Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Daar is heelwat maniere om die term missionaal te vlak te verstaan, blyk uit ’n nuwe boek deur prof Malan Nel en nege ander Suid-Afrikaanse praktiese teoloë. Die boek, uitgegee deur Aosis, verskyn onder die titel Mission moves: Cultivating communities of the gospel en Nel was die redakteur. Die teks is gratis aanlyn beskikbaar.

Missionaliteit: Hoe maak en preek gemeentes wat grense oorsteek?


Gemeentes se kern-stryd is om God se veranderingsagent in die samelewing te wees, vertel prof Malan Nel aan Le Roux Schoeman.

Prof Malan Nel sit onlangs in ’n studeerkamer aan die een ent van ’n Zoom-lyn en verduidelik die onderskrif by ’n spotprent wat wys hoe Jesus by die deur van ’n kerk staan en van binne sê die lidmate: “Moet hom tog net nie inlaat nie, want hy gaan alles verander!”

As praktiese teoloog is Nel steeds as senior navorser verbonde aan die Universiteit van Pretoria en die jare het hom beide insig en vrymoedigheid gegee om veral twee goed te doen: vrae oor kerkwees fyn te formuleer en medenavorsers te besiel om hom te help na antwoorde soek.

Lees ook: ‘Ons besit nie die Waarheid nie … Ons behoort daaraan’

Die soort vrae wat hy stel, gaan oor die tema van die spotprent: Hoekom Jesus vir sommige gemeentes meer van ’n bedreiging as redding inhou? Hoekom vele gemeentes se “werk” basies instandhouding van die bestaande, die bekende, die eie is?

En die navorsing wat hy doen en lei, gaan oor hoe gemeentes lyk wat “missionaal” is. Dit is ’n langtermyn-gonswoord in die NG Kerk wat – wanneer dit nie goed verstaan word nie – moeilik is om te omskryf en onmoontlik is om te ontken. Watter gemeente glo immers nie dat hulle met God se werk besig is en op een of ander manier “gestuur” word nie?

Daar is egter heelwat maniere om die term missionaal te vlak te verstaan, blyk uit ’n nuwe boek deur Nel en nege ander Suid-Afrikaanse praktiese teoloë.

Die boek, uitgegee deur Aosis, verskyn onder die titel Mission moves: Cultivating communities of the gospel en Nel was die redakteur. (Die teks is HIER gratis beskikbaar).

Lees ook: Doktorale navorsing nou ’n erflating aan die NG Kerk

’n Aanhaling uit die voorwoord werp lig: “We confess that being missional is being contextual. Local congregations gain missional credibility by being contextually relevant.” Oor die 280-bladsy publikasie vertel Nel: “Ek dink die boek kan vir mense iets beteken en dit is hoekom ek dit gewaag het en hoekom die navorsing in Afrikaanssprekende kerke gedoen is. Ons het in Engels gepubliseer om internasionale redes, maar dit is gebore uit die drie Afrikaanse kerke … Dit is my vakterrein vir 40 jaar van my lewe en nog steeds my passie.”

Die sleutel is dat Nel en sy span empiriese navorsing gaan doen het onder gemeentes wat wel ’n “gesonde voorbeeld” van ontwikkelende missionaliteit toon. Die navorsers stel dieselfde vrae aan 43 gemeentes regoor die land en ontleed die terugvoer sistematies in die boek se tien hoofstukke. Die leser hoor dus van gemeentes, soos hierdie een uit die Vrystaat, wat rapporteer: “ a formal service, family service, and a service at the retirement village […] and then we have a Sotho service and a Chinese service.” En hierdie soort “data” word dan ontleed deur, in hierdie geval, prof Kobus Schoeman en dr Wessel Wessels, wat verduidelik: “This congregation is confronted with a multilingual context and has determined its services in coordination with the lingual diversity,” in ’n hoofstuk getiteld “Congregational worship: Missional identity formation and the preaching of our (m)other tongue”.

