Die NG Kerk se 2030-droomscenario veronderstel gelyktydig die kerk waaraan ons wil behoort en verteenwoordig ook die kerk waarvan ons reeds deel is, berig Mias van Jaarsveld.
In Oktober van 2019 het ek in my bakkie geklim en Benoni toe gery.
Ek het as “jeugwaarnemer” die NG Kerk se Algemene Sinodesitting bygewoon. Rondom die tafels by eMseni-konferensiesentrum, het 30 ander waarnemers saam met die (ongeveer) 200 verteenwoordigers van die tien streeksinodes gesit.
Een van die vergadering se hoogtepunte was toe dr Marius Oosthuizen (Gordon Institute of Business Science, UP) en prof Kobus Schoeman (Fakulteit Teologie en Religie, UV) – albei is kundiges in hulle onderskeie velde – ’n scenario-beplanningsessie gefasiliteer het. Bewus van die uitdagings waarbinne gemeentes moet oorleef, het sinodegangers gewaag om te droom oor die toekoms van die NG Kerk. Kernwoorde is interaktief (via slimfoondeelname) geïdentifiseer, en hieruit is die 2030-droomscenario geformuleer.
Die droomscenario lui: Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes wat op voetsoolvlak vanuit God se liefde diensbaar is in ons gemeenskappe. Hierdie scenario is tydens die vergadering, asook by ’n Algemene Sinode Moderamen-byeenkoms goedgekeur.
Die scenario veronderstel gelyktydig die kerk waaraan ons wil behoort en verteenwoordig ook die kerk waarvan ons reeds deel is. Dit spreek gelyktydig die behoeftes van gemeentes aan, terwyl dit ook riglyne bied vir die toekoms van die kerk.
Daar was enkele persone (sommiges wat nie die vergadering bygewoon het nie) wat die intensie en inhoud van die 2030-droomscenario bevraagteken het. Basies kom dit op die volgende neer: Wanneer ons droom oor hoe die NG Kerk in 2030 moet lyk, is daar vyf areas waarop ons (meer) moet fokus, naamlik:
(1) Netwerke – NG gemeentes gaan (meer) moet saamwerk met en deelneem aan ekumeniese en ander gemeenskapsinisiatiewe;
(2) Inklusiwiteit – NG gemeentes gaan die veelkantigheid van die gemeenskap waarbinne hulle dien (meer) moet erken en ruimte maak vir diversiteit (ras, klas, taal, kultuur, ensovoorts);
(3) Voetsoolvlak – NG gemeentes gaan (meer) doelbewus betrokke moet wees in die plaaslike gemeenskap (daar waar hulle is met dit wat hulle het);
(4) Roepingsbewustheid – al die bedienings van NG gemeentes moet spruit uit hulle liefde vir, hulle verbondenheid aan en hulle dankbaarheid teenoor God; en
(5) Diensbaarheid – NG gemeentes moet (meer) ’n voorbeeld wees van opregte, onbaatsugtige diens en dienende leierskap.

Hierdie is nie buitengewone kenmerke of riglyne nie; trouens, daar is reeds talle NG gemeentes wat iets hiervan beliggaam. Die Algemene Taakspan Navorsing (ATN) het vyf sulke gemeentes geïdentifiseer, naamlik Parowvallei-Oos, Citrusdal, Riebeeckstad, Brixton en Witrivier. Hierdie gemeentes is toe die “nodusse van uitnemendheid” gedoop – dit is “plekke”, “knooppunte” of “interseksies” waar samewerking, inklusiwiteit, plaaslike betrokkenheid, roepingsbewustheid en diensbaarheid sigbaar is.
In Oktober van 2022 – drie jaar nadat die 2030-droomscenario geformuleer is – het ek weer in my bakkie geklim. Dié keer om die vyf nodusse te besoek. My reis het in Parow begin en in Witrivier geëindig. 2 500 kilometer later, in Bloemfontein, het ek die “nodusse van uitnemendheid”-verslag geskryf. Al vyf gemeentes het my op verskillende maniere beïndruk, maar daar is een gemeente waar ek definitief weer my bakkie sal wil parkeer, en dit is by Brixton Kerk.
Brixton lê net wes van Johannesburg se sentrale sakegebied. Op pad na Brixton Kerk, het ek verby die SAUK se uitsaaisentrum en die Universiteit van Johannesburg se kampus gery. Ek stop voor die kerk se kennisgewingmuur waarop staan: “Brixton Kerk/Church. Gered – Geseën – Gestuur. Saved – Sanctified – Sent.”
In die gemeente se kennisgewingmuur is vier granietblaaie gemonteer. “Dis hoekstene,” sê Hennie van Rooyen, die gemeente se leraar. Brixton Kerk is die enigste NG gemeente wat oorgebly het na hulle eenwording met NG Cottesloe en NG Johannesburg-Wes in 1993, met NG Langlaagte in 1996, en NG Crosby-Wes in 2004. Die ander kerkgeboue is verkoop na die ontvolking van wit, Afrikaanssprekendes uit Johannesburg se middestad.
