Queer hermeneutiek: Wie word geraak deur hoe ons dink?

Marileen Steyn gesels met proff Julie Claassens en Jeremy Punt oor queer hermeneutiek en die implikasies daarvan vir ons almal se liggaam.

Meer as net ’n brein

Ek is ’n liggaam. Soos wat ek hierdie artikel skryf, is ek nie net ’n brein nie, maar ’n liggaam wat frons, ’n liggaam wat tik, ’n liggaam wat my kop draai soos wat ek probeer dink. Dit is onmoontlik om my brein van my liggaam te skei. As jy my wil verstaan, moet jy nie net kyk na wat ek dink nie, maar hoe ek as liggaam deur hierdie lewe beweeg.

Hierdie liggaam is dié van ’n vrou en ek identifiseer as ’n vrou. Vrou-wees (of dan nou meisie-wees) is een van die eerste goed wat ek oor myself geleer het en dit bepaal hoe ek met my liggaam (brein ingesluit) in hierdie wêreld beweeg. Jy kan nie my liggaam en my gender (hier verwysende na beide my fisiese vroulikheid en vroulike identiteit) skei nie.

Lees ook: Hoe rou ons nou? | Oor begrafnisse tydens die pandemie

Ek is ook nie vrou in ’n vakuum nie. Ek het grootgeword in ’n samelewing wat my nie net vertel het dat ek ’n vrou is nie, maar wat my ook geleer het wat dit beteken. My lang bruin hare, my romp, my hakskoene en grimering word goedgekeur deur die grootste deel van die samelewing wat vir my sê dat dit vroulikheid verteenwoordig. Sou ek ’n man wees, sou dit veel meer kontroversie veroorsaak het. Daarmee saam het die samelewing my werk bepaal. Indien ek vroeër gebore sou wees, sou ek beswaarlik teologie kon studeer of my stem in ’n openbare forum soos ’n koerant kon laat hoor. Tot ’n groot mate is ek, sowel as my vrou-wees en liggaam, ’n produk van die samelewing waarin ek myself bevind.

Liggaam. Gender. Samelewing.

Hierdie drie aspekte van wie ek is, is so afhanklik van mekaar dat dit onmoontlik is om dit van mekaar te skei. So hoekom sal ons hierdie elemente van mekaar probeer skei wanneer ons oor onsself, ander en die samelewing dink? Selfs nog meer: Hoekom sal ons die liggame in die Bybel wou skei van hulle gender en oriëntasie, sowel as die samelewing wat hulle gevorm het?

Queer hermeneutiek

In 2014 sit ek in ’n vertrek in Amsterdam saam met sowat 13 ander mense. Drie van ons is Suid-Afrikaners. Die res is van Kuba, Colombië, Hongarye, die Oekraïne, Mosambiek, Myanmar, Indonesië en Nederland. Ons lees almal dieselfde verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou en sê dan hoe ons die teks interpreteer. Daardie dag het ek interpretasies van die teks gehoor wat ek nog nooit in my lewe gehoor het nie. Daardie dag is ek herinner dat ons na die liggame van die Bybelse karakters kyk deur die lens van ons eie liggaam (en alles wat daarmee saamgaan).

Die proses waardeur ons vanuit ons liggaam na die stories van die liggame in die Bybel kyk, staan as hermeneutiek (of interpretasie) bekend. Die lense waardeur ons kyk, beïnvloed hoe ons die storie sien. Ons het almal lense waardeur ons kyk, juis omdat ons nie net breine is nie. En saam met die lense wat ons outomaties het (byvoorbeeld ons geslag of ons kultuur) is daar ander lense wat ons help om die Bybel beter te verstaan.

Lees ook: Tema van konferensie by universiteit ontstel

Een van hierdie lense, is queer hermeneutiek. Ek het met proff Julie Claassens en Jeremy Punt gaan gesels oor wat queer hermeneutiek presies is en hoekom dit van waarde vir teologiestudente, maar ook vir elkeen van ons is. Claassens en Punt is onderskeidelik dosent in Ou- en Nuwe-Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch en sluit queer hermeneutiek by hulle modules in as een van die vele moontlike lense waardeur ’n mens die Bybel kan lees.

Hierdie insluiting van queer hermeneutiek is vir sommige ’n teer saak. So dit is dan des te meer belangrik om presies te verstaan waaroor ons praat.

Die woorde ‘queer hermeneutiek’ vat die meeste van ons dadelik na die LGBTQI+-gemeenskap. En tereg. Claassens vertel hoe die woord ‘queer’, wat tradisioneel ‘anders’ of ‘vreemd’ beteken, eers gebruik is as ’n neerhalende term om na mense van die LGBTQI+-gemeenskap te verwys. In die 60’s het dié gemeenskap die term geëien om te bevestig dat die lewe nie in binêre uiterstes geskei is nie en dat daar baie mense is wat op ’n spektrum buite die boks lewe.

Die gevolg is dat daar aanvaar word dat ‘queer hermeneutiek’ alleenlik na die belange van ’n enkele groep kyk, sê Punt. Dit is egter nie die geval nie. Queer, verduidelik Claassens, het intussen gegroei om enigiets of enigiemand in te sluit wat buite die ‘norm’ val, hetsy dit kragtens ras, klas, gender of seksuele identiteit is. Punt vat dit selfs verder. Hy verduidelik dat queer hermeneutiek twee goed vra: (1) Watter patrone is daar in die manier waarop gender en oriëntasie uitspeel? (2) Watter magstrukture word hierdeur ondersteun of ondermyn?

