Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vier skrywers (tussen 40 en 80) beskryf die kronkelpaaie wat ’n mens soms na heelwording stap in ’n bundel wat steeds die stem van wit mans wil aanhoor

Hoe voel dit as jou kerkgebou afbrand en wat verg dit om dit as teologiese geleentheid eerder as verpletterende terugslag te sien?

Hoe beleef ’n mens as afgetrede wewenaar veroudering as ’n proses van “jouself in groter volheid word” en nie as sloping nie?

Hoe voel dit om in kosmopolitiese Sunnyside in Pretoria te woon terwyl jy kies om te dien in ’n kerkverband wat die teologie van wit monokultuur vervolmaak het en dalk nie die energie sal hê om ’n volgende ding te beliggaam nie?

En hoe verwerk ’n mens dit om in die koerante as gay ge-out te word en dan jou geliefde aan selfdood te verloor?

Dít is die stories wat vier wit mans met agtergronde in die NG Kerk in ’n nuwe boek vertel.

Die skrywers is tussen die ouderdom van 40 en 80 jaar oud. Elkeen het die sosiale ongeregtigheid van apartheid op verskillende wyses en in verskillende eras gekonfronteer, verduidelik die samesteller James Goddard oor sy keuse van skrywers van Justice, grief and Christ’s pathways to wholeness.

Die bundel kom in die nadraai van die NG Kerk se verlies aan mag en invloed in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die teks sou gelees kon word as ’n antwoord op die vraag of daar onder sulke omstandighede juis na alternatiewe storielyne gekyk moet word om iets te leer.

Om Jesus tot in Sunnyside te volg

Cobus van Wyngaard is ’n teoloog wat skryf oor plek en die doodgewone.

Hy woon in Sunnyside te midde van “white flight, capital flight and instability”, maar anders as iemand soos dr Nico Smith wat in die 1980’s in Mamelodi gaan woon het, is Van Wyngaard se statement bloot dat hy nie trek nie.

Hy probeer die trekkrag na hek-en-heining-gemeenskappe wat in die “afterlife” van apartheid ons lewe op soveel wyses rig, weerstaan. “Little can form us more deeply than deciding on where we will live,” skryf hy. Oor die alledaagse maak dié Unisa-dosent wat in Swaziland grootgeword het ’n punt wat sentraal tot die groter bundel staan en iets van die alledaagse terughark na die radikale: “Writing about Jesus and justice often evokes accounts of near heroic feats of world-changing disruption. Raising children and paying bills seldom remind of such heroism. However, the life ordinarily lived is exactly where we should go,” skryf hy.

LEES OOK: Resensie | Kritiese selfrefleksie oor wit bevoorregting en genesing

Van Wyngaard stel ’n bewussyn ten opsigte van wit bevoorregting ten toon: “I must acknowledge how I benefited personally from apartheid as the grandson of a boilermaker and the son of a PhD holder, I am the product of apartheid social mobility for whites in South Africa.”

En op 40 neem hy afskeid van die idee dat hy as wit man als moet red en optimaliseer. Hy verwoord “grief” as die wete dat hy vele dinge nie in sy leeftyd herstel sal sien nie. “Ruined beyond repair.”

Van Wyngaard bestee die meeste van sy essay aan ’n teologiese besinning oor wat dit vir hom beteken om Jesus na te volg. “For me, Jesus is primarily about how I live.”

Om Jesus tot in die suburbs te volg

Faure Louw se verhaal neem die leser eers na die ou Venda waar hy as jong man in 1972 ’n pos by ’n sendingstasie in die verre noorde van ons land aanvaar het en dan tot in die voorstede van Pretoria waar hy jare later moes tot verhaal kom ná hy gedeporteer is te midde van politieke geweld.

“I had been unprepared to be forcibly removed from an environment where people experienced injustice, poverty, and racism, to an environment of economic privilege, where injustice and racism were everyday practices,” vertel Louw oor die tydperk nadat hy ’n beroep na Elarduspark aanvaar het.

Hierdie boorling van Zimbabwe se essay speel grootliks af in die spanningsveld tussen die swart gemeenskap wat hy as sendeling bedien het en die NG Kerk wat enersyds sending befonds en andersyds die apartheidregering ondersteun het. Hy is vroeg in sy lewe beïnvloed deur teoloë soos David Bosch “who emphasised that mission is not merely about church expansion or conversion, but about participating in God’s transformative work in the world.”

Te midde van die Soweto-opstande teen Bantoe-onderrig in 1976 word die kerkgebou waar Louw op die sendingveld gewerk het afgebrand as deel van die grootse uitkringeffek van die opstand teen apartheid. Met sy aankoms op die toneel skryf hy: “(W)e were confronted with shocked, disillusioned, and traumatised congregants, and the smouldering remains of what had been the church building. We later learned that the church had become a targeted symbol of apartheid.” Die gebou, in die Venda-boustyl, was kompleet met ’n “Whites Only” afbakening, wat uiteraard ook in die brand vernietig is. Louw skryf hieroor en verduidelik vanuit sy kundigheid rondom terapie dat die brand hom gevat het van ’n narratief van “dis verby” tot by ’n narratief van “wat nou?” Van isolasie tot verhoudings.

