Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Evangelisasie – ’n nuwe konteks | DIE NG KERK EN EVANGELISASIE Deel 2

AFLEWERING 2 UIT 4

’n Groot rede vir ons huidige verleentheid met evangelisasie is die radikaal nuwe wêreld waarin ons onsself bevind. Charles Taylor beweer dat ons almal leef in ’n sekulêre (dog intens geestelike) werklikheid waar almal sit met wat hy noem ’n spontaneous secular imagination. Met secular bedoel hy nie dat die wêreld nou geloofloos of Godloos is nie. Inteendeel. Hy bedoel eerder dat daar nou ’n groot verskeidenheid spirituele opsies op die spyskaart is. Die Christelike geloof is lankal nie meer die enigste hoofdis nie. Hy bedoel dat geloof en die spirituele uit die openbare oog verwyder en oorgedra word na private sfere waar individue persoonlik kan glo wat hulle wil. Dit skep probleme aangesien evangelisasie in ’n sekere sin ’n semi-openbare aangeleentheid is waar jou geloof uit die private sfeer gelig word en gedeel word met iemand anders.

Lees ook die eerste aflewering in die reeks: Die ‘verleentheid’ van die e-woord | Die NG Kerk en evangelisasie

Met spontaneous imagination beweer Taylor dat die fondasie van ons ganse bewussyn en denke nou anders werk as ooit tevore. Almal van ons asem elke dag die atmosfeer van sekularisme in. Ons kop werk dus sekulêr. Selfs ons wat glo, glo ánders as voorheen. Daar is nou ’n permanente staat van twyfel onderliggend aan alles wat ons glo, sê, doen en aanpak. Dit geld vir almal. Selfs ateïste twyfel nou in hulle ateïsme. Let wel dat Taylor nie bedoel dat gelowiges nou bloot sekere sekulêre oortuigings huldig nie, maar dat mense se oortuigings juis gevorm word as gevolg van die sekulêre atmosfeer wat rééds in hulle geestelike bloedstroom opgeneem is! Dit gebeur op ’n onsigbare vlak onder die oppervlak van ons bewuste denke. Dit het deel geword van ons geestelike genetika. Hierdie nuwe sekulêre verbeelding bring saam met hom ’n hele spul neweprodukte soos individualisme, ’n wegbeweeg van sekerhede en waarheid, relativisme, sinkretisme, toenemende vertroue in tegnologie en algoritmes, verwering van maar behoefte aan egte verhoudings, asook nihilisme en die gevoel van hopeloosheid en waardeloosheid as mense.

Veral drie merkers is belangrik:

In so ’n wêreld sal ons eerstens weer ’n denkende geloof en evangelisasiestyl moet ontwikkel om ons geloof te kan handhaaf in die openbare arena. Lesslie Newbigin het in die tagtigerjare reeds daarop gewys dat daar ’n kloof bestaan tussen die openbare en private sfere van ons Westerse bestaan. Die openbare is die intellektuele sfeer van “feite” terwyl die private sfeer die arena van “waardes” en geloofsoortuigings is. Vanweë tegnologie en die sosiale media is ons meer gepolariseerd as ooit tevore omdat ons private geestelike lewe nou beweeg het na die openbare arena toe. Hier kan duisende mense ons eens private oortuigings nou op Facebook of Instagram lees en beoordeel. Ons is nie gerat hiervoor nie. Om ons persoonlike oortuigings met grasie in die openbaar te verwoord op maniere wat sin maak in die openbare arena, is vermoëns wat die kerk nog moet aanleer. Ons hoef geen kernwaardes van ons geloof prys te gee nie, maar ons sal moet hard en nuut dink aan hóé ons ons historiese belydenisse behoort te inkarneer in taal wat sin maak vir die hedendaagse mens. Resepmatige formulerings sal moet plek maak vir kreatiewe metafore en vergelykings asook inklusiewe en dinamiese gesprekvoering oor wêreldbeskouings.

Tweedens is kontak deur verhoudings uitermate belangrik. Buitestanders is skepties en selfs sinies oor die kerk. Onpersoonlike metodes van evangelisasie werk al lankal nie meer nie. Die kerk sal haar lidmate moet leer om te hou van vreemdelinge en om spontane vriendskappe en verhoudings te kweek en te onderhou met nie-gelowiges. Ons sal moet aanleer hoe om spontaan oor ons geloof te praat en dit te integreer in ons alledaagse interaksie met ons bure.

Radikaal gasvrye gemeentes gaan, derdens, van kernagtige belang wees. Die plaaslike gemeente is steeds die hermeneutiek van die evangelie, aldus Newbigin. Gemeentes gaan rigiede en stywe kulture moet aflê en kulture van hartlike gasvryheid moet kweek waar mense ongehinderd kan behoort, reeds voordat hulle glo (First belong, then believe).

    • Hierdie reeks is gebore uit bydraes by ’n kursus getiteld “Die verleentheid van die e-woord” en word in samewerking met die Algemene Sinode se Werkgroep vir Evangelisasie gepubliseer.
  • Dr Roedolf Botha is ’n leraar by NG Gemeente Oosterlig.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top