“Jy moet liewer jou bakkie intrek. Al is ons ’n kerk, is ons nog steeds in Johannesburg,” maan Van Rooyen.
Voor ons onderhoud stel Van Rooyen my voor aan die terreinbestuurder, asook ’n paar vrywilligers wat besig is om kos voor te berei in die kerksaal. Hulle omhels mekaar en sê iets in Zoeloe. Soos ons deur die kerksaal stap, vertel Van Rooyen vir my dat Brixton Kerk die “home base” is van die Quava Vocal Group – die gemeenskapskoor wat onlangs aan ’n internasionale koorkompetisie in Spanje deelgeneem het en weggestap het met drie goue toekennings. “Hulle oefen hier, kuier hier en tree hier op,” vertel hy. Hy wys toe ook na die kunswerk agter in die saal. Dit was die inisiatief van die Nederlandse “collaboration” kunstenaar en Jesuïtiese priester, Jan Haen. “Dit is die Tree of life”, vertel Van Rooyen. Die hele gemeente is betrek met hierdie kunswerk, en vandag nog, as hulle in die saal kom, wys kinders na die blokkies op die muur en sê: “Ek het daai een geverf.”
“Die kerksaal is deel van ons getuienis na buite,” sê Van Rooyen. Die gemeente voel dat hulle fasiliteite hulle grootste bydrae in die gemeenskap is. Daar is altyd iets aan die gang by die kerksaal: buurtwagbyeenkomste, politieke vergaderings, gemeenskapsprojekte, kooroefeninge, konserte, boekbekendstellings, feeste (soos die Brixton Liggiefees en die Chinese gemeenskap se Nuwejaarvieringe), verjaarsdae, eksamens, jogaklasse, spyseniering, meditatiewe dienste, of kerkfunksies. “Die kerksaal het ’n ‘community hub’ geword. Hierdie gebou is gebou deur die gemeenskap vir die gemeenskap. We are part of the community. We have been blessed with this building. Anyone can use it – for free!”
Ek vra uit oor veiligheid. Volgens Van Rooyen is misdaad ’n werklikheid waarvan hulle al te bewus is. Maar die gemeenskap – die kerkgangers én nie-kerkgangers – is hulle goedgesind en baie beskermend oor die kerk se fasiliteite; veral omdat die kerk soveel terugploeg in die gemeenskap.
Buiten die eredienste op ’n Sondag, is die kerksaal ook die afhaalpunt van kospakkies vir gesinne in die gemeenskap wat finansieel sukkel – iets wat reeds voor die Covid-19-pandemie deel was van hulle bediening. Die gemeente is ook ’n lid van die Brixton Community Forum wat gereeld uitreik na die omgewing, kos maak en rommel optel.
Toe ek en Van Rooyen in die konsistorie gaan sit, verduidelik ek vir hom waarom ek by Brixton Kerk kuier. Hy was verbaas en sê dat hy nooit Brixton Kerk “uitnemend” sou noem nie – hulle is alles behalwe perfek! Soos enige ander gemeente sukkel hulle ook met lidmate, finansies, kansvatters en sekuriteit. Hulle probeer net hulle bes om die gemeenskap te dien en om relevant te bly. “Dalk is dit die punt,” antwoord ek. “Vertel my asseblief julle storie.”
LEES OOK | Nadia Marais skryf: Die geskenk van die donker
Oorspronklik was Brixton ’n wit, werkersklas woongebied. Deesdae word dit as ’n lae-inkomste woongebied beskou. Vanweë sy ligging naby aan die middestad, die treinstasie en die Universiteit van Johannesburg, woon daar vandag ’n groot aantal immigrante en studente uit ander Afrikalande en Asië. Dus is Brixton ’n mosaïek van verskillende tale, kulture, rasse, nasionaliteite en gelowe. In ’n area wat wemel van diversiteit het die kleinerwordende gemeente besef dat hulle nuut moet dink oor hulle rol in die gemeenskap. Hulle moes groot kopskuiwe oor hulle bediening maak – nie omdat hulle noodwendig wou nie, maar omdat hulle moes.
In 2010 het die kerkraad op ’n retraite gegaan. ’n Verkleinde kerkraad (of “bedieningsleiers”) is gekies en ingedeel volgens hulle gawes (admin, bemoediging, gebed, erediens, finansies, barmhartigheid/insameling, instandhouding, jeug, seniors en uitreik/gemeenskap). Hulle het ook besluit om oop en inklusief te wees vir alle mense, met die gevolg dat Engels toenemend as voertaal gebruik is in hulle eredienste. Hoewel die inhoud van die preke en die liturgie nog gereformeerd is, lyk die erediensbywoners anders as dié van ’n gemiddelde NG gemeente. Nie net val die 60 dogters van die bekende Abraham Kriel Bambanani-kinderhuis onder hulle toesig nie, maar die dienste word ook bygewoon deur immigrante, vlugtelinge, straatmense, werklose mense, studente, kleinsake-eienaars, mense wat glad nie Engels of Afrikaans verstaan nie, ongetroudes, geskeides, weduwees, saamgestelde gesinne, queer mense, mense wat kwaad is vir die kerk en mense wat nuuskierig is oor die Christelike geloof.
