Twee konsepte het help vorm gee aan die stories wat deelnemers by vanjaar se Slypskool vir Skrywers ingedien het: “menslike biblioteke” en “bakengemeentes”, berig Le Roux Schoeman en Riata Nel. Lees alle deelnemerbydraes onderaan dié artikel.
Oor menslike biblioteke: Om toenemende vervreemding en polarisasie in die politiek, samelewing en ook geloofsgemeenskappe te bekamp, is daar ’n veelheid inisiatiewe wat die waarde en gewig van die individuele storie ietwat in ere probeer herstel. As keerwal teen stereotipering, veralgemening en gewoon onkunde werk organisasies soos The Human Library Organisation (slagspreuk: Unjudge someone!) en soortgelyke projekte op eie bodem met die analogie tussen mens en boek: Jy kan ’n mens – nes ’n boek – nie op sy baadjie takseer nie, maar kan dit wel uitneem en gaan sit en dit deurblaai en so eerstehandse kennis opdoen en jou eie begrip vermeerder. Mens-tot-mens gesprekke wat kan lei tot meer menslike stories oor ander en die wêreld.
Oor bakengemeentes: Die idee van “bakengemeentes” kom uit die droom dat die NG Kerk geleidelik sal verander in ’n netwerk van gemeentes wat op voetsoolvlak, vanuit God se liefde, diensbaar is in ons gemeenskappe, verduidelik dr Lourens Bosman, die uittredende algemene bestuurder van die NG Kerk, wat die afgelope paar jaar ook ten nouste by die Slypskool betrokke was.
“Om dit kan doen, sal gemeentes oor die tradisionele grense van ras, taal en kultuur moet tree,” aldus Bosman. “Hierdie droom is gebore tydens die Algemene Sinode van 2019 wat tyd opsygesit het om te vra: Waar wil God hê moet die NG Kerk wees teen 2030? Ná die sinode het die Taakspan Navorsing gaan soek na gemeentes wat reeds hierdie droom beliggaam. Hulle verhale is opgeteken en word bestudeer. Hierdie gemeentes en hulle verhale is belangrik: Dit is bakens op pad na ’n toekoms waar die NG Kerk al meer tuis kom in die diversiteit van Suider-Afrika,” sê Bosman.
Uit hierdie kreatiewe kruisbestuiwing is vanjaar se slypskool-konsep gebore: Kry vier mense uit bakengemeentes en laat die skrywers elkeen een van die vrywilligers rustig onder vier oë neem en die stories wat hulle hoor, neerskryf en met Kerkbode-lesers deel. Dit is wat jy hieronder gaan lees.
Hoekom ’n Slypskool vir Skrywers?
Om fyn te luister, raak te hoor en iemand anders se storie met vernuf te kan skryf.
Dit is maar drie aspekte van die uiteenlopende stel vaardighede waaraan die groep leraars geslyp en geskaaf het. Tesame met lede van die Taakspan Navorsing bied die Slypskool vir Skrywers reeds die afgelope vier jaar ’n ruimte vir diegene wat onder die druk van ’n spertyd en met die eerlike terugvoer van ander skrywendes stories vir publikasie wil skryf en indien.
Vanjaar se fokus op “mense-stories” sluit weereens aan by breër, aktuele temas wat na vore kom in die navorsing wat onder leraars en lidmate gedoen word in peilings en opnames soos Kerkspieël.
Ses deelnemers onder die ouderdom van 40 het in Augustus aangemeld by die eMseni-terrein naby OR Tambo-lughawe vir drie dae van leer by mekaar en onder leiding van joernaliste en navorsers binne die kerk se kommunikasie-ekosisteem.
Wie was die vrywilligers in die opwip-biblioteek?
Die “boeke” wat ingestem het om hulle storie te vertel, was ds Hennie van Rooyen van Brixton in Johannesburg, ds Christo Nel van Riebeeckstad in die Vrystaat, Jean Pelser ’n deeltydse diensleraar van Fontainebleau in Johannesburg en Doc Mabila wat verbonde is aan die nieregeringsorganisasie Betereinders. Hy werk ook via sport met jeug in verskeie townships.
Chris de Vries gesels met Doc Mabila: ’n ‘Clown’ vir die koninkryk
“Let’s all be stupid together.” Dít is Doc Mabila se lewensfilosofie (een van baie).
Tydens die jaarlikse Kerkbode Slypskool in Augustus 2024, was Doc Mabila deel van ’n paneel ‘lewendige boeke’. Ware mense met ware stories. Ek het die geleentheid gehad om vir Doc te ‘lees’. Hier is ’n paar grepe vanuit sy merkwaardige verhaal:
“But why, Doc? Why did you choose to stop studying medicine in your 4th year? What or who convinced you to pursue ministry above life as a doctor, or as a soccer star?”
