Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Eers was die vraag vir joernaliste “hoeveel mense kliek hoeveel keer op ’n storie?” Nou lyk dit asof impak toenemend gemeet word deur te vra, "hoe handhaaf jy uiteenlopende kontakpunte met lesers en hoe sluit jy betekenisvol aan by gesprekke wat reeds binne gemeenskappe gevoer word?" Le Roux Schoeman is redakteur van Kerkbode. Foto: Argief

Mediarubriek: Is daar nog iets soos ’n getroue leser in ’n see van inhoud wat op sosiale media onderdeur ons duime rol?

Die afgelope drie maande het sowat 21 000 mense gemiddeld 55 000 keer per maand op Kerkbode se aanlyn inhoud gekliek, volgens Google Analytics.

’n Berig oor Wêreldbiddag vir Vroue gevolg deur berigte en briewe oor die GKSA se besluit dat vroue nie as ouderlinge mag dien nie, was die mees gelese stories.

Maar heel bo-aan die lys is Vakatures: die beskikbare poste binne die NG Kerk.

Watter prentjie skets hierdie data vir ons oor wie deesdae Kerkbode lees, buiten dat hulle 67% vroulik is en slegs 5% jonger as 35 is? Kom ons bekyk die vraag.

 

Nuwe lens op leserskap

Sosiale media herskryf tans die nuusmedia se eie storie. Nuwe vertelstyle en inhoudsfrekwensie op platforms soos Instagram en YouTube Shorts beteken dat alle inhoudskeppers nuut moet dink oor wie nou eintlik hulle gehoor is. Eers was dit “hoeveel mense kliek hoeveel keer op ’n storie?” Nou lyk dit asof impak toenemend gemeet word deur te vra, hoe handhaaf jy uiteenlopende kontakpunte met lesers en hoe sluit jy betekenisvol aan by gesprekke wat reeds binne gemeenskappe gevoer word?

By Kerkbode is die gedrukte koerant ’n dun naelstring wat ons direk met ons eie unieke geskiedenis van 177 jaar verbind. Maar op ons aanlyn platforms lyk kontinuïteit baie anders. Tussen die pole van die berekende besoeker en die terloopse besoeker is daar ’n see van lojaliste, soekers, gelowiges, nostalgieses, omgekraptes, teleurgesteldes, nuuskieriges, ingeligtes, voorlopers, dwarstrekkers, oorblufdes, verveeldes, vrolikes, dolerendes, lawwes, tevredenes … Is daar nog hoegenaamd iets soos ’n “getroue” leser in die see van inhoud wat op sosiale media onderdeur ons duime rol? Of dra ons almal ligter aan ons lesersidentiteite?

 

Wat ons anker

Daar is wel ’n stabiliserende krag in ’n wêreld van goedkoop LIKES en moeitelose UNSUBSCRIBES. Dit is gemeentes wat steeds betaal om elke maand die 20-blad papierkoerant te ontvang, die 3 500 mense wat sê: stuur vir ons elke week jou nuusbrief, die besluitnemers binne die kerksisteem en sinodale strukture wat joernalistieke projekte ondersteun en die sowat 150 mense wat Vriende van Kerkbode geword het om ’n individuele donasie te maak. By hulle hoor ons die uitnodiging: Verras ons, ons luister.

 

Help ons hiermee

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top