Nico Simpson

‘Ek hou nie van mense nie, maar …’

’n Prof se kwinkslag by die Algemene Sinode stuur Nico Simpson op ’n kopreis na sy kinderdae.

Hy hou van mense. Hulle kies eenheid eerder as eendersheid, sê prof Marius Nel byna terloops. En ek is weer verlief.

Sy woorde vat my terug na ’n Sondagskoolklaskamer in Robertson. Ek is weer standerd ses. Meneer Jonk is besig om vir ons te verduidelik van Jesus, geloof en bekering. Ek verstaan net genoeg om ná my fietsrit terug huis toe die datum agter in my Bybel te skryf. Verlief vir die eerste keer. Vir my het dit gevoel of ek Jesus so pas ontmoet het, maar Hy ken my toe al lankal.

Hy het my al geken toe ek saam met my ma Pinksterdienste in ’n skoolsaal gaan bywoon het. Dit was lank voordat Helderberg-gemeente hulle “nuwe” kerkgebou gekry het. Ek het styf langs haar gesit in die diens. Al wat ek onthou is die motbol-reuk van die regte pelsjas. Ek en my ma en Jesus.

Hy het my al geken toe ek voor skool langs my ouma en oupa se bed gekniel het voor slaaptyd. Dit is hoe hulle met Jesus gepraat het; ek het dit maar so leer ken. Hulle was verlief op Hom lank voordat ek was. Oupa het nog in Nederlands gebid aan tafel. Hy het Jesus ontmoet uit die Statenvertaling. Nederlands was sy liefdestaal.

En prof Bernard Combrink vertel hoe die jongste Afrikaanse Bybelvertaling pas voltooi is. Hoe dit volgende jaar bekendgestel gaan word. Nuwe woorde vir ’n ou liefdeslied.

Die lied vertel van omarming en deernis. Van liefde lank voordat die ander daarvan geweet het. Van eenheid wat groter is as eendersheid. Van opoffering en ruimte maak. Van onvoorwaardelike aanvaarding en genade uitdeel.

Prof Nel verduidelik dat die kerk nie gekyk het hoeveel hulle in gemeen het voordat hulle hulle aan mekaar verbind het nie. Hulle het nie gesoek na soveel as moontlik goed waaroor hulle moes saamstem nie. Nee, hulle het almal verlief geraak op Jesus en daarom mekaar broers en susters genoem.

Ek kyk rond in die sinodesaal. Geliefdes? Ons is ’n vreemde spul. Op die oppervlak dalk ontstellend eenders. Maar gesprekke om die tafels en tydens tee maak die verskille duidelik. As ons nie verskil oor wat om met mense te maak wat anders liefhet as ons nie, baklei ons oor hoe om ons geld te verdeel. Die een voel sterk oor aftree-ouderdom en die ander oor dubbele ‘nie’ in Afrikaans. Vir een is inklusiewe taal onontbeerlik en vir ’n ander liefde vir die grond. Maar tog is daar ’n gevoel dat ons saam in die ding is.

Lees ook: Kerkbode se regstreekse blog 

Ek loop prof Nel raak ná die openingsgeleentheid wat hy op een van die oggende by die sitting van die Algemene Sinode moes lei. Selfspottend sê hy: “Jy weet, ek hou nie eintlik van mense nie, maar Jesus hou van mense, en ek hou van Jesus.”

Een liewer as eenders.

Ek is weer verlief op die helende beauty van Jesusmense wat verstaan wat genade is. Wat bely ons is almal gelyk voor Jesus. Dat Hy ons van die strate af innooi na ’n feesmaal. Dat niemand tweederangs is in die community nie. Dat ook ek soos, Oupa, Ma en mnr Jonk ’n lewegewende verskil kan maak in my wêreld.

VIDEO: Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling se ontstaanstorie

1933.

1953.

1983.

en nou…2020.

Die Bybel het al vier amptelike Afrikaanse vertalings ondergaan, waarvan die jongste op 29 November 2020 in Bloemfontein sal verskyn. In die nuwe vertaling sal die bronteks so getrou moontlik weergegee word, maar dit sal nie ’n woord-vir-woord vertaling soos die 1933/53-vertaling wees nie. “In die nuwe vertaling sal daar groter klem gelê word op die weergee van die bronteks in vloeiende Afrikaans as wat by woord-vir-woord vertalings die geval is,” luidens inligtingstukke wat deur die Bybelgenootskap oor hierdie reuseprojek bekendgestel is op www.bybeldirektevertaling.co.za

Afgevaardigdes by die onlangse Algemene Sinode-sitting in Benoni het ’n kykie gekry in presies hoe omvangryk hierdie vertaalprojek was. Daar was 170 mense betrokke by die proses, waarvan sowat 14 reeds oorlede is, het prof Bernard Combrink vertel. “Anders as by vorige Afrikaanse vertalings speel professionele Afrikaanse vertalers, letterkundiges en taalkundiges ’n wesenlike rol naas eksegete en brontaalkenners. ’n Groot aantal vroulike medewerkers is ook deel van die vertaalspanne,” volgens die Bybelgenootskap.

Combrink is in 2004 aangewys as die projekleier en was sigbaar emosioneel toe hy voor die ganse sinode vir sy arbeid oor dekades heen deur die voorsitter van die sinode en voormalige studente van hom, ds Nelis Janse van Rensburg bedank is. Dié vertaling wil alle Afrikaanssprekendes insluit en daarom sal daar ook ’n hoofletter uitgawe wees vir sekere woorde soos d(D)ienaar in die Ou Testament, aldus Combrink. Daar is ’n hele paar nuutjies. Vir die eerste keer word alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, by die vertaalproses betrek. Daarom sal die beplande vertaling, naas die gewone uitgawe, ook ’n uitgawe insluit wat die Deuterokanonieke Boeke bevat, aangesien die Rooms-Katolieke en Anglikaanse Kerke wat ook hulle ondersteuning aan die projek toegesê het, hierdie boeke gebruik. 

Maar wie is die man wat as touleier moes optree? Prof Combrink behaal in die jaar 1969 sy doktorsgraad aan die Vrije Universiteit in Amsterdam. Hy doseer vanaf 1970 tot en met 2001 aan verskeie universiteite. Hy ontvang die Pieter van Drimmelenmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2004 vir sy werk as Bybelvertaler. In die videogreep by hierdie storie vertel hy self – breedvoerig – die konteks en uitdagings van hierdie projek waarvan daar waarskynlik nie voor 2050 ’n opvolg sal wees nie. 

Sinode: Jerry Pillay oor leierskap, minderwaardigheid en Belhar

Prof Jerry Pillay was een van die ekumeniese gaste by die sitting van die Algemene Sinode in Benoni vandeesweek. Tussen die vele sessies wat afgevaardigdes sedert Sondag 6 Oktober besig hou, het Conette le Roux dié dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van Pretoria, gevra:  

Watter rol kan die kerk teen korrupsie speel?