Doc se antwoord: God. En hoe meer ek verdere verduideliking soek, bly dit die eenvoud van sy antwoord. God. Want God het my gevra …
Jesus spesialiseer daarin om die status quo van sy dag (en ons s’n) op sy kop te draai. Doc se lewe beeld die ingrypendheid en diepte van hierdie ‘op-sy-kop-draai’ uit.
Hy vertel van homself – Hy is die kind van twee plaasarbeiders. Sy ma en pa lewe steeds in Tzaneen. Beide sy ouers het op ’n lemoenplaas gewerk. “I learned everything through oranges,” sê hy. “For maths, I counted oranges. For self-care products, like body lotion, we used oranges. To flavour our pap, we squeezed orange juice into it as part of our breakfast.” Dit gee ’n prentjie aan die woord “armoede”, wat ek sukkel om uit my kop te kry. Die armoedesiklus. ’n Swaarkrybegin, vir ’n man wat groot goed doen. Hy kan nou nie ’n lemoen verdra nie, lag hy.
Ten spyte van die feit dat hy ongeveer 25 km skool toe moes stap, was Doc ’n uitblinker in akademie. In die hoërskool presteer hy in sokker. Hy het selfs ’n beurs losgespeel. Hy het keuring gekry om medies te swot.
In sy vierdejaar, sê drie geestelike mentors op verskillende geleenthede vir hom dat hy moet onthou om terug te gaan. Gaan help in die townships. “Back to your grassroots.” Die armstes van die armes. Wees en weduwee. Toe ’n Amerikaanse prediker in sy tuisgemeente weer vanuit nêrens vir hom hierdie soortgelyke roeping bevestig, het Doc genoeg gehoor. Hy het radikaal geluister.
‘God’s fool’
Hy stop sy mediese studies net daar in sy vierdejaar. Hy gee sy sokkerbeurs op. Hy was byna op pad na die nasionale span. Hy is ernstig oor wat God van hom vra. “Let’s all be stupid together,” kom sy frase weer by my op. Doc laat toe dat God die status quo van wat belangrik is in sy lewe, op sy kop draai.
’n Clown vir die koninkryk. ‘God’s fool’. Amper soos St Franciskus van Assisi. Ek sien hoe Doc ’n hofnar is – wat die ernstige lewenspeletjie oor wat belangrik is, bevraagteken en uitdaag. Sy uitbundige lag as hy sy storie vertel, beaam dit. Hierdie man het vrygekom van ’n klomp goed. God het hom geroep en gewys wat waarde het. En dit is wat hy lewe.
Op hierdie reis maak God hom samaritaan en brugbouer.
Hy help wit voorstedelike gemeentes deur Betereinders (NRO) om blootstelling te kry aan mense buite hulle konteks. Wit kerkmense kry die geleentheid om ander (ook kerk) mense in hulle konteks te sien. Regtig te SIEN. Die mens binne in die rou armoede in informele nedersettings, en die mens in Fontainebleau Gemeenskapskerk, kyk mekaar in die oë. Jaarliks, op 16 Desember, trek Doc en Betereinders laer – in ’n township. En nooi almal in – om sokker met die mooi van die lewe te speel.
Ons het sulke brugbouers nodig. “Dit weet ons,” bevestig Taakspan Navorsing. En gelukkig, al klink dit na ’n klein getal, is gemeentes besig om hierdie waarheid te snap. Tot 7% van gemeentes het ’n betaalde persoon wat daarmee getaak is om ons oor grense te help. Daar is sekerlik baie meer onbetaalde persone, wie se hart ook vir hierdie saak brand. Ons is eenders, al is ons anders.
Die afplat ná Covid
Die Predikantepaneel 2020 in Covidtyd wys vir ons dat gemeentes besonders bereid is om te help. Tot 96% van gemeentes het projekte tydens die pandemie gehad om mense in hulle gemeenskap by te staan. Na Covid plat dit egter weer af. Hoekom? wonder ek. Oordat ons nie na genoeg aan mekaar se nood lewe nie? Die guru’s praat baie oor “the power of proximity”.
Ons het mense soos Doc nodig. Ouens wat mense met lag en intensie saamneem oor grense wat ons moeilik vanuit eie inisiatief kruis. Die nood het nie na Covid verander nie. Ons “proximity” tot die nood het verander. Daar het afstand gekom.
Vandag lewe 18 346 840 mense (kyk hier) in Suid-Afrika in ekstreme armoede. Dit is byna 30% van die totale samelewing. 1 uit 3 persone. Die nood was nog nooit so groot nie. Ons het clowns nodig, wat in die gesig van ons krom sisteme lag en dans en ons uitdaag om nuut te dink.
