Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Boek | Bakengemeentes bied boeiende kyk na kultuurskuiwe binne gemeentes

Bakengemeentes: Nagedink oor roeping en getrouheid deur Lourens Bosman, Marelize Maritz en Mias van Jaarsveld (reds)

Uitgewer: Barnabas Akademiese Uitgewers, 2024 

Beskikbaar by CLF.

Geborg

Resensent: Rethie van Niekerk

Kan dit al twintig jaar of meer wees wat ons missionale teologie lees, dink en praat? Tog was Bakengemeentes vir my die eerste keer in al hierdie jare dat ek lees hoe missionale teologie so helder oor die konteks van ons kerklike landskap geplaas word. Met die optel van Bakengemeentes was my verwagting om akademiese werk met verbygaande belangstelling te lees. Ek was daarom nie voorbereid op die manier waarop hierdie gewigtige versameling navorsing my energeer en inspireer het nie! Met die toemaak van die boek het ek hoop, maar is ek ook uitgedaag en bly ek my eie bediening oorweeg, bedink en toets. Vir hierdie leser het die skrywers beslis in hulle doel geslaag!

Bakengemeentes is die produk van jarelange prosesse vanuit die Algemene Sinode, wat in die boek self breedvoerig verduidelik word. As sulks is nie net die verhale wat vertel word nie, maar ook die proses en teologiese refleksie diep gewortel in die NG Kerk se verhaal.

Nadat die verhale van 21 “bakengemeentes” vantevore opgeskryf is, reflekteer verskeie skrywers in hierdie boek oor die lesse wat ons uit hierdie verhale leer. So word daar gekyk na kultuurskuiwe wat binne gemeentes plaasvind, roeping, armoede, netwerke en verhoudings, aanpasbare verandering en getroue innovasie, geloofsonderskeiding, pastorale sensitiwiteit, asook bakens vir die pad vorentoe.

Lees ook: Dominees pen mense-stories neer as ’n naby-kykie op ‘bakengemeentes’ by Slypskool vir Skrywers 2024

In die voorlaaste hoofstuk, “Op soek na bakens vir 2030”, reflekteer Cobus van Wyngaard oor wat hy noem “ekklesiologie van onder af” – om ons verstaan van kerkwees “van onder af”, by gemeentes self, te laat vorm (’n konsep wat ook aan die begin van die boek genoem word). Van Wyngaard vertel hoe verandering in groot instansies eers op die kantlyne van die sisteem gebeur. ’n Wyse instansie sal die soeklik op daardie nuwe moontlikhede laat val. Dit is dan ook presies wat Bakengemeentes doen.

Die verhale van gemeentes wat binne ’n dikwels krimpende kerkverband “vooruit reis en … as bakens kan dien vir die kerk op haar reis na die toekoms” word deurgaans ontgin, juis op soek na hierdie “ekklesiologie van onder”.

Sonder om al die insigte wat die navorsing bied hier weer te gee, was daar verskeie temas wat die leser deurlopend hoor. Dit is duidelik hoe ’n veranderende konteks gemeentes op hierdie reis neem. Die rol van Goddelike roeping word oor en oor onderstreep. ’n Mens lees telkens hoe geestelike gewoontes fundamenteel is tot groei. Van Gobabis tot Brixton leer ons hoe belangrik gasvryheid en inklusiwiteit is; hoe vennootskappe oor grense en verhoudings meer as die beplande of verwagte vrugte oplewer. Gemeentes wat dink oor die toekoms en hulle roeping, is gemeentes wat die kerk as hierdie “bakens” vooruitgaan.

Die rol wat leiers speel, is ook deurlopend opvallend. Hierdie is dikwels ’n moeilike rol van selfprysgawe, maar lei uiteindelik tot gedeelde leierskap. Dapperheid en verlies gaan hand aan hand. Dit is ook opmerklik dat die groei wat hier beskryf word, nie lyk soos wat ons graag sou dink nie. Hier is groei in die rigting van roepingsbewustheid, gehoorsaamheid en diensbaarheid.

Bakengemeentes is ’n boek wat jy gaan bêre en telkens weer herbesoek. Ek is nog lank nie klaar met hierdie boek nie. Uit die navorsing wat hier gebied word, is dit ook duidelik dat God nog lank nie klaar is met die NG Kerk nie.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top