“The fire became a powerful metaphor in our conversations. What did the fire want to destroy in our perceptions of one another? Was God present in the same way as in the burning bush in Exodus 3? What was God’s message? What did the fire purify, as in Malachi 3:3?

As jou binnelewe buite bereik voel

Rex van Vuuren deel in sy essay drie gebeure wat hom op verskillende punte in sy lewe verward en ontredderd gelaat het.

Sy beste vriend op universiteit wat op 21-jarige ouderdom langs hom doodgery is terwyl hulle die pad oorgesteek het.

Die skrywer se vader wat oorlede is.

En die skrywer se vrou wat “onverklaarbaar” tydens ’n standaard-operasie beswyk het.

Veral die dood van sy vrou herinner hom aan die woorde van die skrywer Pauline Boss: “Loss is ambigious and has no resolution” (’n aanhaling uit ’n skrywe met die title Myth of closure).

Van Vuuren, nou afgetree, se aanvullende kennis van sielkunde en filosofie help hom om van die terme in die boek(titel) fyner te omlyn, by name “wholeness”. Dit is ’n term wat met verskillende kennisvelde oorvleueling toon en vir sommige ’n sterk spirituele karakter dra, terwyl ander dit as ’n sielkundige doelwit beskou. Van Vuuren maak die punt dat godsdienstige tradisies dikwels nie die wysheid bevat vir die lewensvrae waarmee ons elk konfronteer word nie. “When we seek wisdom, the guidance available is not always formative. The problem is that the natural science worldview of our time is so dominant that all ‘gods and devils’ have been removed from our inner landscape and rationalised away. Our inner life has become inaccessible and invisible, as if in a solar eclipse. This is the challenge: how to locate the rules and make sense of the game before the Referee blows the final whistle.”

Potensiaal tot selfkennis

Al vier essays in die boek is waagmoedig, ruimgeestig en teologies in die sin van geloof op soek na begrip. “The authors of this book have broken all the social norms by going public,” skryf John de Gruchy in die nawoord. “God is not alone in knowing their stories; we have all been drawn into the intimacies and the consequences of their actions. Like fellow travelers on a camino, we have become part of a conversation that has the potential to change us along the way through coming to know ourselves, even as we are known by God.”

Van al die bydraes in die boek is dié van Laurie Gaum miskien die een wie se basiese storielyn die bekendste sal wees onder diegene wat kerknuus volg, maar dit is nie sonder nuwe insigte nie.

Laurie se pa Frits was enersyds as NG Kerkleier en voormalige redakteur van Kerkbode vir die jong progressief-gesinde Laurie ’n simbool van die “ou orde”. Andersyds was Frits iemand wat hy liefgehad het. Dáái paradoks: Die uitdaging om met teenstrydigheid saam te leef, is klaarblyklik steeds ’n sentrale deel van Gaum se lewe. As “spirituele aktivis” bewoord Gaum dekades later sy roeping eenvoudiger deur te sê hy is vasbeslote om genesing te bring. “I stay committed to my own healing: healing from being on the receiving end of injury, from a system of oppression and its sometimes un-self-aware agents. This oppression has not been fully transformed, often continuing to exclude and inflict pain, injustice, and discrimination.”

Reeds as jong man het Gaum ’n solidariteitsgevoel met vroue beleef, wat aan die rand gestel is en onregverdig behandel is, vertel hy. Later sou sy eie homoseksualiteit hom direk aan die ontvangkant van diskriminasie plaas. In sy hoofstuk beskryf hy onder meer die wyse waarop kerkpolitiek, media-etiek en miskien die noodlot self saamgekolk het in die gebeure wat uiteindelik op die selfdood van Gaum se destydse maat Douw uitgeloop het.

Gaum se vraag is groter as enige antwoorde uit sy eie verhaal. Indien Christene fouteer het met die Bybelse regverdiging van slawerny, apartheid en om vroue as ondergeskik te sien, hoekom sal daar nie nog foute wees nie? “We are now waking up to the fact that we have been wrong about sexual orientation and gender identity and expression. What else have we been wrong about in our interpretation? What else are we continuing to get wrong alongside others?” vra hy.

Justice, grief and Christ’s pathways to wholeness is op ’n manier die belangrikste boek waarvoor niemand gevra het nie. Van polities links mag dit ontvang word met: “Gee ander kans om gehoor te word.” Van polities regs mag dit ontvang word met: “Hou tog op wroeg”.

Maar die sentrale boodskap voel gerig op daardie leser wat intuïtief verstaan dat daar veral ná ’n era van oorheersing en dominansie soos die NG Kerk se hot streak in die vorige eeu, rykdom in die marges mag lê. En dat kerke stories van mislukking nodig het. Hierdie is so ’n boek. Die teenoorgestelde van triomfantlike tirades en iets meer eerlik as ure se glib podsendings. Dit is minder LinkedIn, meer Facebook, diep in die nag.

Die boek is uitgegee deur Wipf & Stock en kos R330.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top