Ons is dikwels bang om reguit te praat omdat ons bang is dat ons nie politiek korrek is nie. Etiese leierskap wat met integriteit lei, word benodig. Ons moet ook teruggaan na Bybelse beginsels en op waardes fokus. ’n Groot probleem is die verval van gesinne. Ons moet ons kinders waardes en integriteit leer.

Jy het (in jou boodskap aan die sinode) gesê die NG Kerk moet by breër teologiese opleiding betrokke raak. Hoe?

Wanneer ek aan die NG Kerk dink, dink ek aan die breër Gereformeerde tradisie. Teologie kan nie in ’n “ivory tower” funksioneer nie. Dit is belangrik om relevant te bly. Die kerk het ook hier ’n rol om te speel.

Prof Jerry Pillay. Foto: Conette le Roux

Ons moet deelneem, dink en in gesprek tree oor die realiteite in ons gemeenskappe. Dit is wat die NG kerk hier tydens die sinode met selfdegeslagverhoudings gedoen het. Dit help nie ons vee dit onder ’n mat in nie, dit is die realiteit en dit gaan nie weggaan nie. Die NG Kerk en die Gereformeerde teologie kan wêreldwyd ’n groot verskil maak. Die NG Kerk het ook uitstekende buitelandse netwerke met gemeentes in Afrika, Nieu-Seeland, Australië en Londen. Hoe gebruik die NG Kerk hierdie netwerke? Dit is ’n uitstekende geleentheid. Die kerk moet op ’n groot skaal sy vlerke sprei om ’n positiewe invloed op verandering te hê.

Wat was jou boodskap hier oor die Belydenis van Belhar?

Talle internasionale kerke het die Belydenis van Belhar aanvaar. Talle kerke, ook my gemeente, het dit as Belydenis aanvaar. Talle NG (gemeentes) het dit reeds aanvaar. Die belydenis is ’n verklaring teen rassisme. Ek verstaan dat sommige lidmate as gevolg van historiese konteks hiermee ongemaklik voel. Maar ons moet ’n weg vorentoe kry. As denominasie is dit uiters belangrik om dit weer op die tafel te sit. Deur die Belhar-belydenis, wat eenheid voorstaan, te aanvaar gaan die NG Kerk ’n ongelooflike boodskap na die res van die wêreld stuur. Dit sal ’n betekenisvolle boodskap na die res van die wêreld uitstuur.

Hoe kan die kerk demokrasie bevorder?

Die kerk móét ’n rol speel. Bybelse waardes het as ’t ware die grondslag van demokrasie gevorm. Die belangrikste is die betrokkenheid van mense. Elke gemeenskap kan ’n rol hierin speel. Die kerk het ’n kritieke rol om te speel in die heling van ons nasie. En die NG Kerk moenie minderwaardig voel as gevolg van apartheid nie. Die NG Kerk is ’n magtige kerk. Moenie bang wees om die verlede reg te stel nie. 

  • Pillay was deel van die ekumeniese gaste om ’n groeteboodskap namens die president van die Wêreldraad van Gereformeerde Kerke (WRK) aan sinodegangers oor te dra. Pillay is die voormalige president van die WRK.

‘Mag die Here weer sy kerk regeer’

Ds Christo Schoeman, van Marquard skryf:

Na aanleiding van ’n boodskap van een van my vriende en kollegas waarin hy tereg voel soos “kots in ’n tuimeldroeër” na al die dinge wat tydens elke AS (Algemene Sinode) gebeur en hoe dit in die media verkondig word, deel ek sy (en vele ander se) pyn en ek voel ook só.  Ek dink die NG Kerk moet, soos Nelis (Janse van Rensburg, die moderator van die AS) gesê het, nou begin aanbeweeg. Ons (ons almal wat verteenwoordig word – wil dit voorkom by die AS) hou heeltyd vas aan en betwis en redeneer allerhande dinge wat óns dink so verskriklik belangrik is.  Uiteindelik is dit óns agendas, óns kwellings, óns kerk se beeld in die publieke oog.

Wanneer gaan ons bietjie oor onsself kom? Wanneer gaan ons weer besef dat dit nie óns kerk is nie, maar dat ons bloot dienaars is in God se Koninkryk? Wanneer gaan ons weer ’n vergadering open in God se Naam – die Naam bo alle Name – en daadwerklik vir God toelaat om teenwoordig te wees en sy wil te laat geskied. Dat Hý (of neig dit ook nou na patriargale spraak) regeer?  Dat Hy weet wat beter is? Dat Hy in beheer is van sy kerk?

Lees ook: Kerkbode se regstreekse blog oor die Algemene Sinode

Met die hofsaak in die selfdegeslagverbintenisse (SGV)-geval, het ons nie weereens die fout van die verlede gemaak om te sê dat die staat nou seggenskap het bo die gesag van God se Woord nie? Het ons nie weereens verval in ons “ou maniere” nie?  Dieselfde mense (met uitsondering van ’n paar “nuwe denkers”) sit alweer by die AS en dryf / stuur weer dieselfde agendas in dieselfde rigting. Ons voer dit aan – al te vroom – as dít wat God wil hê … Leer ons nie uit die foute van die verlede nie?

Ons spandeer en debatteer ure en dae in vergaderings oor Sinodale bydraes, gendergelykheid, gay mense en wie weet wat nog, terwyl daar heel moontlik net om die draai vanwaar die AS gehou word, honderde of duisende mense honger ly en haweloos is en dalk nog nie eers behoorlik weet waaroor presies hierdie hele “evangelie”-bohaai is nie. Ten minste slaap elke sinodeganger snoesig en eet hulle lekker. Ten minste is hierdie meer knellende kwessie darem iewers op die agenda of in hulle agterkop iewers.

My een mentor het my gereeld (tydens my studies) die vraag gevra: “Hoekom dink jy, so laat in jou lewe, is jy geroep om in die NG Kerk (nie enige ander kerk nie) te dien?”  My antwoord: “Want iemand moet baklei.” Sekerlik darem nie fisies nie, maar iemand moet iewers – al is dit maar net op grondvlak in ’n gemeente – begin opstaan vir wat reg is. Iemand moet begin sê: “Word wakker mense!” Ons is so erg verknog aan ons eie-ek, dat ons lankal nie meer deur God se oë hierdie wêreld en Sy kerk kan sien nie.  Ons hou só erg vas aan wie of wat die NG Kerk was en wat óns dink ons identiteit moet wees, dat ons vergeet wie ons is en Wie s’n ons is.

Ek is moeg dat elke tweede lidmaat dreig om hulle goedjies te pak en ’n ander “kerk” te soek. Ek is moeg dat die media halwe waarhede en eie weergawes van besluite plaas en dat die NG Kerk se naam al meer en meer deur die modder gesleep word. Ek is moeg daarvoor dat daar in ons eie geledere leiers is wat dreig om af te stig en dat “kerkskeuring” eers in hul woordeskat is. My magtig man! Hierdie is God se kerk! Wie dink ons is ons dat ons dit wil beheer en regeer? Dat ons Hóm wil dreig met verdeeldheid en skeuring?