Die implikasie is dat queer hermeneutiek my nie net vertel van die ander nie, maar ook van myself. Hoekom is ek die tipe vrou wat ek is? Hoekom dink en gebruik ek my liggaam volgens ’n bepaalde manier? En hoekom dink ek soos wat ek dink oor ander mense se liggaam?

Meer as net reël(ing)s

Ons gedagtes oor ons eie en ander se liggaam is nie net denke nie, maar speel uit in ons liggaam in die alledaagse.

Die ander dag speel ek frisbee met die tieners. ’n Hele groep seuns het tussen ons drie meisies deurgevleg en vir mekaar die frisbee gegooi terwyl ons heel gewillig saam gedraf het. Ewe skielik stop een van die Graad 10s die spel. “Van nou af”, verklaar hy, “kry ’n span twee punte in plaas van een as dit ’n meisie is wat die doel aanteken.” Hierdie handeling van dié blondekop was meer as net ’n reël. Vir ons meisies was dit die begin van ’n spel waarby ons meer betrokke kon wees.

Lees ook: Nadia Marais: Geseënd is die kinders

Want ’n reëling of ’n reël het telkens verreikende gevolge vir wie saam mag speel en wie nie. Queer hermeneutiek kyk juis (op ’n groter vlak) hierna. Watter liggame speel saam? Watter rolle speel hulle? En as gevolg van watter reëls?

Wat ek klokhelder by Claassens hoor is dat ons nie bloot kan praat oor wat ons dink sonder om ook oor ander se liggaam te praat nie. Ons kan nie praat oor wat ons dink in die samelewing moet gebeur sonder om ook te reflekteer oor wie daardeur geraak word nie. Ons lense en die reëls wat daaruit vloei bepaal die mate waartoe ander liggame kan saamspeel.

Claassens vra-sê: “Wat sê dit van ons as ons wil hê dat ons studente by die APK moet studeer? (met verwysing na ’n onlangse voorstel vanuit die geledere van Kairos Netwerk). Wat sê dit van ons as ons wil hê dat ons studente by die Gereformeerde Kerk moet studeer?” Hierdie vrae vra sy nie koel en kalm nie, maar verontwaardig omdat hierdie aanbevelings swart, bruin en vroulike liggame summier sal uitsluit. Want hier gaan dit oor meer as net ’n reëling oor waar mense studeer. Dit gaan ook oor wie mag studeer.

As ek luister na die geesdrif waarmee Claassens oor die tema praat, besef ek dat queer hermeneutiek se insluiting as een van ons lense ook nie ’n wat saak is nie, maar ’n wie saak. Dit is nie net ’n teorie nie, maar ’n verbintenis om ruimte te maak sodat hulle wat buite die norm val, kan saamspeel.

So what?

So, wat het queer hermeneutiek en sy fokus op ons liggaam, gender en samelewing ooit met ons geloof te doen? Is dit nie bloot ’n politiese saak nie? Vir beide Claassens en Punt is dit definitief ’n saak van geloof. Claassens praat van queer hermeneutiek as ’n bevrydingsteologie wat mense die ruimte wil gee om te beweeg en te wees. Dit is die teologie van Lukas 4 en Jesaja 61 wat wys dat die bevryding van mense absoluut deel is van die evangelie. Punt sien queer hermeneutiek eweneens as ’n weg om mense se volwaardige menswees te huldig.

Punt draai die gesprek na geweld teen vroue. Suid-Afrika het die meeste geslagsgebaseerde geweld in die wêreld. Dit is lywe wat sterf. Lywe wat sterf as gevolg van hulle geslag as gevolg van ’n samelewing se bepaalde persepsie van wat daardie lywe werd is. Wanneer ons dus wil rou oor die vroue wat onder geslagsgeweld deurloop, moet ons ook rou oor die sisteem wat hierdie patroon moontlik maak, oor die mag wat (dikwels onbewustelik) aan mans gegee word deur die manier waarop ons oor ons lyf en gender dink. “Ons gaan nie GBV stop net deur te huil en hartseer te wees daaroor nie (alhoewel dit ook belangrik is),” sê Punt. “Maar ons moet ook probeer om te verstaan waar kom dit vandaan … en ek dink queer hermeneutiek help ons.”

Lees ook: Nelis Janse van Rensburg: ’n Morele kompas

Omdat die verhouding tussen ons lyf, gender en samelewing wederkerig is, het ons ’n stuk verantwoordelikheid om ons liggaam en gender ernstig op te neem. Deur anders met my lyf om te gaan, het ek die vermoë om die samelewing te vorm en mense nie net op ’n persoonlike vlak te bevry nie, maar ook op ’n sistemiese vlak. Meer eenvoudig: Wat jy dink oor jouself gaan bepaal hoe ander hanteer word. Daarom het ons die verantwoordelikheid om onsself te vra: Hoe dink ek oor my liggaam? Watter tipe vrou (of man) is ek en hoekom? Hoe speel ek saam in die groter sosiale strukture waarvan ek deel is? En hoe kan die antwoorde op hierdie vraag ander bevoordeel of benadeel?

Ons het queer teorie dus nodig. Elkeen van ons. Omdat ons almal in ’n samelewing woon wat mag misbruik en ander se volwaardige menswees inperk. Omdat ons almal binne ons gender vasgebind word om in sekere boksies te pas. Omdat ons almal liggame het wat óf saamspeel, óf seerkry.

  • Prop Marileen Steyn is vryskutnavorser en PhD-student aan Universiteit Stellenbosch
  • Hierdie skrywe is deel van ’n reeks en word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
Word 'n vriend van Kerkbode