“Let us do stupid things together.”
“It is because I am lonely, that I go out and make family from strangers,” sê Doc.
Matteus 12:47-50 het vir hom diep persoonlike betekenis:
[47] Iemand het vir Hom gesê: “Kyk, u moeder en broers staan buite en wil met U praat.” [48] Maar Hy het die een wat dit vir Hom gesê het, geantwoord: “Wie is my moeder en wie is my broers?” [49] Toe het Hy sy hand na sy dissipels uitgesteek met die woorde: “Kyk, hier is my moeder en my broers. [50] Want elkeen wat die wil doen van my Vader in die hemele, dié is my broer en suster en moeder.”
Is dit nie die essensie van geloofsgemeenskap nie? Doc lag. Ons moet klaarmaak, sê hy. Hy moet nou ’n meisie in Limpopo gaan haal en haar na ’n skoonheidskompetisie in Durban neem. Haar en haar hele gesin. Dit sal hulle eerste keer by die see wees. En hy lag!
“Here, gee ons meer Samaritaan-brugbouer clowns soos Doc,” dink ek toe hy wegstap.
St Franciskus leer ons hierdie gebed: Neem en ontvang, o Here, al my vryheid. Ontvang terug my hele geheue, al my verstaan en eie wil. Wat ek ook al het, kom uit u hand. Ek gee dit terug in u hand, en lê alles in totaliteit neer. Gebruik en bestuur dit alles, Here, soos wat U wil. Gee my net die gawe om U lief te hê – net hierdie een genade vra ek. Dit is, werklik, genoeg vir my.
Die grootste geskenk wat ek ontvang het vanuit Doc as mense-boek, is om hierdie gebed in aksie te sien.
Christine Kruger gesels met Jean Pelser
Gedompel in disoriëntasie: Jean Pelser se reis na stabiliteit
Disoriëntasie is nie net ’n toestand van verwarring nie, maar ’n diepgaande werklikheid wat ons almal raak op ons lewensreis. Dit is in hierdie ruimte van onsekere weë en onbekende bestemmings dat Jean Pelser sy storie begin – ’n storie wat ons nooi om saam met hom die kompleksiteit van geestesgesondheid, verandering en die troos van kontemplatiewe spiritualiteit te verken. Op 28 Augustus 2024 verken lede van die Kerkbode se slypskool Jean Pelser se storie by eMseni Christian Centre.
Pelser, outeur van die boek A-Z of mental health, se reis begin nie op ’n bevoorregte plek nie, maar in die onstuimige waters van ontwrigting. Op 17-jarige ouderdom het hy die sekuriteit van Johannesburg vir die onbekende wêreld van Londen verruil, op soek na iets groter as homself. Maar soos dit met soveel van ons gebeur, het hy homself eers dieper in disoriëntasie bevind – ’n toestand waar die grense van wat bekend is, begin vervaag en waar die pad vorentoe dikwels in duisternis gehul is.
Die trauma wat hy op skool ervaar het, het hom op ’n stadium verlam. Dit was nie net sy vermoë om te konsentreer wat onder druk gekom het nie, maar sy hele sin van self het begin verbrokkel. Hy moes weer begin, van die grond af, sy pad terug na matriek, na universiteit, en uiteindelik na sy roeping vind. Pelser se ervaring is eg, rou en spreek tot die kern van wat dit beteken om as mens deur die storms van die lewe te beweeg.
Navorsing, gedoen deur Pieter de Villiers van Shadowmatch, wys dat slegs 16% van Suid-Afrikaners verandering met gemak aanvaar. Die meeste, 68%, verander bloot omdat hulle geen ander keuse het nie, terwyl 16% aktief teen verandering staan. Pelser se verhaal weerspieël hierdie realiteite – hy het verandering nie gesoek nie, maar was gedwing om dit te omarm as gevolg van die omstandighede wat hom in ’n hoek gedwing het.
Kontemplatiewe spiritualiteit
Die keerpunt in Pelser se reis kom egter nie deur brute krag of deur selfbeheersing nie, maar deur die ontdekking van ’n ander pad – die pad van kontemplatiewe spiritualiteit. Dit was eers by ’n charismatiese kerk, ’n omgewing wat normaalweg nie met kontemplatiewe praktyke geassosieer word nie, dat Jean hierdie nuwe manier van wees begin ontdek het. Hy beskryf hierdie ontdekking as vreemd en kontrasterend: “Ek het baie keer soos ’n slegte Christen gevoel, want ek kon nie al die ekstrovert goed doen nie en dit was mylpale vir geestelikheid.” Dit was ’n onverwags kalm en helende pad, een wat hom gehelp het om sy innerlike kompas weer te vind.
