Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Rondom middernag op Maandag 29 Junie het 'n bus by die vlugtelingsentrum in Epping opgedaag, maar die hoeveelheid mense het die ingewikkelde repatriasieproses vertraag en oorweldig. Foto’s: Le Roux Schoeman

Immigrante-protes: Gelowiges praat met nuanse, stilte én met dade

Terwyl duisende ongedokumenteerdes die afgelope week die land verlaat weens gemeenskapsgeleide protesaksie, het kerkleiers gemaan dat sorg vir die vreemdeling spruit uit die feit dat jy jou eie slawerny onthou. Le Roux Schoeman berig oor twee dae waarin Suid-Afrika moes besin oor hoe hulp lyk.

 

Timothy het ’n jaar gelede in ’n aanmekaargeflansde bootjie oor ’n rivier met krokodille ’n vreemde land onwettiglik binnegekom en vanaand tel hy onder die byna 2 000 mense wat by ’n vlugtelingsentrum aanmeld vir nog ’n dramatiese lewenservaring: Massa-repatriasie in die middel van ’n Kaapse winter.

Hy kom van Gokwe, die Putsonderwater van Zimbabwe. Tydens hierdie waarnemer se agtuurlange besoek aan Binnelandse Sake se Vlugtelingverwelkomingsentrum in Epping, Kaapstad, staan Timothy Godot-agtig en wag van vroegaand tot 2 uur die oggend op iets wat nie kom nie: ’n Geleentheid terug na Zim. Timothy is 17 jaar oud. Ons gesprek vind plaas op Maandag 29 Junie, die vooraand van landwye protes teen onwettige immigrante.

Die administratiewe kapasiteit van die vlugtelingsentrum in Epping is oorweldig deur die hoevelheid mense wie se papierwerk daar hanteer moes word.

 

‘Ons leef in vrees’

Die dag van landwye protes breek aan. Dinsdag 30 Junie. In die Kaapse middestad verduidelik Zodwa Booi aan Kerkbode dat mense in haar gemeenskap (Mfuleni op die Kaapse Vlakte) daagliks in vrees lewe vir buitelanders wat by misdaad betrokke is. Booi is ’n Wes-Kaapse leier van Operation Dudula en een van die leiers van sowat 300 mense wat in Waalstraat sing en slagspreuke laat weerklink teen die muur van die provinsiale wetgewer.

Is dit nie ’n growwe veralgemening om te beweer dat veral buitelanders misdaad pleeg nie, vra ’n mens haar. Sy gee toe dat Suid-Afrikaners ook hulleself op groot skaal daaraan skuldig maak, maar glo die rol van buitelandse netwerke in dwelmverkope wat Operation Dudula glo al oopgevlek het is “oor en oor bewys” en teiken op siniese wyse kinders met spotgoedkoop dwelmmiddels soos tik. “Ons moet ontslae raak van mense wat nie van hier is nie, dat ons ons eie misdadigers kan regsien,” het sy bygevoeg tydens ’n betoging in Waalstraat in die Kaapse middestad. “Dit raak nie mense wat woon in veiliger woonbuurte nie, dit raak ons, die township-omgewing. Dit is wat ons daagliks beleef. Ons het kinders gehad wat dood is van kos wat hulle eet by Spaza-winkels (wat deur buitelanders bedryf word). Dit raak ons,” sê sy.

Oor die lot van die vele wat in aanloop tot Dinsdag se optog inderhaas moes vlug – soms te midde van ongure weer en met kinders en selfs babas op hulle rug, sê sy: “Ons hou nie daarvan om kinders in die koue te sien nie, maar hulle regerings moet intree.”

Sy voeg by: “Ons kan nie as Suid-Afrika intree vir regerings wat mense in die steek laat nie. Ons is waar ons is oor ons verantwoordelikheid neem vir verskillende mense … Suid-Afrikaners is verwelkomende mense, maar dit het nou te veel geword.”