Uit ’n volgende gemeente klink die terugvoer op dieselfde vraag baie anders: “A couple of years ago we tried to add an English service. The feedback from the black people was that we are trying to institute apartheid in a different way, where an English service is for the black people, and an Afrikaans service is for the white people.” Die navorsers se ontleding hierby lui: “This congregation has been confronted by language on two fronts: Firstly, the necessity to expand the languages used for ministry, and secondly, the unintended opposition because such expansion will create separation between people – which is unwanted for some.” Die teoloë spits hulle in ’n hoofstuk soos hierdie dus in detail toe op die manier waarop konteks aanbidding wel uitdaag asook móét uitdaag.

Ondanks die akademiese styl van die publikasie is die bydraes redelik toeganklik geskryf, met hier en daar ’n sierlike Derrida-aanhaling of twee wat die leser dalk onnodig vermoei.

Maar daar is ryke stof. Veral Nel se hoofstuk oor missionale integriteit “op die kansel”, wat gaan oor kulturele intelligense (CQ!), gee goeie rigting vir leraars en geestelike diepte aan ’n aanhaling in die teks: “When the nonverbal conflicts with the verbal, listeners trust the nonverbal.”

Konteks is Nel se ding. Hy maan teen die “irrelevante hierwees” wat volg wanneer dit geminag word.

“Jy het net missionale integriteit as jy kontekstuele relevansie het. Jy raak irrelevant as hierdie omgewing waarin die NG gemeente waarvan ek deel is, nie kan getuig dat daar ’n helende gemeenskap in ons midde is nie. Waar enige mens welkom sou wees – en enige mense is nou regtig enige mens,” verduidelik Nel in sy onderhoud met Kerkbode. Dit is waaroor die navorsing gaan. Dit is die So What? van al die data-analise en vraelyste ontleed in die nanag.

“Missionale denke is radikaal inklusief. En as dit nie gebeur nie, werk die kerk aktief mee aan sy eie irrelevansie,” aldus Nel.

Ons praat oor die NG Kerk se eie trajek van groot, “belangrike” kerk na een wat ’n ander posisie in die post-apartheid Suid-Afrika beklee. “Ons sit nog steeds met die reste van ’n kultuurkerk, ’n volkskerk wat ons laat met ’n klomp Christus-vervreemdes wat nog nie kerkvervreemd is nie,” meen Nel.

“(Die politieke oorgang van 1994) het dit versnel … Ons het nou baie meer soort van ’n gelyklopendheid, dat Christusvervreemdes ook kerkvervreemd is, maar ek dink dat ons volkskerklike verlede ons laat met ’n res van lidmate wat nog nie regtigwaar die Here Jesus wil inlaat nie, want hy sal alles verander. Ek praat nou nie van ’n soort bekeringsinlaat – die ou inlaat van “maak jou hart vir hom oop nie”, maar ’n gemeentedeur wat vir hom oop is – dat hy inderdaad die Here van die gemeente is … Sonder dit is daar nie rigting nie. Jy stry oor die lengte van jou kleed terwyl Rome afbrand.”


Hierdie skrywe is deel van ’n reeks en word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Missionaliteit: Hoe maak en preek gemeentes wat grense oorsteek?”

  1. Ek hou van die aanhaling van Malan Nel
    “Missionale denke is radikaal inklusief. En as dit nie gebeur nie, werk die kerk aktief mee aan sy eie irrelevansie”. Dit impliseer dat die kerk eksklusief is.
    Dit herinner my aan twee Engelse terme wat gebruik word om Amerikaanse kerke te beskryf as “A church of Insiders” (to keep Outsiders out”).
    Dit lyk nie asof die bybelse en teologiese “Missionale” konsepte en patrone die drie Afrikaanse “Susterskerke” inspireer het om inklusief te wees nie

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.