Aflewering 1 uit 4
Die NG Kerk het ’n ryk en lang tradisie van evangelisasie wat teruggaan na die Pinksterherlewings van die 1860’s en die Skotse evangeliese invloed van Andrew Murray en ander leiers. Meer onlangs was daar die Jeug-tot-Jeug-Aksie van die 1970’s, wat grootliks daartoe bygedra het dat honderde jongmense teologie gaan studeer het.
Tans wil dit voorkom asof hierdie proses oor ’n breë front binne gemeentes tot stilstand gekom het, ten spyte van voortreflike verslae wat in 2007 (Bediening aan kerklos lidmate en evangelisasie) en 2011 (Gespreksdokument oor evangelisasie) voor die Algemene Sinode gedien het. Hierin is dit selfs in die vooruitsig gestel dat ’n “Seisoen van Evangelisasie” in die lewe geroep moet word. Tot dusver het niks hiervan gekom nie.
Lees ook: Queer hermeneutiek: Wie word geraak deur hoe ons dink?
In sy boek, Transforming mission, het David Bosch aangetoon dat in beide die Katolieke as die Protestantse kerke evangelisasie van tyd tot tyd op die agtergrond geskuif word en daarna weer in die fokus kom.
Die Werkgroep vir Evangelisasie het vroeër vanjaar twee sessies op die Hugenote Kollege se platform oor die teorie en praktyk van evangelisasie aangebied met die tema “Die verleentheid van die e-woord”. Hierdie was ’n poging om predikante en gemeentes opnuut bewus te maak van die belang van evangelisasie in die lewe van ’n gemeente. Die vraag is: Hoe belangrik is dit vir die bestaan en die lewe van ’n gemeente? Kan dit bloot as een van vele bedieninge beskou word?
Lees ook: PEN se mooi storie oor 30 jaar was nie sonder pyn nie
Verskeie teoloë wys daarop dat die hart van missionaliteit in evangelisasie geleë is. Die NG Kerk het amptelik vir ’n missionale ekklesiologie gekies en dit is ondenkbaar dat die saak van evangelisasie dan nie tot sy reg sal kom nie. Evangelisasie lê in die sentrum van ’n gemeente se bediening.
Uiteraard hou dissipelskap ook hiermee verband. Vantevore is dissipelskap en evangelisasie dikwels van mekaar losgemaak, maar vandag word al meer besef dat evangelisasie ten diepste die uitnodiging tot dissipelskap is. Evangelisasie is veel méér as die uitnodiging tot ’n beslissing vir Jesus. Dit behels die uitnodiging om ’n lewenslange en toegewyde navolger van Jesus, die opgestane Here, te wees. Evangelisasie vra nie maar net of iemand in Jesus glo of nie glo nie.
Die noodsaak van evangelisasie binne ’n missionale ekklesiologie is ’n gegewe, maar ons verstaan of definisie daarvan vra genuanseerde oorweging. Dit is egter juis op hierdie punt wat ’n mens jou vasloop teen ’n magdom beskrywings. Bosch verwys na David Barrett wat nie minder nie as 79 definisies in die literatuurlys het! Hyself som evangelisasie as volg op:
Lees ook: ‘Die gesprek oor barmhartigheid begin by wie God is …’
Evangelisasie is daardie dimensie en aktiwiteit van die kerk, deur woord en daad, en in die lig van spesifieke omstandighede en kontekste, wat daarop gerig is om aan elke persoon en gemeenskap, oral, ’n egte geleentheid te bied om deur die evangelie uitgedaag te word tot ’n radikale heroriëntering van hulle lewe wat die volgende inhou: bevryding van die slawerny van die wêreld en sy magte, die aanvaarding van Christus as die Verlosser en Here, die inskakeling by die gemeenskap van gelowiges en die betrokke raak by die kerk se bediening van versoening, vrede en geregtigheid op aarde, en om verbind te raak aan God se plan, naamlik om alles onder die heerskappy van Christus te plaas.
Die uitdaging is dus om wyer te dink oor evangelisasie as wat daar in die verlede gedink is danksy sekere evangelisasiekursusse wat bloot op ’n beslissing afgestem is met slegs die oog op die hiernamaals. Wat ook duidelik word, is dat evangelisasie ten diepste ’n uitnodiging is.
- Hierdie reeks is gebore uit bydraes by ’n kursus getiteld “Die verleentheid van die e-woord” en word in samewerking met die Algemene Sinode se Werkgroep vir Evangelisasie gepubliseer.
- Ds Leon Westhof is ’n leraar by NG Gemeente Elarduspark.