Ons het weer van God se kerk ’n wêreldse instansie gemaak. Iets wat duidelik nie werk nie. Hoe maak ons dit reg? Ek weet nie. Ek is net so gefrustreerd soos julle almal. Ek sien dat daar vanoggend by die AS gewandel is in die Woord met Jeremia 29:4-14 en ek wonder of ek die “guts” sou hê as ek daar was om te sê dat die volgende verse vir my uitstaan vir die NGK:

8          So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie.   

9          Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.  

Mag die Here weer sy kerk regeer. Nie ons nie. Ek is moeg.


Hoekom oorskry dié brief Kerkbode se woordperk vir briewe? 

In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) pas ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aan om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. Stuur bydraes wat die 3 000 karakterperk van ons BRIEWEBLAD oorskry, per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za indien – Red.

‘Bevorder die belange van die stad’

“Wat sal gebeur as ons God toelaat om deur ons te werk waar ons is?”

Dié vraag is Donderdagoggend tydens die dagopening deur ds Maartje van der Westhuizen, predikant van Elarduspark in Pretoria, aan die Algemene Sinode van die NG Kerk gevra.

Ds Maartje van der Westhuizen

Van der Westhuizen het na aanleiding van Jesaja 29:4-14 gepraat. Die agtergrond van dié teks is dat Jerusalem en die tempel verwoes is. Die elite van die volk is as ballinge na Babilon weggevoer. Hulle wil nie daar wees nie. Hulle twyfel oor baie dinge en wonder waar is God. Hulle verlang terug na die verlede of trek terug en probeer net na hulle eie belang omsien.

Teen dié agtergrond kom ’n boodskap van God na hulle. Hulle moet hoor dat hulle nie in hulle leeftyd sal terugkeer na Jerusalem nie. Dit sal eers oor 70 jaar gebeur.

In daardie situasie sê God hulle moet huise bou, tuine aanlê, trou, kinders hê – en die belange van die stad bevorder. Hulle moet vir die stad bid, want die stad se belange is ook die ballinge se belange.

En dan hoor hulle die hart van God. Hy beplan vir hulle voorspoed. Hy wil hulle ’n toekoms gee.

Van der Westhuizen het gesê die teks daag die NG Kerk uit om die Here te vra om hulle oë op te maak vir geleenthede om in te bou in die huidige situasie, en dat gelowiges moet bid vir diegene met wie hulle nie klaarkom nie.

KYK: Hoofregter se besoek raak toe preek-, bidsessie

“Ontgif ons van hooploosheid.” Só het hoofregter Mogoeng Mogoeng Donderdagoggend by die Algemene Sinode van die NG Kerk gebid.

Mogoeng, wat deur dr Gustav Claassen bestempel is as ’n simbool van hoop en ’n medegelowige wat die morele vesel van die land wil herstel, is genooi om met die sinode te kom praat oor die rol wat die NG Kerk in Suid-Afrika kan speel. Dit sluit aan by die sinode se tema: Maak ’n lewegewende verskil.

Sy bydrae het ’n preek geword, met teksverse en riglyne vanuit die Christelike geloof. Hy het gelees uit Deuteronomium 7:12-15 wat vertel van die seëninge wat die volk sal geniet as hulle God se bepalinge gehoorsaam.

Mogoeng het begin deur te sê dat die nasie siek is – en dat die land daarom nie die welvaart geniet wat daar behoort te wees nie. Selfs die hemele is gesluit sodat dit nie reën nie.

Een probleem, het Mogoeng gesê, is dat die nasie sy rug op God gedraai het. Mense gaan kerk toe en hulle bid, maar hulle leef God se wil nie uit nie. Dié opdrag is eenvoudig: Jy moet God en jou naaste liefhê.

Oor die rol wat die kerk in die land moet speel, het Mogoeng gesê Oom Bey (dr Beyers Naudé) het die voorbeeld gestel. Hy het liefde betoon toe dit nie die populêre ding was om te doen nie en die risiko van verwerping geloop. Foto’s: Le Roux Schoeman

Die hoofregter het verwys na die verhaal van Josef wat as slaaf na Egipte geneem is en later in die tronk beland het, maar deurentyd sy integriteit behou het. God se seën het op hom gebly. Integriteit moet in ’n mens se hart wees, het hy gesê.

Mogoeng het verder verwys na Jesus se ouers wat met Hom na Egipte gevlug het, en na ander plekke waar Afrika ’n rol in die Bybel speel. Na aanleiding daarvan het hy gesê die wanhoop in Suid-Afrika is nie geregverdig nie. God het Afrika nie vergeet nie.

Hy het verder klem gelê op berou en skuldbelydenis. Hy het vertel dat mense in ’n stadium vir hom gesê het hy is ’n nederige man. Hy het dit geglo en vinger gewys na ander wat nie nederig is nie. Toe wys God hom dat hy trots en arrogant is. Hy moes sy skuld bely.

Ds Nioma Venter (middel) groet hoofregter Mogoeng Mogoeng. By haar is dr Gustav Claassen en ds Nelis Janse van Rensburg.

Oor die rol wat die kerk in die land moet speel, het Mogoeng gesê Oom Bey (dr Beyers Naudé) het die voorbeeld gestel. Hy het liefde betoon toe dit nie die populêre ding was om te doen nie en die risiko van verwerping geloop.

Hy het ook verwys na Saggeus wat sy eie waardigheid prysgegee het deur in ’n boom te klim om Jesus te sien. Jesus het by hom gaan eet, en toe hy berou het en wil regmaak waar hy onreg gepleeg het, het Jesus gesê daar het redding vir sy huis gekom.

Mogoeng het te kenne gegee dat die NG Kerk ook moet dink waar hy verkeerd opgetree het en restitusie moet doen.

Een probleem, het Mogoeng gesê, is dat die nasie sy rug op God gedraai het. Mense gaan kerk toe en hulle bid, maar hulle leef God se wil nie uit nie. Dié opdrag is eenvoudig: Jy moet God en jou naaste liefhê.

Hy het verwys na die vroeë kerk wie se krag in sy eenheid gelê het. Daar was geen Jood of Griek meer nie. In Suid-Afrika is mense ook eenders en die kerk moet help om verdelings te heel. Hy het herhaaldelik verwys na verdelings op grond van stam, etnisitieit en ras as probleme wat die kerk moet help bestry.

Lees ook: Kerkbode se regstreekse blog oor die Algemene Sinode

Mogoeng het teruggekom na die gebod om God en die naaste lief te hê en gesê die kerk moet help om hierdie waardestelsel in die land te vestig. Dit is die waardestelsel wat nodig is vir ’n stabiele omgewing.

Hy het gevra dat die kerk betrokke moet wees by die grondkwessie en voorgestel dat groot besigheid grond koop en beskikbaar stel aan gemeenskappe. Mense wat uitgesluit is uit die ekonomie, moet toegang daartoe kry.

