’n Morele kompas

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die jaar het afgeskop met drie groot nuusgebeure. Op 1 Januarie is afskeid geneem van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Sy heengaan het oor groot dele van die wêreld die nuus gehaal. Hy was immers ’n ontvanger van die Nobelprys vir Vrede en wêreldbekend vir sy versoeningswerk. Ons het hom geken as diep gelowige mens wat sy raad by die Here gesoek het. Sy leierskap was op kritieke oomblikke ’n morele kompas. As voorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) het hy met opregte deernis en omgee en buitengewone finesse die menswaardigheid van mense en die eer van die nasie begin herbou.

Ons sal aartsbiskop Tutu ook altyd eer vir die hand van vergifnis en versoening wat hy na die NG Kerk uitgesteek het na prof Willie Jonker se Rustenburg-belydenis. Hy het daarmee die toon aangegee vir ons heropname in die ekumeniese familiekring. Vandag kan ons met vrymoedigheid saam bou aan die karakter van ons nasie en saam met ander streef na ’n lewe wat God verheerlik.

Lees ook: Missionaliteit: Hoe maak en preek gemeentes wat grense oorsteek?

Op die tweede dag van die jaar is ons geskok deur die brand in die parlementsgebou in Kaapstad. Die parlement is nie net ’n gebou nie. Dit is ’n simbool. Dit is ook die plek waar daar deur wetgewing uitdrukking gegee word aan die waardes en bepalings van die grondwet. Soos die brand was die brutale optrede van sommige politici in die parlement oor die laaste jare die slegste moontlike weergawe van ons gedeelde trots en die respek wat ons vir mekaar het. Ironies genoeg het hierdie gebeure ’n klipgooi weg plaasgevind vanaf die Anglikaanse katedraal waar aartsbiskop Tutu gedien het en waar sy gedenkdiens gehou is. Enkele weke vantevore is oud-president FW de Klerk se gedenkdiens oorkant die pad van die parlementsgebou en katedraal gehou. Tydens die diens in die Groote Kerk is sy reusebydrae tot die vestiging van ’n demokratiese Suid-Afrika belig. Die waardigheid, respek en selfbeheersing waarmee die destydse politieke leiers opgetree het was helend en hoopgewend.

Kort op die brand het die verslag van die Zondo-kommissie gevolg. Reusewerk is gedoen om die onregmatige manipulasie en vergrype wat in die staatsbedeling plaasgevind het, bloot te lê. ’n Mens bly geskok oor die korrupterende impak wat mag dikwels op mense het. Die werk wat voorlê om uitvoering te gee aan die aanbevelings van die verslag en die ‘skoonmaak’ van al die vlakke van regering in Suid-Afrika, is amper te groot om te bedink.

Lees ook: Organies-historiese proses van Skrifuitleg

Die vraag kom onwillekeurig by ’n mens op oor die bydrae van die kerk, of dalk die gebrek daaraan, wanneer dit so gaan. Dit is immers ’n kerndeel van ons roeping as gelowiges om krities-solidêr te staan teenoor die land se demokratiese instellings. Om krities te bly, beteken dat ons noukeurig moet waak om nie deur politieke ideologieë ingesuig te word wat onbewustelik ’n lens word waardeur jy na die werklikhede om jou kyk nie. In sy boek Ecumenical quest vertel Keith Clements die verhaal van Dietrich Bonhoeffer se verset teen die opkoms van die Duitse nasionalisme en veral die meedoen van die kerk daaraan. Die dwaling van die Duitse kerk was grootliks te wyte aan ’n onkritiese ondersteuning van ’n ideologie van meerderwaardigheid. Vir arm mense was dit net só goed om te hoor dat hulle meer werd is as wat hulle toegelaat is om te beleef. Clements vertel dat toe Hitler met sy Röhm Putsch, oftewel, die Nag van die Lang Messe, op 30 Junie 1934 honderde verdagte Nazi-afvalliges en moontlike teenstanders om die leierskap vermoor het, hy dit voorgestel het as ’n daad van bevryding. Baie kerke, ook uit die Belydende Kerk, het die volgende Sondag dankdienste gehou vir Hitler se daadkrag en beskerming.

In ons tyd is daar soveel ideologieë en teorieë wat aanspraak maak op ons steun. En ons gee dikwels daaraan toe omdat dit resoneer met een of ander sentiment wat ons koester. Fyn onderskeiding sal dan byvoorbeeld van ons vereis dat net so min as wat ons onkrities kan staan teenoor rassemeerderwaardigheid, ons onkrities kan staan teenoor die sogenaamde kritiese rasteorie. Ons moet geartikuleerd en kundig reageer. Ons moet selfstandig bly dink. Die kuns is dus om nie ander klakkeloos na te praat nie, om nie die slagoffers van ander se propaganda of verdagmakery te word nie. Die sosiale media bied natuurlik die perfekte ruimte vir opportuniste om vinnig punte aan te teken tot die voordeel van hulle persoonlike agendas.

Lees ook: Dana Snyman | Langs die spoorlyn met ’n treinbekruiper

Ons, die kerk van Christus, moet ondubbelsinnig en sonder ’n spel van eiebelang eenvoudig kan sê wanneer liefdeloosheid en onreg gepleeg word, of wanneer mag misbruik word. Rassisme bly dan rassisme, of dit nou minister Lindiwe Sisulu is wat sê die swart regters is gekolonialiseerde houseboys en of dit nou iemand in jou vriendekring is wie se rassemeerderwaardigheid oorkook. Maar dan nie omdat ons ingekoop het, of is, in een of ander stroming of politieke ideologie nie. Ons protes moet kom vanuit ons diep identifikasie met Jesus, die Here. Ons moet oor Hom diep nadink, debatteer, die Bybel raadpleeg, bid en onderskei en profeties getuig.

Aartsbiskop Tutu was bekend vir die ure wat hy in gebed bestee het. Sy voorbidding was altyd gevul met ’n wonderlike bewoëndheid vir die mense oor wie Hy met God gepraat het. In ons land met sy afgebrande parlement en Zondo-verslag en werkloosheid en kragkrisis en geskiedenis van vooroordele het ons ’n biddende kerk nodig, biddend solidêr met Christus Jesus, getuigend van God se liefde en geregtigheid. Mag ons innige en opregte verhouding met die Hoof van die Kerk, ons help om in 2022 op elke vlak van die samelewing ’n morele kompas te wees.

Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG gemeente Welgemoed en voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.