Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Ons deel die oortuiging dat geweld, ontmensliking en haat geen plek in die lewe van Christene het nie, skryf Nioma Venter namens die Taakspan Ekumene van die Algemene Sinode.
Die afgelope weke het verskeie ekumeniese liggame hulle stem laat hoor oor die groeiende spanning, dreigende geweld en vyandigheid teenoor ongedokumenteerde burgers van ander lande in Suid-Afrika. Kerkleiers het ook op 17 Junie die Presidensie oor die aangeleentheid besoek. Die boodskap in elkeen van die ekumeniese verklarings en die appèl op die regering is min of meer dieselfde, maar wat is die unieke stem van die NG Kerk hierin?
Lees die verklarings deur kerkorganisasies hieronder
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het in ’n pastorale brief erken dat baie Suid-Afrikaners se frustrasies oor werkloosheid, korrupsie, swak dienslewering en ekonomiese onsekerheid nie geïgnoreer kan word nie. Die teenwoordigheid van ongedokumenteerde persone in die land kan egter nie as die sondebok vir al hierdie realiteite uitgemaak word nie. Staatsinstellings wat oor tyd verantwoordelik was vir swak dienslewering en korrupsie, behoort verantwoordelikheid te aanvaar en onverwyld na oplossings te werk.
In ’n soortgelyke verklaring veroordeel die Afrika Gemeenskap van Gereformeerde Kerke xenofobiese aanvalle en beklemtoon dat alle mense na die beeld van God geskep is. Dié liggaam, waarvan die NG Kerk ook ’n lid is, bevestig ook die beroep op politieke leiers, staatsinstellings en gemeenskappe om geweld af te wys en ’n vreedsame naasbestaan te bevorder.
Op soortgelyke wyse het GRAPE (Global Reformed Advocacy Platforms for Engagement) die kerk herinner aan die Bybelse roeping om die vreemdeling lief te hê. Hulle verklaring plaas die huidige spanning binne die konteks van armoede, ongelykheid en ekonomiese uitsluiting en onderstreep dat om kwesbare groepe te teiken, nie die werklike oorsake van sosiale nood in ons land aanspreek nie. Die fokus van die GRAPE-verklaring val sterk op menswaardigheid, gasvryheid en ekonomiese geregtigheid.
Die NG Kerk ondersteun elkeen van hierdie verklarings op grond van breë konsensus. Ons deel die oortuiging dat geweld, ontmensliking en haat geen plek in die lewe van Christene het nie; dat elke mens die beeld van God dra; en dat die kerk geroep is om vir geregtigheid, waarheid en vrede op te staan.
Tog wil ons ook ’n eie aksent by die gesprek voeg. Die belangrikste vraag vir gelowiges is nie bloot wat ons oor al hierdie dinge moet sê nie, maar wat die Here in hierdie tyd van ons vra en hoe ons in handel en wandel daarop reageer.
Miskien vra hierdie oomblik juis ook verootmoediging van ons. Miskien het ons nie nóg verklarings nodig nie, maar juis die moed om ons vrese en onsekerheid eerlik voor God te bring. Die Psalms leer ons immers hoe om ons seer voor die Here te bekla, te bid en te hoop te midde van verwarring en nood. Hoe dikwels roep die Psalmdigter nie na God uit nie? Laat ons met geloofsvertroue daardie voorbeeld volg.
Ons bring voor die Here die mense wie se omstandighede ons dikwels nie ken nie en waarvan ons min verstaan. Eerder as om te oordeel of eenvoudige antwoorde te soek, laat ons ons nederig, afhanklik en met selfondersoek na die Here wend.
Juis hier lê die unieke bydrae wat gelowiges (die kerk) kan maak. Ons roeping begin nie by openbare verklarings nie, maar by die gesindheid van ons harte. Die geloofwaardigheid van ons getuienis word gemeet aan hoe ons leef. Dit word sigbaar in hoe ons mense ontvang, spanning hanteer, na ander luister, onreg aanspreek en menswaardigheid beskerm in ons eie gemeenskappe.
As volgelinge van Jesus Christus kan ons nie geweld regverdig nie en kan ons nie mense tot vyande reduseer nie. Ons kan nie toelaat dat vrees en woede ons harte verhard of ons optrede bepaal nie. Daarom bid ons vir vrede, vir wysheid en vir ’n dieper menslikheid in ons land. Mag die Here ons leer om in hierdie gespanne tyd geloofwaardig, nederig en hoopvol te leef – as vredemakers wat die beeld van God in elke mens raaksien.
Dr Nioma Venter is die algemene sekretaris van die NG Kerk.
2026 06 18-Public statement from ACRC on xenophobia in SA FINAL_A Pastoral Letter to the Member Churches and All People of God & Goodwill_ (1) Grape_26_06_10 – Grape Statement on Xenophobia, Human Dignity and Economic Justice (1)