Daarmee sê hy nie bloot “gee, gee, gee” nie. Dit kan ook skade doen. Dit moet op beginselgegronde wyse gedoen word. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Op ’n vraag deur prof Louis Jonker van Stellenbosch oor sy advies vir gemeentes wat LGBTI-mense nie op gelyke vlak wil hanteer nie, het Mogoeng gesê dit is ’n “moeilike een”. “Daar is die grondwet wat gehoorsaam moet word. Daar mag nie gediskrimineer word nie. Maar daar is ook die Bybel waaraan die kerk gehoorsaam moet wees. Ek het nie ’n antwoord nie,” het hy gesê.

Die hoofregter se volledige besoek aan die Algemene Sinode kan hier gekyk word.

Kerk moet toenemend spaarvark breek 

Rondom braaivleisvure en by kuiers praat Suid-Afrikaners deesdae pal oor die ekonomie – geld. Christene wonder boonop oor rentmeesterskap. Dis geen geheim dat Suid-Afrika self in ’n finansiële krisis is en dat die man óf vrou op straat die knyp voel nie. En op ’n warm Woensdagmiddag in Benoni het daardie onderwerpe ook afgevaardigdes by die NG Kerk se Algemene Sinode bereik, skryf Nico Smit

Ons luister na die verslag van die NG Kerk se fondse en bates. In die gees van deursigtigheid wat hierdie saamtrek al sedert die afskop Sondagmiddag (dit duur tot Vrydag) kenmerk, verduidelik die verslag presies hoe geld in die groter kerkstruktuur bestee word. 

Kortom: Die NG Kerk het beleggings wat in die binneland sowel as die buiteland belê word deur PSG Wealth. Nou: Goeie en slegte nuus. Hierdie beleggings doen goed – groei selfs. Dit staan op sowat R87 miljoen, luidens die verslag. Maar sinodegangers hoor ook dat die kerk drasties verarm het oor die laaste 4 jaar vanaf 2015. Die duidelike boodskap van hierdie verslag is dat die kerk toenemend op haar beleggings sal moet steun. Die NG Spaarvarkie gaan moet help in hierdie moeilike tye. 

Maar die sinode had ook ’n besluit om te neem. 

Van die vloer af was die vraag, hoeveel geld van kerke gaan na die Algemene Sinode? Vir elke een rand word 0.28 sent na die Algemene Sinode gekanaliseer – oftewel 28c vir elke R100*. Die voorstel was dat streeksinodes se bydraes tot die Algemene Sinode van 0.28% na 0.2% verlaag word. Dit moet oor ’n tydperk van vier jaar plaasvind. Dr Paul Grobler vanaf die Noordelike Sinode het die voorstel ondersteun en van die vloer gesê dat daar werk is waarmee sy streeksinode reeds vir jare besig was, wat moes staak weens geldtekort. Hy voel as die 0.28% verlaag kan word, sal dit vir gemeentes wat swaarkry ook ’n boodskap oordra dat die Algemene Sinode vir hierdie gemeentes begrip het. 

Baie leraars keer dus terug met die nuus dat daar oor ’n vier jaar tydperk ’n bietjie verligting op streeksinodale- en gemeentevlak sal kom. 

  • Die amptelike besluit lui: Die Algemene Sinode besluit dat die huidige bydraekoers van 0,28% oor vier jaar afbestuur word na 0,20%. Lees alle amptelike sinodebesluite tot dusver HIER.

LET WEL: Hierdie berig is ná publikasie aangepas om hierdie sin reg te stel*. – Red. 

Ná die sinode: Vir sommige, ’n lang pad huis toe met dié besluit

’n Jong, bebaarde dominee staan op en spreek die sinode toe. Hy is benoud dat die kerk vir hom ’n spreekwoordelike hospitaal-pass gegee het … Dit was nie sy woorde nie, maar dis basies wat hy gesê het. Want hy moet eersdaags op sy eentjie terug Namibië toe en vir sy gemeente op Outjo, so drie ure se ry buite Windhoek, gaan verduidelik hoe die gay-ding nou staan. So, dit herinner wel ’n bietjie aan daardie soort aangee in rugby waar jy die bal kry om mee te hardloop, maar met ’n spul verdedigers wat op jou afpyl om jou te lyf te gaan. Hierteen sien hy op, hoor ’n mens duidelik. En daar is begrip hiervoor – as medeluisteraars se gesigsuitdrukkings ooit heeltemal leesbaar is. Sy presiese woorde was: “Ons benodig hulp. Want soos die voorstel (rondom selfdegeslag-verbintenisse wat die NG Kerk op 8 Oktober aanvaar het) nou op die tafel lê, is dit ongelooflik mooi. Ek kan nie fout vind met die voorstel nie. Maar hy kort ’n praktiese sy.”

Wat ds Leon Fourie vermoedelik wil weet is hoe hy nou hierdie teologiese standpunte rondom menslike seksualiteit aan die kerkraad en lidmate gaan verduidelik? Prakties nou.

Klaar baklei

Hierdie vraag is een van dié wat dr Frederick Marais in sy bydrae oor die nuwe besluit – en die teologie daaragter – aangespreek het vroeër en later die aand. “Wat vat ons terug na ons gemeentes toe?” het hy aan sy medeleraars gesê-vra. “Ons gaan ophou om ’n geveg (oor selfdegeslagverbintenisse) te voer,” was sy antwoord hierop. “Ons gaan mekaar se verskillende besluite hieroor respekteer. Ons gee vir mekaar ruimte. En ons gaan voort om geloofsonderskeidend met mekaar te praat.”

“Diversiteit, verskillende standpunte lyk soos ’n verleentheid, (maar) een van die sprekers het gesê dis ’n gawe,” aldus Marais. “Elke sinode en gemeente het die reg om ’n eie standpunt te formuleer. Ons weet waarop ons eenheid gebou is.”

Dit is moontlik steeds ’n lang pad van Benoni na Outjo, maar daardie woorde van die ouer leraar aan ’n jonger een wat opreg na hulp en leiding vra, was ’n opvallende oomblik in ’n aand waarop die meerderheid van die 200 lidmate van die NG Kerk wat dit tot by hierdie besluitnemingsoomblik aan die Oos-Rand gemaak het, wou koers kry met ’n kerkgesprek wat “vasgeloop” het.

Erns in die ‘wit ruspe’

Toe die byna 200 afgevaardigdes by die sitting van die NG Kerk se Algemene Sinode teen 14:15 op die derde uit ses dae van vergader die gesprek rondom selfdegeslagverbintenisse bereik, was die atmosfeer een van stille fokus. Die “stakes” was hoog, kon ’n mens aanvoel. ’n Baie publieke en duur hofsaak met jou eie lidmate het kennelik selfs die mees roekeloses in die kerk daarvan oortuig. Die gesprekke en maniere van vergader maak sáák. As waarnemer is dit moeilik om die gesprek in isolasie te beskryf. Soos ’n ry boeke binne twee boekstaanders, was die selfdegeslagverhoudingsgesprek ook deur sang, gebed en ander gesprekke oor ander onderwerpe “geraam”. Daar was ook ’n byna mantra-agtige herhaling van “respek vir mekaar”.

