Evangelisasie in gemeentes: Programme versus kultuur | DIE NG KERK EN EVANGELISASIE DEEL 4

AFLEWERING 4 UIT 4

Soms gebeur dit in gemeentes dat ’n entoesiastiese groepie lidmate evangelisasie doen of dat die gemeente ’n spesifieke program of veldtog oor evangelisasie doen. Hierdie kan die persepsie of gerustheid skep dat die gemeente wel evangelisasie doen. Bliese en Van Gelder noem dit ’n ernstige reduksie en selfs die doodsteek van evangelisasie (The evangelizing church, p 114-115). Hulle maak eerder ’n sterk saak uit vir die ontwaking van ’n evangeliserende kerkkultuur wat gemeentes op alle vlakke deurdrenk.

Wat behels dit prakties? Dit beteken dat evangelisasie nie ’n byvoeging in oorvol programme is nie, maar gewortel is in die hart van ons missionale identiteit en roeping. Evangelisasie is dan deel van die gemeentekultuur wat oor die oortuigings, denke, gedrag, waardes en praktyke van die missionale gemeente as evangelis gaan. Die gemeente neem deel aan die missie van die drie-enige God wat nuwe lewe en volheid bring. Die hele gemeente en elke lidmaat is dan ’n gestuurde wat die goeie nuus in al sy dimensies deel met mense wat dit nie ken nie of daarvan vervreemd is. Dit is ’n opwindende voorreg en roeping in ons huidige post-Christendom en post-pandemie konteks. (Lees gerus hoe mooi dit verwoord is in ons Kerkorde by artikel 2 en 53 en in reglement 25 oor die gestuurdheid van die kerk.)

’n Kultuur van evangelisasie beteken dat ons as geloofsfamilie saamkom om die Goeie Nuus in God se teenwoordigheid te vier! Ons identiteit as gestuurdes word opnuut bevestig en ons lewe opnuut belyn met die werklikheid van God se heerskappy. Sodoende leef ons “in pas” met die lewende God. God se liefdesbeweging na ander inspireer ons, ons word gedring deur die liefde van God, met die dienende gesindheid van Christus en in die krag van die Gees. Dit doen ons saam as medegelowiges en in ons persoonlike daaglikse lewe.

Om vanuit die Goeie Nuus te leef, is ’n opwindende avontuur en open verrassende nuwe moontlikhede. Ons beliggaam die Goeie Nuus in ons gebroke situasie en onderskei in die geloof waar ons by God se werk kan aansluit om deur praktiese dade tekens van hoop te wees. Verder is ons oop vir geleenthede wat die Gees ons gee om te vertel van die Goeie Nuus en die hoop wat in ons leef (1 Pet 3:15). Dit doen ons in verhoudinge en gesprekke wat gebou is op respek, nederigheid, luister en vertroue. Elkeen doen dit op ’n manier wat pas by ons unieke persoonlikheid, gawes en verhale.

’n Evangeliserende kultuur is oop en gasvry. Dit reik uit na vreemde mense, bou verhoudinge, nooi hulle in en ontvang hulle gasvry in die geloofsfamilie. Hier kan hulle tuiskom en sien en beleef wat dit beteken om Jesus prakties te volg. Hierdie kultuur bring ’n nuwe dinamika en energeer gemeentes en lidmate om met ’n verwagting voor die lewende Here te leef en om deel te neem aan die kreatiewe werk van die Gees.

Is daar nog plek vir programme in ’n evangelisasiekultuur? Ek dink eredienste gaan al hoe meer ’n kritiese rol speel om die hele gemeente te inspireer en toe te rus vir hulle dienswerk. Binne ’n evangelisasiekultuur is daar wel ruimte om gelowiges verder toe te rus met gepaste programme. Dit is noodsaaklik dat hierdie programme se inhoud en styl belyn sal wees met die Goeie Nuus en grondvat in die leefwêreld van mense en die plaaslike konteks. Anders doen dit skade aan mense se belewing van die Goeie Nuus. Indien hierdie weg gevolg word, is programme nie ’n byvoeging (“add on”) nie, maar ’n uitvloeisel van ’n evangelisasiekultuur in gemeentes.

    • Hierdie reeks is gebore uit bydraes by ’n kursus getiteld “Die verleentheid van die e-woord” en word in samewerking met die Algemene Sinode se Werkgroep vir Evangelisasie gepubliseer.
  • Ds Frikkie Coetzee is ’n leraar by Lux Mundi Gemeente.
Word 'n vriend van Kerkbode