Na die aftrede van een van die gemeentes se leraars in 2012, is ’n Presbiteriaanse evangelis van Zimbabwe aangestel om uitreike na die oorwegend swart gemeenskap te fasiliteer. Hoewel hulle steeds ’n NG gemeente is, het die gemeente in 2014 hulle naam na Brixton Kerk/Church verander, met die trefwoorde “Gered – Geseën – Gestuur/Saved – Sanctified – Sent” as leuse. In 2016 is die evangelis weens ongerymdhede afgedank, en toe die bedieningsleiers die moontlikheid om weer ’n swart leraar te beroep ondersoek, het die gemeente hulle verras en gesê: “Why do you think we need a black person for black ministry, when we are an inclusive church? You are our pastor, Hennie.” Sedertien bedien Hennie die gemeente alleen.
LEES OOK: Christo Lombaard skryf: ’n Denkelose geloof is nóg Bybels nóg Christelik
Die kerkraad het uitgereik na nabye NG gemeentes om die 2030-droomscenario op ’n wyer vlak te vestig, maar hierdie pogings het nog geen traksie gevind nie. Brixton Kerk werk egter nou saam met hulle buurgemeentes van ander denominasies wat insluit die St Augustine Anglican Parish, die Mayfair Baptist Church, die Mayfair Presbyterian, Crosby Full Gospel Church en die Heilsleër. Hierdie ekumeniese verhouding het die deur oopgemaak vir oorsese besoekers. Dit sluit die bekende Nederlandse priester en kunstenaar Jan Haen in, wat die gemeenskap betrek het toe hy die unieke kunswerke in die kerkgebou en kerksaal ontwerp het. ’n Indrukwekkende kunswerk van die bekroonde kunstenaar, Gordon Froud, pryk op die dak aan weerskante van die toring. Die gemeente sien dit as sterre van lig en hoop.
Brixton Kerk beskou hulleself as ’n vennoot in die gemeenskap. Hulle is aktief betrokke in en ook beskikbaar vir die hele gemeenskap. In ’n area wat baie sangomas en kwaksalwers huisves, is pastorale versorging uiters uitdagend, maar omdat die gemeenskap vir Hennie vertrou, kom sien hulle hom gereeld. Bo en behalwe vir die eredienste en pastorale betrokkenheid in die gemeenskap, akkommodeer hulle graag gemeenskapsbyeenkomste in hulle kerkgebou en kerksaal.
Om finansieel te oorleef aan die rand van Johannesburg se middestad, moes die gemeente planne maak. Selfoontorings is opgerig, hulle verhuur hulle eiendomme uit op AirBnB, en hulle het ook onlangs betrokke geraak by ’n gemeenskapsprojek wat fokus op die opvoeding van minderbevoorregte kinders. In hulle kerksaal is daar nou ’n studio ingerig (“DorKk Studios”) vir ’n groep wat besig is om die skoolkurrikulum op te neem vir kinders wat nie altyd toegang het tot akademiese hulpmiddels of ekstra klasse nie.
Brixton Kerk is baie beskeie oor die werk wat hulle in die gemeenskap doen. Dalk is dit die geheim vir hulle sukses – die feit dat hulle onder die radar die gemeenskap sonder enige voorwaardes dien. As ’n mens sukses sou meet in terme van getalle en finansies, sou jy dink dat Brixton Kerk uiters onsuksesvol is. As ’n mens egter sukses sou meet in diep, betekenisvolle verhoudings, ’n sigbare impak op die gemeenskap, gesonde verhoudings oor ras- en kultuurgrense heen, en die respek van die hele gemeenskap, sou hierdie klein gemeente in die hartjie van Johannesburg klassifiseer as ’n uiters suksesvolle gemeente. Hulle is ’n voorbeeld vir alle gemeentes wat nie weet hoe om te oorleef in die veranderende konteks nie. Die feit dat die gemeente hande gevat met die hele gemeenskap – immigrante, vlugtelinge, weeskinders, haweloses, vreemdelinge – is inspirerend en getuig van hulle integriteit en roepingsbewustheid. Hulle is nie net radikaal inklusief nie, maar ook ’n voorbeeld van hoe kerkwees kan lyk wanneer die omstandighede handomkeer verander.
Na ons onderhoud het ek vir Van Rooyen gesê: “Julle gee vir my hoop vir die toekoms van die Kerk.” In die kort tydjie wat ek saam met hom spandeer het, het ek verlief geraak op Brixton Kerk. Wie sou kon dink dat ’n klein middestadsgemeente die bron van soveel hoop sou wees? Toe ek ry, dink ek weer aan die bewoording van die 2030-droomscenario. “Ons droom van ’n netwerk van inklusiewe gemeentes wat op voetsoolvlak vanuit God se liefde diensbaar is in ons gemeenskappe.”
Dit is Brixton Kerk uitgeknip.
Dr Mias van Jaarsveld is redakteur by die Christelike Lektuurfonds (CLF) op Wellington.


