Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Proff Kobus Schoeman en Cobus van Wyngaard, drr Pieter van der Walt en Lourens Bosman skryf: Die brief van ds Dubois du Toit “Oor die droom-scenario van die kerk” het betrekking.
Dit is jammer dat ds Du Toit nie die moeite gedoen het om hom van die feite te vergewis oor die proses waarvolgens die scenariobeplanning gedoen is en die werk wat deur die AS gedoen word nie.
Die 2019 Droomscenario is nie deur ’n taakspan ontwikkel nie, maar is tydens die vergadering van die AS deur die stemgeregtigde afgevaardigdes van die sinode geformuleer. Die Taakspan Navorsing (nie Kerkverband nie) het wel bepaalde voorbereidende werk gedoen. Dit het fokusgroepgesprekke, lesersopnames in Kerkbode en ’n refleksie op die uitsette deur kundige lidmate behels. Die scenario het vanuit die kerk self na vore gekom in ’n openbare en deursigtige proses.
LEES OOK: Oor ‘droom-scenario vir NG Kerk’
Die oogmerk van die Droomscenario is om, binne die roeping van die kerk, deel te wees van die drie-enige God se missie in die wêreld en so gestalte aan werksaamhede van die kerk en gemeentes te gee. Dit is verskeie kere deur die kerk bevestig as haar verstaan van God se opdrag aan sy kerk. Dit sluit onder andere dade van deernis en die doen van wat reg is in.
Wat die “evangeliese ywer” van die kerk aanbetref: die werkgroep vir Evangelisasie van die AS was instrumenteel in die aanbied van ’n VBO-kursus oor evangelisasie, ’n reeks artikels (Deel 1, Deel 2, Deel 3, Deel 4) wat in Kerkbode verskyn het en die instel van evangelisasie-opleiding by ten minste een van die opleidingsinsansies vir kerkeie opleiding. Die AS het ook met die Sinode van Wes-Kaap saamgewerk aan die ontwikkeling van ’n evangelisasieveldtog vir gemeentes: “Vertel – Deel die Goeie Nuus”.
Wat ekumeniese skakeling en samewerking op gemeentevlak betref, is dit nodig om op te merk dat die NCLS-opname wat in 2018 onder meer as 6 800 lidmate gedoen is, toon dat 94,8% aandui dat die gelowiges van alle kerke saam behoort te staan om die land op te bou. Hierdie behoefte is bevestig in die opnames wat in Kerkbode in 2019 gedoen is.
LEES OOK: ‘Pasop vir hierdie foute in kritiek teen Algemene Sinode se visiedokument’
Oorhaastige suspisie oor die Droomscenario moet eerder ruimte maak om te luister hoe lidmate die volle evangelie hoor. Evangelisasie, om te werk vir geregtigheid, sorg vir dié wat swaarkry en om brûe te bou tussen gelowiges van verskillende kerke is nie sake wat teologies teenoor mekaar staan nie. Dit staan ook nie teenoor mekaar vir ons lidmate nie, maar is eerder verskillende elemente van God se opdrag aan sy kerk.
Besluite en standpunte van die AS, en in die reses, die ASM, word geneem deur dominees en kerkraadslede wat deur hulle sinodes afgevaardig word. Die AS kom uit die NG Kerk en behoort aan die kerk. Die Droomscenario van die AS is daarom geen verrassing nie. Dit is ten nouste verweef met die geloofsoortuigings van lidmate oor die roeping van die NG Kerk in Suider-Afrika vir die jare wat kom.

Volgens dr Jan Lubbe vanoggend op Netwerk24 het Droomscenario 2030 sedert 2015 in die NGK vorm aangeneem en het die Algemene Sinode dit in 2019 goedgekeur. Kan die lede van hierdie “werkgroep” vir ons sê wie aan hulle die opdrag daartoe gegee het en waar die Algemene Sinode, soos beweer, dit goedgekeur het. Die waarheid is dat die ASM in 2018, sonder opdrag van die Algemene Sinode, hierdie opdrag aan die Taakspan Navorsing gegee het. Dit is weer een van die “schemes” wat deur die “schemers” in die kerkverband uitgedink is en waarmee hulle die hele kerk, sonder dat daarvoor op kerkordelike wyse gevra is, op loop neem en op hol jaag. Dit is onwaar dat die Algemene Sinode in 2019 die daarstel van Droom Scenario 2030 as sodanig goedgekeur het en die opstellers is duidelik op hulle eie missie op koste en ten koste van die NG Kerk! So het dit ook met die selfdegelagverbintenis-kwessie gegaan. Die NG Kerk in algemene sinodale verband het nou reeds geruime tyd die speelplek geword van individue wat die kerklike strukture vir hulle eie agendas en voordeel gebruik.