’n Mens kon die erns op ’n myl bespeur – versigtigheid selfs. “Grandstanding” was daar nie. Maar die tentstruktuur waarin die geleentheid plaasvind – wat soos ’n wit reuse-ruspe hier in ’n industriële deel van die Benoni-, Kemptonparkomgewing lê, het ook op letterlike wyse baie ruimte vir verskil toegelaat. En daar was verskillende standpunte. Dit is immers juis dié wat kerkleiers soos Marais ge-rebrand het as ’n gawe eerder as ’n verleentheid. Daar is geluister na stemme soos dié van Ernst Coetzee, ook van Namibië. “Die meerderheid van gemeentes in Namibië is nie ten gunste van selfdegeslagverhoudings nie,” het hy gesê. “Vir ons is die Skrif die belangrikste. Ek kan nie myself vereenselwig met hierdie voorstel nie.”

‘Ek kan nie saamstem’

Dr Riaan van Zyl van Bethlehem het weerloos gepraat: “Ek praat vanaand met ’n rein hart. Ek wil teen die voorstel praat as ewe-mens, nie as medemens nie. Ons is deel van ’n liggaam van Çhristus. Wanneer een lid ly, ly die hele liggaam. Ek was self op die markplein in die lewe. Christus het my uitgegryp uit my vorige lewe. Ek is deel van mense van die Weg wat met my eie hartseer en probleme worstel … As ek na die voorstel kyk, kan ek nie saamstem met die voorstel nie.”

Dr Gys Loubser van Boksburg was weer van mening dat die nuwe besluit “min of meer so versigtig is soos ’n mens kan wees” en dit ondersteun.

‘Vasgelooptheid’: Toe en Nou

Dr André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode, het gewaarsku dat die Benoni-gangers nie te uniek moet voel nie. “Ons is nie die eerste Christene wat by so ’n situasie kom nie. In Romeine 14 was daar ook ’n vasgelooptheid. Hoe verstaan ons die wil van die Here? Geloofskwessies oor eetgebooie. Paulus sê nie vir die gemeente om dit uit te sorteer nie. Hy sê aanvaar die een wat swak in sy geloof is. Moenie die een wat net groente eet verag nie. Want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel. Sy eie werkgewer sal hom oordeel. Aanvaar mekaar soos Christus julle ook aanvaar het.”

“Vasgelooptheid” was ’n bietjie van ’n lae-frekwensie gonswoord dwarsdeur die verrigtinge. Die voorsitter van die vergadering, ds Nelis Janse van Rensburg, het reeds in die maand voor die sinode gesê dit is tyd vir “aanbeweeg”. Hier in Benoni het hy aan die media ’n groter prentjie geskets: “Ek dink ons is op die punt waar ons ’n nuwe teologiese punt op die tafel sit: ‘Wat doen jy as geloofsgemeenskap as jy substantief van mekaar verskil?’ Dit is ’n nuwe stuk teologie wat jy hier moet ontwikkel … waar vind ons nou ons energie?” Janse van Rensburg was egter nie voorsitter vir hierdie belangrike deel van die sinode nie. Hy het homself met die aanvang van die sessie tydelik onttrek omdat hy voorsitter was tydens die 2015-sinodesitting wat nou weer onder bespreking sou kom. Die voorsitterskap is oorgeneem deur ds Nioma Venter, ’n dominee en maatskaplike werker wat wye erkenning in die kerk geniet vir die werk wat sy as predikant in sinodale diens verrig by Diaconia, ’n eenheidsbediening van die NG Kerk en VGK. Sy is slegs die vorige dag as ondervoorsitter verkies – die NG Kerk se eerste vroulike assessor van die Algemene Sinode.

Die proses het ’n gladde verloop geneem en teen 21:00 is die uitslag van die stemproses bekendgemaak. Die besluit is digitaal gepubliseer op die NG Kerk se afdeling vir Amptelike besluite. Dit is 556 woorde lank.

Nou is dit terug na gemeentes toe met dié besluit. Na Outjo, Bellville, Stellenbosch en Bethlehem. – Met bykomstige verslaggewing deur Conette le Roux

Selfdegeslagbesluit: ‘Diversiteit is ’n gawe’

Die NG Kerk se Algemene Sinode het Dinsdagaand ’n besluit aanvaar wat ruimte bied vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Kerkrade, ringe en sinodes het die reg om self te besluit watter standpunt hulle hieroor wil inneem. Dr Frederick Marais van die Wes-Kaapse sinode het die wens uitgespreek dat die kerk met hierdie besluit sal ophou om ’n geveg met mekaar te voer en dat verskillende standpunte gerespekteer sal word. Hy het ’n medesinodeganger aangehaal en gesê diversiteit en verskillende standpunte mag lyk soos ’n verleentheid, maar dit is ’n gawe.

Die besluit is geneem nadat die vorige besluit wat in 2015 geneem is, ter syde gestel is omdat die verkeerde prosedure met die neem daarvan gevolg is. Foto’s: Le Roux Schoeman

Die Algemene Sinode gaan ook ’n span saamstel wat die besluit met die verskillende streeksinodes gaan deurwerk sodat almal verstaan wat die besluit presies behels.

Die besluit is geneem nadat die vorige besluit wat in 2015 geneem is, ter syde gestel is omdat die verkeerde prosedure met die neem daarvan gevolg is. Daarna is ’n beskrywingspunt van die Wes-Kaapse Sinode bespreek en met enkele wysigings aanvaar.

Die besluit bely dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisskrifte. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie.

Die Algemene Sinode het hom verbind tot voortgesette gesprekke en gemeentes aangemoedig om ook ruimte vir gesprek te skep.

Kerkrade word aangemoedig om in die verkiesing van mense tot die ampte lidmate se doop, roeping, spiritualiteit en getuienis oor leer en lewe in ag te neem, maar nie ras, geslag of klas of seksuele oriëntasie of identiteit nie.

Die sleutelwoord van hierdie besluit is egter “moedig aan”. Dit bind kerkrade nie. By die legitimasie van teologiestudente moet aspekte van hulle geestelike lewe ook in ag geneem word, maar nie ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie nie.

Die Algemene Sinode het ook die verloop van die debat en besluite die afgelope paar jaar in die kerk betreur en gay mense en hulle families verskoning gevra vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het.

Die besluit gee erkenning aan verskillende standpunte oor die bevestiging van gay paartjies in burgerlike verbintenisse en bevestig die ruimte vir almal om volgens eie oortuiging op te tree.

Daar moet daarom nou ’n formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse opgestel word.

Leon Fourie van Outjo in Namibië: Ons benodig hulp. Want soos die ding nou op die tafel lê is dit ongelooflik mooi. Ek kan nie fout vind met die voorstel nie. Maar hy kort ’n praktiese sy.