Talle ander betogings teen onwettige migrante het Dinsdag in die provinsie en landwyd plaasgevind. ’n Klipgooi met Waalstraat af, het sowat 20 geloofsleiers vir ’n uur in stil protes op die trappe van die St George-katedraal vergader, met A4-blaaie waarop woorde soos “vrede” en “geregtigheid” in swart ink gedruk is. Stilte was ’n treffende toevoeging tot die debat.

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het sy allerbes gedoen om op geen manier die kompleksiteit van die gesprek rondom migrante te verskraal nie, met die onbedoelde gevolg dat hulle persverklarings langer en langer word in ’n digitale landskap waar inhoud neig om korter en korter te word.

Die volgende paragraaf uit ’n 3 000 woordlange pastorale brief wat die kerkleiers op 9 Junie in aanloop tot die protesaksie uitgereik het, gee ’n indruk van hierdie aanslag: “We must also remember that many who march and protest are not strangers to us, but members of our own congregations, who worship with us on Sundays and who raise genuine concerns that weigh heavily on their lives … Yet, having listened, we must say with equal honesty that a real grievance does not make a violent remedy right, nor a false culprit true. To feel genuine pain is one thing; to lay that pain at the wrong door, and then to take the law into one’s own hands, is another.”

Die ekumeniese liggaam, wat ook die NG Kerk verteenwoordig, beroep hom nie net op die ideaal van Ubuntu om sosiale wrywing te vermy nie. Hulle bied ’n Bybelse blik wat die oorbekende (lande vermoei deur armer buurlande) weer “onbekend” maak in terme van hedendaagse politieke diskoers: “Brothers and sisters, our judgment in this matter is not our own; it is given to us by the Word of God, which speaks with one voice across our traditions. The Scriptures return again and again to the stranger, the sojourner, the one far from home and who commands not suspicion but love. Israel was taught to treat the foreigner as native-born, remembering its own slavery in Egypt. Our Lord Himself was a refugee, carried into Egypt as a child to escape the sword of Herod. He has told us, plainly and without escape, where He is to be found: ‘I was a stranger, and you welcomed me … Truly I tell you, what- ever you did for one of the least of these brothers and sisters of mine, you did it for me.’ – Matthew 25:35, 40.”

Honderde burgers van Zimbabwe het Sondag 28 Julie voor dié land se konsulaat in gietende reën gewag op busse om te help met die repatriasie-proses.

 

‘Te min naasteliefde’

Op dieselfde aand wat Timothy op ’n bus na die grenspos staan en wag het, klim ds Riaan de Villiers van Groote Kerk met nog ’n ywerige lidmaat in die stadgemeente se bussie en karwei doeke en sanitêre doekies na Epping se skares. Hy werk saam met ander noodorganisasies, ander kerkleiers, ander Samaritane en ander oorblufde burokrate wat hierdie draaibal probeer speel. Massas mense in die koue nag. Busse wat van waar moet kom? Met watter petrolgeld? Na watter bestemming?

Timothy (17).
Ds Riaan de Villiers (links) is een van ‘n groot groep geloofsgemeenskappe wat bystand aan vlugtelinge gebied het. By hom is Francois du Plessis, ‘n lidmaat by Groote Kerk.

Hy lyk moeg maar moedig. “Ons probeer al heel week om te doen wat ons kan. ’n Mens se hande voel afgekap. Jy voel oorweldig. Ons sou graag meer wou doen. Maar op die oomblik was ons doel net om daar te wees en in mense se behoeftes te voorsien,” sê De Villiers terwyl hy ounag op die stil N2 terugkeer na die gemeentesaal waar voorraad van skenkings geberg word. “(Ons wil) op ’n praktiese manier iets van liefde en die koninkryk van God wys. Dit voel vir my ons het ’n groot gebrek aan naasteliefde in ons land. Wat doen ’n mens om om te gee, om vir mense te sorg?”

Met ’n rooi keps op sy kop, voor ’n ry opslaantoilette en rye en rye mede-Zimbabwiërs agter hom, skets Timothy iets van sy lewe tot op hede. “I have 17 years now, yes, I am too young. My mother is die and my father also is die. So no-one is give me something to do in my life.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top