkingsmaatreëls die hou van sosiale byeenkomste tydens die Covid-pandemie verbied het, het hulle gemeente inry-dienste gehou.

Een ding is vir hom duidelik. Die gemeente se inkomste is al vir meer as tien jaar te min om ’n voltydse gemeenteleraar te kon beroep en hy voorsien dit sal steeds die geval wees wanneer hy in Februarie 2026 klaarmaak met die driejaar-kontrak wat hy met hulle het.
Maar hy is oortuig dat dít nie sê die gemeente moet toemaak nie. Die antwoord is om selfonderhoudend te word, sê Sydney. Sy bedieningsfokus die laaste drie jaar was gerig om die gemeente te help om ’n kopswaai te maak dat hulle mekaar leer bedien.
Aksie: Kleingroepe en geestelike toerusting
Sydney sê dit is waar sy visie met die huisgemeentemodel inkom. Hy het vir die gemeente gesê hulle gaan leer om op ’n ander manier kerk te wees. Kleingroepe gaan hulle bediening word met ’n emeritusleraar wat een keer per maand kom preek.
Sy fokus die laaste drie jaar was om die gemeente hiervoor toe te rus. Hy het ’n ou Bybelkor-kursus oor dissipelskap met ’n kleingroep die afgelope twee jaar behandel.
Sydney lig ook gebed, evangeliese uitreike, omgee-aksies en die gemeente se eko-dienste as fokuspunte van hulle gemeente se bediening uit. Hy het byvoorbeeld vanjaar werkwinkels gelei wat fokus op die Ons Vader-gebed asook hoe om met ander oor Jesus te praat.
Sy benadering tot geestelike toerusting mag ouskool klink, maar hy vertel dit werk. Daar is van hierdie groeplede wat vanjaar hulle eie kleingroepe lei. By navraag oor of die nuwer korter bane in teologiese opleiding ook sou kon help, sê hy dat hy tog meen hulle beweeg in ’n rigting waar lidmate wat so gelei voel as bedienaar of diensleraar sou kon kwalifiseer om hulle gemeente te bedien.


Beperkinge: Sommige wil vashou aan die oue
Sydney sê daar bly al minder Afrikaanssprekendes in hulle omgewing (sowat 7% van Matatiele se nagenoeg 12 466 inwoners praat Afrikaans, volgens 2011-data). Hy noem hy is heeltemal bereid om in Engels te preek, maar sy indruk sover is dat mense uit ander taal- en kultuurgroepe in die kerke wil bly wat hulle ken.
Hulle moes al heelwat planne maak om uitgawes te besnoei. Elke dorp se pastorie is reeds verkoop. Die besluit is ook geneem om die twee kerkgeboue te verkoop, want die instandhouding raak te duur. Op Matatiele is reeds ’n reëling gemaak om die Metodistegemeente se kerkgebou te gebruik.
Die gemeente het ook nie ’n kategese nie en die laaste poging tot ’n jongmensprogram het nie gehou nie.
Sydney vertel hierdie veranderinge is nie maklik nie. Soos in die meeste gemeentes is daar mense wat nie deelneem nie. Daar is ook diegene wat graag aan die ou manier van doen wil vashou, maar hy sien ook dat mense oor tyd nuwe maniere van doen leer aanvaar, selfs omarm.
So byvoorbeeld lyk nagmaal die laaste paar jaar anders. Hulle kom om die beurt in die twee dorpe se kerkgeboue saam. Die kere wanneer hulle dit in Cedarville hou, kom sit almal om gedekte tafels in die spasie waar die preekstoel eens was. Dan breek hulle saam brood. “Dit is baie intiem. Ons dink dit is baie besonders,” sê Sydney.
Toe samesang begin swaartrek oor hulle so ver uit mekaar sit en die getalle so min is, het hy ’n tyd vir stilword ingebring. Hy speel gewyde geestelike musiek en lees voor uit die Liedboek as deel van ’n meditatiewe moment voor hy die boodskap bring.

Sukses: Van een kleingroep na vier met omgee wat floreer
Dit is vir Sydney bemoedigend dat hulle in Maart vanjaar van een kleingroep na vier kon groei. “Dit werk. Dit is ons bedieningstrategie en ons toekoms,” sê Sydney en vertel al vier staan onder leiding van lede uit die oorspronklike een wat hy vir twee jaar gelei het. Hy hoop nog groepe sal vanuit hierdie kleingroepe volg.
Hy vertel hulle sien ook verhoogde betrokkenheid en geloofsverdieping by lidmate.
Gemeentelede ondersteun hulle gemeente se gebedsbediening goed. Ook het beide dorpe ’n eie vrouebybelstudie wat weekliks saamkom. Een Bybelstudiegroep het selfs verantwoordelikheid aanvaar om ’n speelgroepie vir klein kinders op Cedarville te ondersteun.
Lees meer verhale oor gemeentes “wat binne ’n dikwels krimpende kerkverband ‘vooruit reis'”: Boek | Bakengemeentes bied boeiende kyk na kultuurskuiwe binne gemeentes
As deel van die gemeente se ekologiebediening is van die gemeentelede betrokke by ’n laerskool op Cedarville waar hulle die kinders leer om nie rommel te strooi nie. ’n Ekodiens word ook kwartaalliks iewers in die natuur gehou. Sydney vertel dit is om mense verder bewus te maak van, soos hy dit stel, hulle Godgegewe opdrag om die skepping te versorg.
Hy sê hulle diens van barmhartigheid floreer ook. Hulle het ’n vrouegemeentelid wat vir hierdie dienswerk verantwoordelikheid neem en dit vat net een oproep van haar dan stroom die hulp in. Maak nie saak vir wie dit is nie – wit, bruin of swart. So ’n sterk gevoel van samehorigheid tel vir hom in die guns van ’n klein gemeente. En, voeg hy by, ’n mens kan vinniger beweeg as in ’n groot gemeente, “klein is beslis nie sleg nie”.
’n Eie predikant is ’n uitdaging vir byna ’n derde van klein sinode se gemeentes
Ds Pieter Grobler is skriba van die NG Kerk in KwaZulu-Natal. Hy vertel by navraag Cedarville-Matatiele is een van 15 uit hierdie kleiner sinode se 46 gemeentes wat waarskynlik nooit weer alleen ’n voltydse gemeenteleraar sal kan beroep nie. Een van hulle word reeds net deur ’n bedienaar bedien terwyl ‘n ander ’n hulpleraar het.
Sewe gemeentes van die oorblywende 31 word bedien deur emeritusleraars. Nog sewe is besig met beroepsprosesse.