Die Algemene Sinode het ook die verloop van die debat en besluite die afgelope paar jaar in die kerk betreur en gay mense en hulle families verskoning gevra vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het.

Die kerk gaan ook voort met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op die volgende sinode. 

Insette vanuit die lokaal vóór die stemproses

Tientalle sinodegangers het tot laat Dinsdagaand die geleentheid gebruik om insette van die vloer te lewer vóór die stemming in ’n gesprek wat altesaam byna ses ure geduur het. Voor die aandete-breek was die reaksie oorwegend positief. Later in die aand het besorgdes hulle stemme laat hoor – veral oor hoe gemeentes op die besluit sal reageer. Hier volg ’n paar aanhalings soos aangeteken deur die Kerkbode-span. (Daar was ook ’n regstreekse video-uitsending van die hele proses). 

Leon Fourie van Outjo in Namibië: As ek Sondag op die vliegtuig klim terug huis toe, het my hele gemeente al gelees oor die besluit. Ek daag by my heel eerste gemeente op. Ek pleit by die sinode omdat ek ’n jong leraar is. Ek vra vir hulp. Ons benodig hulp. Want soos die ding nou op die tafel lê is dit ongelooflik mooi. Ek kan nie fout vind met die voorstel nie. Maar hy kort ’n praktiese sy.

Gys Loubser van Boksburg: Ons hoor ons moet versigtig wees. Ek dink die Wes-Kaapse voorstel is min of meer so versigtig as wat jy kan wees, daarom wil ek die voorstel ondersteun. Ons as gemeente het vroeër vanjaar besluit ons gaan geensins onderskeid tref nie. Ons het ’n paar mense verloor, maar ons is ook ryker met ’n nuwe groep mense.

Johan Koen van Burgersfort: Ek kan nie vir hierdie besluit stem nie. Volgens my verstaan van die Bybel is dit nie vir my aanvaarbaar nie. Ek kom ook van ’n plattelandse gemeente. Na 2015 het ons ook ’n klomp lidmate verloor. Dierbare mense … Ons staan by ’n kruispad. Ek wens ek kan op ’n manier die tyd terugdraai en stop voor ons die besluite geneem het. Om voort te gaan met dié tipe besluite gaan ons net dieper en dieper in die moeilikheid kom.

Jampie Nel, Bellville: ’n Oom het vir my kom sê het hy kan nie die Here loof nie, omdat die orrelis met ʼn man getroud is. Ons is in ’n wêreld wat morsig is. Dit gaan net moeiliker raak. Ek dink hierdie is ’n ongelooflike voorstel. Dit gaan ons ook op ander terreine help. Ek is verskriklik dankbaar dat ons nie die Woord soos 2 000 jaar gelede verstaan nie. Dan sou ons nou slawe gehad het en vroue nie ’n plek gehad het nie.

Riaan van Zyl, Bethlehem: Ek praat vanaand met ’n rein hart. Ek wil teen die voorstel praat as ewemens, nie as medemens nie. Ons is deel van ’n liggaam van Çhristus. Wanneer een lid ly, ly die hele liggaam. Ek was self op die markplein in die lewe. As ek na die voorstel kyk, kan ek nie saamstem met die voorstel nie.

Egbert Steyn, Oos-Kaap: Ek is nie bereid om gelowiges te vervreem wat anders as ek glo nie – ek vra dat ons ruimte skep vir dié wat anders as ons glo.

Ernst Coetzee, Namibië: Die huwelik is ’n sakrament, een man en een vrou. Ek kan nie myself vereenselwig met hierdie voorstel nie.

Sandra Leeuwner, Wes-Kaap: My hart is stukkend. Ek kan nie verstaan hoe daar soveel verdeeldheid kan wees as ons dieselfde Here liefhet nie. Hoe kan ons dieselfde Woord lees en so verskil? Ons moet ook glo dat die Gees oortuigings in almal se hart sal bring. Die Here sal self vir ons die antwoorde gee. Daarom ondersteun ek ook die verslag. Ek staan nie hier in oortuiging nie, maar in totale afhanklikheid van God. – Bykomede verslaggewing deur Conette le Roux

Sinode: Nelis onttrek tydelik

Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, het hom as voorsitter van die sinode onttrek vir die duur van die gesprek oor selfdegeslagverhoudinge wat Dinsdagmiddag plaasvind.
Hy het aan die sinode gesê hy was voorsitter van die 2015 sinode waarvan prosedures en besluite onder die vergrootglas gaan kom. Daarom gee hy die voorsitterstoel vir die duur van die debat oor aan ds Nioma Venter, die ondervoorsitter van die sinode.

NG Kerk kry beleid oor seksuele misbruik en wangedrag

Die NG Kerk se Algemene Sinode in Benoni het ’n omvattende beleidsdokument oor seksuele misbruik en wangedrag goedgekeur. Dit gaan deel van die Kerkorde word.

Die nuwe beleid is die resultaat van gesprekke oor jare oor die manier waarop vroue soms in die kerk behandel word. Die sinode het Dinsdag na ’n video-vertoning gekyk waarin manlike predikante verskeie kwetsende opmerkings voorlees wat vrouepredikante van mans of ander vroue moes aanhoor.

Dit wissel van aanmerkings oor hulle voorkoms tot by opmerkings met die strekking dat vroue onbekwaam is om predikante te wees. Daar was selfs opmerkings met seksuele innuendo’s wat as seksuele teistering bestempel is.

Die beleidsdokument van nege bladsye in die agendaboek, sit breedvoerig uiteen wat alles as seksuele misbruik of wangedrag gesien word. Dit wissel van enige kontak met of interaksie met kinders waardeur die kind gebruik word vir seksuele stimulasie, tot by suggestiewe taal of gedrag, onaanvaarbare oogkontak, onwelkome aanraking of streling wat fisiese of emosionele welwese van die persoon sal bedreig”. 

Seksuele teistering, verkragting en die besit van pornografie word alles in die beleid ingesluit.

Lees ook: Sinode: Dit gons oor dié video

Die beleid maak voorsiening daarvoor dat elke kerkraad, ring en sinode ’n aanmeldingsliggaam moet hê waar klagtes ingedien kan word.  Op Algemene Sinodale vlak sal daar ’n Algemene Taakspan Seksuele Misbruik wees.

Daarby word die volledige proses verduidelik hoe die klag hanteer moet word. Dit sluit die verhoor in tot by die reg op appél.

Die sinode het ook alle kerkvergaderings aangemoedig om moeite te doen om te verseker dat vroue oral in die kerk billike verteenwoordiging geniet. 

Dr Fanie Cronjé van die taakspan vir Gendergeregtigheid het gesê hulle vra nie ’n kwotastelsel nie. Daar is geen dwang in die besluite nie. Hulle vra egter dat die kerk die vryheid wat hy het, sal gebruik om hiermee saam te werk. 

VIDEO: Hoe moet die NG Kerk gasvryheid uitleef?

