Oom Japie kyk vir die soveelste keer op sy horlosie. “Kom, ons moet gaan,” sê hy en tel sy kameratjie van die tafel af op. “Die Rovos Rail moet nou naby wees.”
Ons stap by die voorhekkie uit, ek en hy, op teen ’n hoë wal tot bo waar die twee spoorlyne lê – die hooflyn tussen Gauteng en die res van die land.
Byna elke dag kom staan oom Japie, ’n afgetrede treindrywer, hier naby sy huis, diep in Boksburg, met sy kameratjie en neem foto’s van die treine wat kom en gaan.
Oor die jare heen het hy al ver meer as ’n duisend foto’s van treine geneem, hier en op baie ander plekke in die land.
’n Treinbekruiper noem hy homself. A train spotter.
Om die draai – ook bekend as Japie-se-draai – kom ’n lokomotief nogal vinnig aan, met ’n string geel waens agterna. Ka-tik-tikke-tik, ka-tikke-tik-tik, ka-tikke-tik-tik …
“Dis net ’n geelslang,” sê oom Japie en haal nietemin sy kameratjie uit sy sak. Ek het ook my kamera by my en doen dieselfde.
’n Geelslang is een van Metro Rail se voorstedelike passasierstreine. Baie van hulle kom daagliks hier verby. Hulle is soos rooibokke in die wildtuin, kan jy maar sê.

Ka-tik-tik-tik, kom die trein nader. Ons lig ons kameras, die drywer in die lokomotief gewaar ons en druk die toeter. “Dis ’n nuwe ou,” sê oom Japie, wat al baie van die drywers op die voornaam ken.
Dit mag vir baie mense koddig wees, hierdie mense soos oom Japie wat nie kan ophou om foto’s van treine te neem nie. Ook ek het gedink dis ’n vreemde ding om te doen, totdat ek dit self begin doen het, van tyd tot tyd.
Jy staan saam met oom Japie hier langs die spoorlyn in Boksburg, of jy is dalk laatmiddag buite Matjiesfontein of Leeu-Gamka in die Karoo, en dan sien jy die trein in die verte aankom. Jy sien hom gewoonlik voor jy hom hoor. Dit lyk of hy oor die landskap gly terwyl hy al nader kom: Ka-tikke-tik, ka-tikke tik. En dan begin dit voel of die aarde onder jou voete bewe terwyl jy intens bewus is van hierdie massiewe ding wat by jou verbygaan.
En dan is alles weer stil terwyl die trein in die oopte verdwyn. En dan besef jy: vir ’n paar oomblikke, terwyl die trein by jou verby is, ka-tikke-tik, ka-tikke-tik, het jy met die verwondering, ontsag en onskuld van ’n kind na die wêreld gekyk.
Soos Emily Dickenson in haar gedig “The Railway Train” skryf:
I like to see it lap the miles
And lick the valleys up
And stop to feed itself at tanks.
Asof ’n trein meer as net ’n trein kan wees.
Oom Japie het die Facebook-blad, “Treinbekruipers wêreldwyd/Trainspotters worldwide”, ’n jaar of wat gelede begin en dit het reeds meer as 4 500 lede.
Op die blad skryf oom Japie hoe ’n trein, ’n ou stoomlokomotief, hom in 2014 getref het terwyl hy besig was om ’n foto van die lokomotief en waens te neem.
Dit is asof dit vir hom ’n geestelike ervaring was.
Hy stap ’n entjie langs die spoorlyn af en gaan staan. “Hierdie is my Bet-el.” Hy wys na ’n kol waar die kweekgras groenerig deur die grond langs die spoorlyn breek. “Hier het ek ’n tweede kans gekry.”
Jakob het in die Bybelse tyd by Bet-el met ’n engel geworstel, en hier, op hierdie plek in Boksburg, het Japie Terblanche ’n bietjie met ’n trein geworstel.
Hy het die oggend verneem ’n stoomtrein met ’n klomp waens is op pad. Hy is 73 jaar oud, maar kan die skuinste hier langs die spoorlyn nog uitdraf. En toe, later, kom die stoomtrein met wit bollings stoom wat by sy kiewe uit borrel, sakke-pakke, sakke-pakke … En oom Japie lê aan met sy kamera, kinderlik opgewonde terwyl die lokomotief al nader kom, te meegevoer deur die oomblik om te besef hy is te naby aan die spoorlyn.
Toe tref die lokomotief hom skramsweg, en hy trek deur die lug, en val op hierdie kweekkol in ’n hulpelose bondel, ’n klomp bene in sy lyf gebreek en sy een oog wat half uit die oogkas hang.
“Ek het so half wakker geword, en kan sweer my oorlede oupa en pa was by my. En ek hoor een van die paramedici sê: ‘Hierdie ou is weg’.”
Tannie Adri, sy vrou, het gehoor iets is fout en het aangehardloop gekom, nog in haar nagklere.
“Sy’t by my kom sit en ek het met my kop op haar skoot gelê en klippe en grond uit my mond gehaal.”
Oom Japie was ’n paar maande in die hospitaal en tannie Adri hou steeds nie daarvan dat hy al weer elke dag hier is om die treine met sy kamera in te wag nie.
“As ek hoor van iemand wat sukkel en swaarkry, kom bid ek hier.” Hy beduie weer na die kweekkol waar hy gelê het, byna dood. “Ek kniel sommer net hier.”
En dan sien ons dit: Die Rovos Rail, wat al aangewys is as die luukste trein in die wêreld, kom stadig om die draai. ’n Blink, groen, mooi ding.
Ons draf nader met ons kameras. Ka-tikke-tik, ka-tikke-tik, kom die Rovos nader. Oom Japie herken die drywer. “Hallo, Arrie!” roep hy, en waai vir Arrie met die een hand. In die ander hou hy sy kamera vas.
En die aarde bewe onder ons voete, en Arrie druk die lokomotief se toeter, en daardie heilige klank weergalm deur die lug.
Die trein is lankal verby, toe staan ek en oom Japie dit nog stil en agternakyk.