Pelser se ontdekking van kontemplatiewe spiritualiteit het hom geanker in ’n tyd van groot disoriëntasie. Soos hy verder op sy reis beweeg het, het hy stabiliteit gevind by die Fontainebleau Gemeenskapskerk. Wat aanvanklik ’n tydelike pos as kerkkantoorwerker moes wees, het ses jaar van sy lewe geword. Dit was hier, in die eenvoud van daaglikse rituele en in die geborgenheid van gemeenskap, dat Pelser begin genees het. Die praktyke wat hy in hierdie tyd ontwikkel het, soos die “rule of life” wat sy dae gestruktureer het, het hom gehelp om sy geestelike en emosionele balans te herwin. Pelser is in 2023 gelegitimeer as diensleraar en leef sy roeping tans in pastoraat uit by Fontainebleau Gemeenskapskerk.
Pelser se verhaal is ’n stille getuienis van die waarde van volharding in ’n wêreld vol uitdagings. Dit herinner ons daaraan dat, selfs in tye van disoriëntasie, daar ’n pad van kalmte en innerlike vrede is wat ons kan volg. Dit is ’n pad wat ons nooi om ons eie verwarring te omhels, nie as ’n teken van swakheid nie, maar as ’n geleentheid vir groei. Soos Pelser ons wys, kan die waarde van kontemplatiewe spiritualiteit ons lei na ’n plek van diepe heling – ’n plek waar ons kan rus, herstel en weer opstaan, met die wete dat ons nie alleen deur hierdie reis beweeg nie.
Elaine Dippenaar gesels met Hennie van Rooyen
Hoe lyk die reis na inklusiwiteit?
Tydens die Taakspan Navorsing se jaarlikse slypskool in samewerking met Kerkbode op eMseni in Benoni het deelnemers saam met Hennie van Rooyen van die Brixton-gemeente gedroom oor hoe die pad na egte inklusiwiteit in die NG Kerk lyk.
Op die oog af lyk Van Rooyen nie soos ’n “tradisionele” middestad-predikant nie. Hy het nie lang hare of tattoos nie. Tog was hy vir lank aan die stuur van die Brixton Kerk wat onlangs geïdentifiseer is as ’n “bakengemeente”, ’n gemeente wat iets vir ander gemeentes kan leer oor hoe die NG Kerk se pad vorentoe moet lyk.
Die verhaal van die Brixton Kerk is nie ’n ongewone verhaal in die NG familie nie. As gevolg van demografiese veranderinge in hulle area vertel Van Rooyen dat hulle reeds voor 1994 moes begin aanpas en anders dink oor hulle gemeente se roeping. Die mense wat in die kerk se omgewing gewoon het was ewe skielik nie almal meer Afrikaanse kerklidmate nie. Wat Brixton Kerk se storie wel uniek maak is dat hulle dit reggekry het om ’n waarlik inklusiewe ruimte te word, waar dit nie saak maak waar jy vandaan kom of hoe jy lyk nie. Solank jy op soek is na ’n plek waar jy ’n ontmoeting met God kan hê.
Opname wys hoe jonges dink
In ’n opname onder proponente en predikante onder 40 jaar oud word daar aangedui dat een aspek van die toekoms van gemeentes waaroor daar die grootste instemming is, is dat gemeentes van die NG Kerk oor 20 jaar ’n sterk multikulturele/veelrassige karakter gaan hê.
Vir gemeentes om hierdie skuif te begin maak is dikwels uitdagend en soms selfs ondenkbaar, maar Brixton Kerk en Van Rooyen kan ’n padaanwyser wees vir hierdie proses.
Vir Van Rooyen is dit steeds ’n verrassing dat Brixton Kerk (en hyself) gesien word as ’n bakengemeente. Hy noem dat Brixton Kerk maar altyd ’n gemeente was wat effens “onder die radar gevlieg het”, en dat hy self dikwels nie so tuis gevoel het in die breër kerkverband nie. Om so op die rand van kerkstruktuur te staan is nie iets wat hom verbitter het nie. Inteendeel, hy noem dat omdat die gemeente onder die radar gevlieg het, hy dikwels goed kon doen wat vir ander gemeentes moeiliker blyk te wees. In gesprek met hom kom ’n mens vinnig onder die indruk dat hierdie pad na inklusiwiteit nie altyd maklik is nie, maar dat dit altyd die moeite werd is. Alhoewel dit vir Van Rooyen soms ’n eensame proses was, hoef dit nie vandag vir gemeentes meer ’n eensame proses te wees nie, want daar is gemeentes wie se stories hulle kan begelei in die reis.