Hoe moet die NG Kerk in hierdie tyd in sy konteks die gasvryheid waarvan die evangelie praat, uitleef? Hierdie vraag is Dinsdagoggend met die dagopening van die NG Kerk se Algemene Sinode aan sinodegangers gestel. 

Ds Anandie Greyling van Centurion het Lukas 11:5-8 gelees en gepraat oor hoe die eerste hoorders van die teks dit sou verstaan het. Jesus vertel daar ’n gelykenis van ’n reisiger wat in die aand by ’n man aankom en van hom gasvryheid ontvang. Die gasheer het nie kos vir hom nie, en gaan vra hulp by ’n buurman. Dié gee dit uiteindelik omdat hy iets daarvoor terugverwag.

Dié buurman wat gasvryheid “leen” verteenwoordig eintlik ’n leuen van wat gasvryheid is, het Greyling gesê.

Prof Nelus Niemandt het gesê baie gemeentes beskryf hulleself as ’n familie. Hy het egter gemaan dat as ’n gemeente so geheg aan mekaar verbind kan wees, dat dit moeilik is vir iemand om van buite in te kom.

Hy het die sinode herinner dat die kerk ’n gemeenskap van verskillendes is wat van mekaar kan verskil. Die beeld van die kerk as die liggaam van Christus wys juis op die verskille tussen lede.

Lees ook: REGSTREEKSE DEKKING @SINODE

Die kerk, het Niemandt gesê, is ’n gemeenskap met Christus as middelpunt, maar met grys grense. Soos daar mense van buite inkom, word die kerk se identiteit gedurig vernuwe.

Die NG Kerk moet egter ook gasvryheid ontvang. Niemandt het daarop gewys dat die wit Afrikaanse bevolking van Suid-Afrika teen 2030 net 1,8% van die bevolking sal wees.

Die kerk moet hom daarom opmaak vir die wysheid, tradisies en idees van ander mense. 

Die kerk moet gasvryheid op so ’n manier gee en ontvang dat mense hom sal glo, het Niemandt gesê.

Afgevaardigdes by die vergadering van die Algemene Sinode luister na prof Nelus Niemandt se bydra oor gasvryheid en kerkwees. Foto’s: Le Roux Schoeman

Hy het gesê die beste manier om ’n kultuur van gasvryheid te kweek, is om bymekaar te leer.

Om dit te oefen, is sinodegangers gevra om iemand anders in die sinode wat hulle nie ken nie, vir middagete te nooi, en oor middagete verder daaroor te gesels.

Nuus uit Nederland: Só lyk huweliksbevestiging nou, sê PKN

Delft (Nederland). – Die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) het pas besluit om ’n verdere stap te doen om die verskil in huweliksbevestiging van homo- en heteroseksuele paartjies af te skaf.

Tans is twee aspekte van die PKN se houding van belang. Eerstens mag gemeentes self besluit of hulle homoseksuele huwelike wil bevestig, en tweedens maak die kerk ’n onderskeid tussen die “inseën” van homoseksuele huwelike en die “seën” van heteroseksuele huwelike. Eersgenoemdes dra liturgies en kerkregtelik minder gewig as “gewone” huwelike.

Dié onderskeid is pas deur die PKN se Algemene Sinode afgeskaf. Daarby is uitdruklik gestel dat die kerkorde “geen waardeoordeel gee oor die seksuele geaardheid van sy lede of oor hul persoonlike keuses as dit gaan om huwelike of ander lewensverbintenisse”.

Die begrippe “inseën” en “seën” van huwelike sal voortaan dieselfde liturgiese betekenis hê, “naamlik twee mense in hul huwelik of lewensverbintenis stel voor die aangesig van God, onder die gelofte van Sy bewaring, genade en vrede”.

Daarby het die sinode ’n beroep op gemeentes gedoen om “die veilige ruimte vir alle lidmate te vergroot waarin die gesprek oor geslag, seksualiteit en seën gevoer kan word”.

Die huidige situasie waarin gemeentelike kerkrade self kan besluit oor die voltrekking van homoseksuele huwelike bly bestaan.

’n Jaar gelede was die sinode nog onwillig om die verskil tussen die “inseën” en “seën” van huwelike af te skaf. Toe is gevrees dat dit die kerk kan laat skeur.

Blykbaar word nou gemeen die vryheid van gemeentes om self oor die saak te besluit is voldoende om ’n kerkskeuring te voorkom.

  • Hierdie berig is ná publikasie aangepas. – Red. 

Verbeel jou dat ons grense kan afbreek en oorkom: #Imagine

In 2013 word ’n klomp jongmense saam opgewonde en stig die #Imagine-beweging. In 2016 word hierdie beweging geregistreer as nie-winsgewende organisasie. #Imagine is ’n beweging wat honderde verskillende denominasies insluit.

#Imagine volg ’n netwerkbenadering waar duisende tieners by vier verskillende plekke byeenkom. Dit vind plaas in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat en Limpopo. Die #Imagine-fees vind gelyklopend by hierdie vier plekke plaas. Tieners kan nie as individu na hierdie fees toe kom nie, maar net as groep en #Imagine probeer daardeur die “eiland-effek” te verminder en voorkom. Vir elke tien tieners wat hierdie geleentheid bywoon moet daar ’n volwasse leier wees wat die fees saam bywoon.

In 2016 woon 7 260 mense hierdie fees by en in 2019 woon 6 279 mense reg oor die land die fees by. Dit sluit meer as 40 verskillende denominasies in. #Imagine breek skanse en grense af. Jongmense is oor die afgelope drie jaar gevra wat die geleentheid vir hulle beteken en of dit enige sin vir hulle het. Verskillende data is ingewin om die vrae te beantwoord. Sowat 25% van dié jongmense meen dat die #Imagine-fees hulle laat besluit het om Jesus te volg. Ook meen 67% dat die geleentheid hulle help om as Christen te groei. 51% het ’n vriend of vriendin van ’n ander ras of kultuur gemaak en 56% vertel dat hulle nou meer aktief en betrokke is by hulle plaaslike gemeente.

Tinarié van der Merwe, verhoudingsbestuurder by #Imagine, is opgewonde oor ’n nuwe inisiatief: #Imagine Skills skop af vanaf 2020 en dit is om vir mense tussen die ouderdom van 18-25 sekere vaardighede aan te leer vir die werksplek. Tinarié vertel dat #Imagine Skills ’n verskil wil maak in Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer. Foto: Nico Smit

#Imagine help tieners om deel van iets groter te wees. Dit inspireer tieners om ’n verskil te wil maak en brûe te bou oor ander kulture heen en so ook saam te kan aanbid. #Imagine wil ’n ekumeniese, inklusiewe netwerk van kerke skep en saam met dit ook volhoubaar wees vir die pad vorentoe. Hierdie inisiatief was ’n verbeeldingsreis van ’n klomp jongmense en vandag is dit nie net verbeelding nie, maar ’n werklikheid wat ’n verskil wil maak tussen jongmense oor grense heen.

