Ek wou as Kerkbode-redakteur reeds in 2023 meer oor dr Gerdrie van der Merwe gaan uitvind. Wie is hierdie man uit wie se pen daar aan die einde van elke jaar ’n gerf goed nagevorsde en beheersd geskrewe doodsberigte van leraars vloei? Ek het hom op Trompsburg gaan besoek en ‘n onderhoud gevoer oor als van die maak van gemeenteboeke tot die vernuf agter die skryf van ‘n goeie doodsberig en natuurlik sy eie lewe as predikant.
Vroeër vanjaar het Van der Merwe die Eerwaarde Andries Dreyer Toekenning: Kerkhistoriese Navorsing vir sy bydrae as kerkhistorikus ontvang. Hy het reeds meer as vyftig gedenkboeke oor gemeentes en hul verhale asook ander tematiese artikels die lig laat sien en behartig sedert die 1970’s die In Memoriam-rubriek in die Jaarboek van die NG Kerk en vir hierdie publiaksie. Hieronder volg die toeligting tot die prys wat ek einde Mei vanjaar tydens die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds se toekenningsgeleentheid op Wellington gelewer het in ‘n poging om iets van die man en sy ywer beskryf.
Lees ook: Tom Smith wen groot en twee nuwe toekennings sien die lig
Commendatio: Dr Gerdrie van der Merwe
Hy het 75 000 boeke in sy strandhuis.
En dan moet jy weet, hy het meer as een huis, met meer as een boekery.
Maar as jy nóú vir dr Gerdrie van der Merwe sou voorkeer en sê jy soek ’n boek oor ’n bepaalde ding, sal hy vir jou sê: Gaan na studeerkamer nommer ses, op die boonste rak, in die vyfde of sesde boek sal jy gegewens daaroor kry …
Dr Gerdrie beskryf boeke as sy geestesvriende. “Dit vul my lewe en my menswees.” Só het hy by geleentheid in sy pastorie op Trompsburg aan my verduidelik.
Lees ook: In Memoriam
“Dis eintlik ’n baie moeilike proses,” het dr Gerdrie vertel. “Jy kan nie met die dooies onderhandel wat in die hemel is nie … Maar jy probeer nou maar gegewens bymekaarmaak.”
Sy geheim is om dit persoonlik te maak. “Jy moet as ’t ware in die persoon se bloedstroom kom,” vertel hy.
Luister ook: RSG-onderhoud met dr Gerdrie
Dr Gerdrie lewer histories kosbare lewensketse oor predikante van die NG Kerk. Maar tientalle gemeentes sal hom ook ken as gemeenteboekskrywer. Ook in daardie hoedanigheid het die NG Kerk en die breër taal- en kultuurgemeenskap in hom iemand wat vasberade is om na te slaan, om seker te maak, om op te volg en na te vors, om neer te pen en om wal te gooi teen die kollektiewe aandagafleibaarheid wat soveel van ons kennislandskap omdolwe.
Deur buitengewone vernuf en doodgewone moeite fokus hy op die bondige opteken van lewensloop.
Dr Gerdrie versoen in sy skrywes mensekennis met boekekennis en plaas die klem op die mooier gegewens: “Ons is almal erdekruike wat maklik breek,” verduidelik hy.
Reeds van die laat 1970’s skryf dr Gerdrie van der Merwe van sy eerste doodsberigte vir publikasie in die Jaarboek en Kerkbode. En vanjaar is hy die eerste wenner van die Eerwaarde Andries Dreyer-toekenning: Kerkhistoriese Navorsing.
Dit is erkenning aan iemand wie se roeping in sy werk deurbreek.