Inklusiwiteit in praktyk
Vir Van Rooyen gaan inklusiwiteit op die elke vlak oor opregtheid. Dit is nie iets wat jy maar kan aan- en afskakel nie, jy moet dit elke dag beoefen selfs wanneer dit moeilik is. Hy vertel dat hy dikwels dink mense maak net erns met inklusiwiteit solank as wat dit maklik is, maar as jy ’n verandering in jou gemeenskap wil sien moet jy mense innooi, nie maar net wanneer dit maklik is of as “window dressing” nie. Jy moet bereid wees om mag op te gee en nie altyd te praat nie, maar ook te luister. Wanneer ’n mens na die storie van Brixton Kerk kyk moet ’n mens bewus wees dat dit ’n gemeente is waar inklusiwiteit nie net ’n etos is nie, maar ’n “practice”. Iets wat elke dag beoefen word. In Brixton Kerk is daar ruimte vir elkeen om hulleself te wees. Dit sluit die dominee in. Een van die lesse wat Van Rooyen geleer het is dat hy as predikant opreg homself moet wees. Hy hoef nie ’n ander predikant se styl na te maak om relevant te wees vir sy gemeentelede nie. In Van Rooyen se bereidheid om “maar net” homself te wees skep hy ’n gemeenskap waar ander mense “maar net” hulleself kan wees.
Soms messy
Van Rooyen vertel dat hy nooit gedroom het om ’n middestadpredikant te word nie. Tog as ’n middestadpredikant besef hy dat sy teologie en denke rondom God gedurig deur die skuiwe en veranderinge in sy gemeente groei en verander. Om te kan sin maak van hierdie dinamiese teologiese verstaan wys hy na sy gereformeerde opleiding. Reformasie gaan tog daaroor om konstant te verander en nuut te word. Van Rooyen noem dat sy teologie altyd ’n luisterteologie is, wat om die beurt luister na God en die Bybel, maar ook na sy konteks. Dit is nie ’n reduksionistiese geloofverstaan nie. Dit is ’n teologie wat oopsluit. ’n Teologie wat beide die Bybel en die konteks ernstig opneem en in gesprek bring met mekaar.
Die heel belangrikste vir Van Rooyen in die reis na inklusiwiteit is dat dit altyd gaan oor mense. In my gesprek met Van Rooyen is ek gereeld herinner aan ’n frase van die Amerikaanse dominee en skrywer Nadia Bolz-Webber: “For Jesus it was always people above parameters”. Jesus het altyd meer waarde geheg aan mense as aan die godsdienstige grense van sy tyd. Dit is ’n waarde wat in Hennie van Rooyen en Brixton Kerk geleef word, en in hierdie waarde word inklusiwiteit nie maar net ’n droom nie, maar ’n messy, soms moeilike, maar tog altyd wonderbaarlike realiteit.
Janke Hurter gesels met Christo Nel
Joernaalinskrywing 1
Woensdag, 28 Augustus 2024
Toe ek my oë uitvee staan ek binne die speelgoedwinkel
Die speelgoedwinkel.
Hoofstuk 1: Ontdek die winkel.
Hoofstuk 2: Explore – Geniet die winkel.
…
Só beskryf ds Christo Nel van Riebeeckstad die eerste paar hoofstukke van sy “menslike boek”. Hier sit ek – leraar van ’n hoogs Afrikaanse gemeente, op ’n Woensdagmiddag, iewers op eMseni by die Slypskool vir skrywers 2024, besig om te luister na die ongelooflike storie van Nel.
Ek staan vir ’n oomblik verwonderd oor die netwerke wat oor interkulturele grense heen, in sy bediening te sien is. Ek dink vir ’n oomblik aan die Jeugweke waarvan Nel my vertel het. Jeugweke wat gehou word vir Afrikaanse en Engelse kinders omdat die demografie in Riebeeckstad so verander het. ’n Gemeente wat nie net in hulle gemeente ’n verskil wil maak nie, maar in die wyer gemeenskap ook. En, veral fokus op die ontwikkeling van ’n gemeenskapsgerigte jeugbediening.
Ek luister hoe Nel sy hoofstukke indeel en naamgee. Wat my veral opval is die vertrekpunt van Christo se “menslike boek”. Ontdek die winkel. En die daaropvolgende hoofstuk se titel wat lees Geniet die winkel. Ek kan nie help om ’n waardering te hoor in Nel se storie vir alles wat in hierdie speelgoedwinkel is nie. Ek hoor iets van om te besef wat voor jou is (om jou konteks te lees), dit te verstaan en die mooi daarvan te waardeer en te geniet. Ek hoor ’n fyn aanvoeling vir die groter gemeenskap waarin ons staan asook vir die diversiteit van daardie gemeenskap. En ’n besef dat jy en jou teenwoordigheid ’n geskenk is aan die wêreld.