Tinarié van der Merwe (foto), verhoudingsbestuurder by #Imagine, is opgewonde oor ’n nuwe inisiatief: #Imagine Skills skop af vanaf 2020 en dit is om vir mense tussen die ouderdom van 18 en 25 sekere vaardighede aan te leer vir die werksplek. Tinarié vertel dat #Imagine Skills ’n verskil wil maak in Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer.

Ons het by sinodegangers uitgevind wat #Imagine vir hulle beteken en hoe hulle dit beleef het.

Anandie Greyling (27) vertel dat #Imagine ’n veilige spasie bied en dat mense oor grense heen kan saamwerk.

Margeurite Sieberhagen (26) vertel dat sy haar eerste #Imagine in 2019 bygewoon het en dat sy daar beleef het hoe tieners ’n belewenis met God het.

Tiaan Müller (27) is ’n onderwyser en sê hy sien die groot verskil wat dit binne sy tieners se lewe maak.

#Imagine 2020 se datum is 27-29 Maart.

Kerke regoor wêreld ‘worstel met dieselfde kwessies’

“Geweld teen vroue, seksualiteit, ekologie. Ons worstel met dieselfde kwessies. Dit is dikwels universeel. Ek wil graag sien hoe die NG Kerk dié kwessies hanteer sonder om die kerk te verdeel.”

So sê ds Edwin Zulu, moderator van die Reformed Church in Zambia, met wie die NG Kerk ’n “breër ekumeniese verhouding” het.

“Ons is uiters bevoorreg om breër ekumeniese verhoudings te hê. Ons is so bly dat julle saam met ons reis hierdie week,” het ds Nelis Janse van Rensburg by die tweede dagsitting van die Algemene Sinode gesê toe hy die sowat nege gaste van ander kerke verwelkom het.

Prof Isabel Phiri (middel, in swart geklee) het vanaf Genévè, Switserland as verteenwoordiger van die Wêreldraad van Kerke gekom om die NG Kerk se Algemene Sinode by te woon.

Zulu wys ook die vernuftige toestel waarmee hulle na ’n tolk luister wat die hele vergadering in Engels vertaal.

Prof Isabel Phiri het vanaf Genévè, Switserland gekom as verteenwoordiger van die Wêreldraad van Kerke (WVK). Phiri is onder andere verantwoordelik vir kwessies rondom seksualiteit wat homoseksualiteit, heteroseksualiteit, geslaggebaseerde geweld en verkragtings insluit.

“Wat ons as die WVK doen is om waar te neem hoe hierdie kwessies wêreldwyd neerslag vind en dan vra ons vir God wat Hý wil hê ons moet doen,” sê Phiri.

Sy vertel van ’n onlangse gebeurtenis wat haar eie verstaan van seksualiteit uitgedaag en verander het. “Ons het Togo, in Wes-Afrika, besoek en die jeugbeweging het versoek om met ons te vergader. ’n Groot groep jongmense sê toe aan ons: ‘Ons is homoseksueel. Dit was nie ’n keuse nie. Dit is hoe ons gebore is. Ons ouers, wat kerklidmate is, het aan ons geboorte gegee. Hoekom sê julle nou vir ons ons is sondig?’”

Phiri verduidelik: “As ons sê dat elke persoon volgens die beeld van God geskep is, is dit mos ook God.”

Dr Wouter van Wyk, die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHKA) se sekretaris, vertel dat dit sy eerste Algemene Sinode is wat hy bywoon. “Ek is baie geïnteresseerd. Ek maak notas om te kyk wat ek kan saamvat huis toe,” het Van Wyk gesê.

LEES OOK: HERVORMERS SE ‘SINODE’: DÍT HET UITGESTAAN

Die ekumeniese gaste, wat tans die sinode bywoon, sluit ook leraars van sover as Hongarye, Nieu-Seeland en Zimbabwe in. Woensdag is daar ’n ekumenemiddag waar gaste die vergadering sal toespreek en ook gespreksgeleenthede met die sinodegangers sal hê.

Volgens Sophia du Preez, wat vir die reëlings van die ekumeniese gaste verantwoordelik is, sal heelwat gaste van ander kerke eers op Woensdag (9 Oktober) arriveer. 

Algemene Sinode: Sal vergadering vergroot?

Die NG Kerk se Algemene Sinode kan in die toekoms anders lyk en anders funksioneer as tot op hede. Voorstelle hiervoor is Maandagoggend op die kerk se Algemene Sinode in Benoni bespreek

Dr Barry Tolmay, voorsitter van die taakspan wat met die voorstelle vorendag gekom het, het aan die sinode gesê dat die rigiede strukture van vroeër ’n weerspieëling was van hoe die samelewing gelyk het.

Intussen het die wêreld so verander dat alles baie meer vloeibaar en veranderlik is. Daarvoor het die kerk meer aanpasbare strukture nodig.

Die taakspan het die brief aan die Efesiërs gebruik as teologiese begronding vir hulle voorstelle.

Tolmay het gesê die kern daarvan is die kruis van Jesus Christus. Die NG Kerk is ’n kruiskerk wat diep geanker moet wees in die waardes van die gekruisigde en opgestane Jesus Christus wie se Gees op sy kerk uitgestort is en wat sy kerk missionaal stuur.

Die kerk is God se antwoord op die nood van ’n verskeurde en verwarde wêreld.

Teen dié agtergrond word voorgestel dat die Algemene Sinode vergroot word van 200 afgevaardigdes tot 370. Daarvan word 200 gelykop verdeel tussen sinodes – elkeen kan 10 dominees en 10 ouderlinge stuur. Die helfte van hulle moet verkieslik jonger as 40 wees.

Verder word daar 160 afgevaardigdes proporsioneel verdeel tussen sinodes, sodat groter sinodes meer mense kan afvaardig as kleiner sinodes. Daarbenewens kan 10 mense uit die kerk se teologiedosente afgevaardig word.

Die Algemene Sinode sal dan elke vier jaar vergader.

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) behartig die Algemene Sinode se werk tussen sittings. Dit word saamgestel uit vyf verteenwoordigers van elke deelnemende sinode die algemene sekretaris en algemene bestuurder, en die voorsitters van direksies van kerklike maatskappye. Voorsitters van taakspanne kan gekoopteer word.

Die ASM kies by sy konstituering sy eie voorsitter en ander leiers. Hulle dien tot aan die einde van die volgende Algemene Sinode. Dit beteken dat die Algemene Sinode volgens dié voorstel nie sy eie leiers sal kies nie.

Die gedagte is dat die Algemene Sinode die minimum besluite moet neem.

Die voorstel is ook dat enige kontensieuse etiese sake wat potensieel verdelend kan wees, in oorlegepleging met die streeksinodes gehanteer moet word.

Die Algemene Sinode se taak moet wees om roepingsprioriteite vir die kerk te bepaal. Die Algemene Sinodale Moderamen moet dan die fokusareas vir die volgende termyn bepaal en taakspanne van die sinode moet daaraan uitvoering gee.

  • Die voorstelle sal verder bespreek word en die sinode sal later daaroor besluit.