Ek dink weer na oor Nel se storie, en wonder vir ’n oomblik oor die groter landskap van ’n interkulturele benadering tot jeugbediening binne die NG Kerk. Gelukkig vir my loop ek vir ds Anriëtte de Ridder, voorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan vir Kategese, en ds Wynand van Niekerk, lid van die Algemene Sinode Taakspan vir Kategese, ook hier op eMseni raak. In ’n gesprek vertel De Ridder dat die NG Kerk strukture in plek het wat multikultruele jeugbediening bevorder en aanmoedig. Sy het onder andere verwys na die navorsing wat rondom jongvolwassenes gedoen is, Kerk van die Toekoms; die aanpassing wat gemaak is in die aanbieding van KIX-groepe, en dan ook die VKO, wat kyk na vroeëkinderontwikkeling. “KIX” was voorheen die Kinderkrans van die NG Kerk en in 2007 het die naam verander na KIX: Kinders in Christus – Kliek hier vir meer inligting: https://kixkinders.co.za/wp-content/uploads/2022/05/Kix-inligtingstuk-vir-web.pdf.
Van die aanpassings wat sy genoem het wat deur die KIX-groepe gemaak is, is: die aanbied van KIX-geleenthede in gemeenskapsentrums soos skole in plaas van die kerkgebou en die aanpas van KIX-materiaal sodat dit bekostigbaar kan wees en kinders met geen kerklike agtergrond, of van ander denomisasies ook daarby kan aanklank vind. Terselfdertyd wil dit vir haar lyk of die navorsing oor ’n interkulturele benadering binne jeugbediening, min is.
Geroep om die geskenk van stories te ontvang
“Deur die skryf van my storie het ek genesing ontvang”, vertel Jean Pelser, ’n diensleraar by Fontainebleau Gemeenskapskerk, in ’n onlangse gesprek met Erick Zulch aan die hand van storievertelling as helende praktyk.
By vanjaar se Slypskool vir Skywers by eMseni, Kemptonpark, waar die konsep van die “menslike biblioteek” dien as vertrekpunt vir die skrywers, gesels ek met Pelser oor die waarde van stories skryf en vertel binne sy eie lewe. Wat my juis tot Jean as “boek” getrek het, is die feit dat hy al deelgeneem het aan ’n amptelike Human Library in Johannesburg (2018). Gepaardgaande hiermee, is Jean iemand wat al op ’n vroeë ouderdom oorsee verhuis het, verskeie ervarings as reisiger (of pelgrim) opgedoen het, en ook op hierdie reis te doen gehad het met geestesgesondheidsuitdagings en uitbranding – na so ’n sterk inleiding kon ek eenvoudig nie dié boek neersit nie. In die ryk gesprek, waartydens ons oor verskeie hoofstukke in Jean se lewe gesels het, is ek veral geïnteresseerd in sy opinie aangaande storievertelling as genesende praktyk. Die wonderlike ding van ’n menslike boek is dat hulle op jou vrae kan antwoord! “Lees” gerus saam:
Erick Zulch (EZ): Binne die raamwerk van trauma en ‘burnout’ – wat is jou gedagtes oor storievertelling as genesende praktyk?
Jean Pelser (JP): Dit wat jy oor storievertelling en die krag van storievertelling sê resoneer by my. Ek is al deur baie trauma in my lewe, veral wat deur uitbranding veroorsaak is. In baie van die plekke waar ek gewoon en gewerk het, het ek my stories gaan neerpen in hoofstukke.
Soos Jean die hoofstukke op sy skootrekenaar vir my wys, getiteld met geografiese merkers (Ch 1 Cambridge, Liminal – Klooster, Maldives, Maleisië, Saudi ens.), vertel hy:
JP: Ek het storievertelling gebruik om sin te maak van my ervarings, en om die ‘dots’ te ‘connect’ van my lewe.
EZ: Jean, as iemand wat by ’n gemeente werk, wonder ek hoe dink jy oor storievertelling in die kerk? As iemand wat betrokke is by ’n gemeente, asook iemand wie se storie van trauma, uitbranding en terapie verweef is met die kerk, is ek nuuskierig oor hoe jy sou dink oor ’n geloofsgemeenskap waar mense hulle stories kan kom vertel en hoe dit genesing kan bring?
JP: Ek was al deel van ’n ‘circle of trust’ by ’n geloofsgemeenskap waar mense bymekaar kom om hulle stories te vertel. In hierdie ‘circles’, ontwikkel deur Parker Palmer, word sekere ‘guidelines’ of luistergewoontes neergelê wat help om sulke vertel- en luisterspasies te fasiliteer. Dit is soms so dat ons in die kerk sukkel om na mekaar te luister – in ons saamwees is ons nie regtig saam nie. Iemand praat, want hulle wil net gehoor word, of iemand anders is nog besig om ’n storie te deel en word onderbreek deur iemand wat hulle eie storie wil vertel. Dit kan wel baie help om sekere riglyne te hê wat ons help om na mekaar te luister. Ek het al iets hieroor geskryf, op Facebook, oor die reël om in sulke spasies nie te ‘FRAPT’ (Fixing, Rescuing, Advising, Projecting, Telling) nie.
As student van die sielkunde het Jean uitgebrei oor die impak van narratiewe terapie, waarin ’n persoon se (her)vertelling van sy/haar storie kan bydra tot die helende proses. Met die herlees en hervertelling van hierdie hoofstukke in sy lewe, beleef hy dat hy “nou weer na eie storie kan kyk sonder ’n trauma response”, met die gepaardgaande giggelende opmerking dat dit nie beteken dat hy nou perfek is nie. “Deur die skryf van my storie het ek genesing ontvang,” voeg Jean by. Hierop reageer ek:
Dit laat my dink aan die Krotoa Herdenkingsnaweek wat ek onlangs by die Groote Kerk bygewoon het. Die hele naweek het ons geluister na stories van seer, slagofferskap en vervreemding. Hierdie stories het gestalte gevind binne die aanbieding of eerder vertelling van kuns, musiek, digkuns, die publisering van ’n boek (‘Krotoa – 350 Years – A celebration in verse’), en selfs die oprigting van ’n gedenksteen. Alhoewel dit soms moeilik was om na die stories te luister, het ons die gevoel gekry dat hier genesing plaasvind. My kollega, ds Riaan de Villiers, het dit vir my uitgewys dat die kerk geroep word om ’n plek te wees waar mense hulle stories kan kom vertel en in die gee en ontvang van daardie stories, genesing ervaar.
JP: Ek hou van wat jy sê om die storie te ontvang, ek dink dit is so kragtig om ’n storie te ontvang. Dit is eintlik wat gebeur wanneer ons luister na stories: ons ontvang ’n geskenk.
My gesprek met Pelser, asook die wysheid van my kollega, het my opnuut daaraan herinner dat ons geloofsgemeenskappe die uitdagende en wonderlike roeping het om luistergemeenskappe te wees.
SA se diep seer
Dit is geen geheim dat Suid-Afrika ’n land is met diepgaande seer, trauma en gevolglik verskeie uitdagings rondom geestesgesondheid beleef nie. Voortspruitend uit beide haar verlede van kolonialisme en die sistemiese verdrukking van miljoene mense in die Apartheidstelsel, asook in die huidige uitdagings rondom armoede, werkloosheid en voortdurende skeiding (ras, klas, kultuur en taal), dra die land swaar aan stories van seer en swaarkry. Dit is dus nie skokkende nuus dat 25,7% van Suid-Afrikaners waarskynlik met depressie lewe nie, soos verklaar in ’n onlangse publikasie van die Developmental Pathways for Health Research Unit (DPHRU). Binne die nouer konteks van kerklike kringe, word hierdie tendens ook opgemerk. Volgens ’n opname gedoen deur Neurozone by die onlangse Wes-Kaapse Sinodesitting, het ’n vyfde van die vergadering aangedui dat hulle tot ’n sekere mate persoonlik geraak is deur simptome van depressie en angs.
Na aanleiding van hierdie syfers, asook in gesprek met stories soos Pelser s’n, is dit duidelik dat daar nie net ’n nood is vir ruimtes waar mense hulle stories kan deel en na mekaar kan luister nie, maar dat geloofsgemeenskappe op spesiale wyse as luistergemeenskappe hierop kan en behoort te reageer.
Hendrien van Vliet gesels met Hennie van Rooyen
Die pad ná eenwording: Nie altyd maklik nie, maar die moeite werd
’n Gemeente wat eintlik nie moet bestaan nie, en ’n dominee wat dalk nie lyk soos wat hy moet lyk nie …
Dit is die prentjie wat geskep word wanneer ’n mens gesels met ds Hennie van Rooyen, predikant van NG Gemeente Brixton. ’n Gemeente in die middestad van Johannesburg, in ’n area wat ’n maalpot is van diversiteit, wat wonderlike geleenthede bied. Maar dit is ook ’n area wat sukkel met misdaad en sekuriteit. Dit is ’n gemeente wat volgens al die voorspellings rondom demografiese skuiwe in die area, eintlik toe moet wees, deure gesluit en lidmate verdeel in buurgemeentes. In die area waar Brixton bedien, het vier gemeentes stuk vir stuk so opgeëindig.
Vier gemeentes wat een geword het met Brixton-gemeente (om meer van Brixton-gemeente se reis tot op hede te lees kliek hier). Dit is ’n verhaal wat nie net Brixton raak nie, maar eintlik elke stad in Suid-Afrika. En elke middestadarea in Suid-Afrika het ook ’n verhaal van ’n gemeente wat dit tog nog op ’n manier maak werk. Vir Hennie was dit glad nie eens ’n vraag nie. Vir hom het dit uit en uit gegaan oor hoe ons die voetspoor van die kerk (in hierdie geval die NG Kerk) behou. Vandag is die gemeente nie net multikultureel nie, maar ook multinasionaal, wat mense verwelkom van Suid-Afrika, Zimbabwe, Malawi en selfs Colombia in Suid-Amerika. ’n Wye spektrum van ouderdomme voel ook welkom hier, van kinders en studente tot ouer mense.
Hennie se voorkoms wyk dalk af van stereotipes wat rondom dié van ’n middestadpredikant mag bestaan. Maar Hennie is Hennie. Vandag het hy ’n lekker paar Chino’s aan, blou hemp en sy kenmerkende blazer. Hy trek nog met elke nagmaal en doop sy toga aan, want dit is outentiek hy. En dit is vir hom van soveel groter waarde: om outentiek te bly teenoor homself, en ook teenoor sy mense. Hy meen dat kosmetiese verandering nooit werk nie, maar diepgaande, wesenlike hartsverandering doen soveel meer. ’n Mens kan nie anders as om net meer en meer te wil hoor hiervan nie, want in ’n era waar elke persoon nog ’n truuk of ’n kosmetiese “quick fix” probeer op tiktok of instagram, is dit verfrissend om te weet daar is iemand wat net homself probeer wees in ’n vinnig veranderende konteks.
Dit het ongelukkig nie sonder moeilikheid en seerkry gekom nie. Alhoewel die gemeente tans op ’n goeie plek is en Hennie elke keer ’n glinster in die oog kry as hy praat oor hoe dit ook sy plek is, was dit nie altyd so nie. Hennie het baie teenstand ervaar met die beginstadiums van sy unieke bediening. Hy pas nie noodwendig in die konvensionele “boksie” van dominee nie. Hy is ongetroud, het nie kinders nie, en woon al die tyd nog in Brixton. En toe hulle begin om mense van ander rasse, tale en denominasies te verwelkom by die gemeente, was daar ’n intense belewing van afwysing en verwerping, nie net van mense van ver nie, maar juis naby. Toe van die oudlidmate saam met Hennie begin beplan het oor hoe die pad moontlik vorentoe kan lyk in die laat 2000’s, was dit maklik. Maar toe dit in praktyk moet gebeur, was daar minder wat gebly het om die droom te bewaarheid. Hy het dit so sterk beleef dat hy begin vra het of hy en die gemeente die regte ding doen, want hy beleef teenstand van amper alle kante af.
“Ek het dit ervaar as planning is easy, but when the tyre hits the tar, not everyone is in the car.”
Wat die navorsing wys
Hennie se belewenis van teenstand is nie so uniek soos wat ’n mens wil erken nie. In die NG Kerk en die ewig veranderende landskap van Suid-Afrika, sien ons al meer samewerking tussen buurgemeentes, en selfs nog meer so onder NG kerke en ander denominasies. Maar ons sien minder eenwording. Die navorsing wys vir ons iets daarvan. Volgens die 2018 predikantepaneelvraelys, uitgestuur aan predikante en gemeentes, was die aantal gemeentes wat samesmelting met buurgemeentes oorweeg ter oorlewing 40%. In 2022 daal daardie syfer na 12,5%. Wat hierdie syfer beteken is nie so duidelik nie. Beteken dit dat dié wat dit oorweeg het, dit reeds reggekry het? Het die dominee afgetree en is oorlewing nie meer ’n kwessie nie? Of het die entoesiasme van die betrokkenes dalk ook gedaal? Die antwoord is nie duidelik nie, maar dit is duidelik dat die afname merkwaardig is.
Daar is wel ’n beduidende skuif na ’n wyer verstaan van wat dit beteken om kerk te wees, en meer spesifiek, NG Kerk te wees binne ons verskillende konstekste. In die 2023 jongpredikantepaneel, het 52% aangedui dat die NG Kerk oor die volgende 20 jaar samewerking met buurgemeentes en ander denominasies sou hê. Dit is ’n teken van die veranderende konteks, ja, maar selfs meer so, dat daar mense is soos Hennie, wat nie wegskram om die moeilike pad aan te pak nie. En dat Brixton uiteindelik nie net ’n unieke, diverse gemeente sal wees nie, maar ’n voorganger vir mooi verhale van eenwording en inklusiwiteit oor grense heen.