“Hoe roep God ons om te reageer op hierdie oomblik in die wêreld?”
Dit is die kernvraag van ’n Amerikaanse afvaardiging wat van 19 April tot 27 April die land besoek.
“Ons streef daarna om die Prins van Vrede na te volg en tans is daar nie vrede nie,” het eerw dr Mae Elise Cannon op Sondag 19 April aan leiers van die NG Kerk, VG Kerk en verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in Johannesburg gesê.

Cannon is die uitvoerende direkteur van Kerke vir Vrede in die Midde-Ooste, ’n uiteenlopende koalisie wat 37 denominasies verteenwoordig en in Washington DC gevestig is. “Ons deel ’n gemeenskaplike toewyding in die naam van Christus om vrede te bewerkstellig,” aldus Cannon.
Sy was aan die woord tydens die erediens by Aan-die-Berg Gemeente in Northcliff. “Dit is ’n betekenisvolle oomblik om saam te aanbid en my gebed is dat God eenheid, waagmoed en gesamentlike optrede sal bring as resultaat van ons tyd saam, vandag en in die dae wat volg,” het dié leraar vanuit die Reformed Church in America (RCA) gesê.

Dit gaan volgens Cannon nie net oor konflik in die Midde-Ooste nie, maar oor oorweldigende gebrokenheid wat ons oral sien. “Ook in ons eie siele en gemeenskappe.”
“Hoe bly ons getrou aan die evangelie wat goeie, goeie nuus is? Dit is goeie nuus vir ons, maar dit moet ook goeie nuus wees vir Gasa, en vir die Kaapse Vlakte en immigrante in die VSA.”
Cannon het na die Suid-Afrikaners gedraai: “Ons het julle nodig. Ons kom om te luister en te leer by ons vennote in die VGK en NGK, ons kom in solidariteit en ons moet groot en meedoënlose moed hê. Die wêreld het die kerk in Suid-Afrika nodig om betrokke te raak by hierdie oomblik en met moed te praat vanuit julle ervaring en vanuit die pyn van julle geskiedenis,” was Cannon se pleidooi.


Dr Nioma Venter, die algemene sekretaris van die NG Kerk, het dit as solidariteitsbesoek beskryf “aan susterskerke, maar nie uitsluitlik gereformeerde kerke nie, met die doel om kontekstuele werklikhede van ons onderskeie kontekste te bespreek.” Venter verduidelik: “Die doel (van die Amerikaners se besoek) is veral om saam te onderskei hoe ons teologies op werklikhede en narratiewe oor ons kontekste reageer – want daar is en bly ’n roeping vir die kerk om soos Jesus ‘vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig’ (Luk 4:18-19).”
Eerw Mzwandile Molo, die algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, het in ’n kort verwelkoming aan die besoekers gesê: “Julle teenwoordigheid is ’n inspirasie vir ons … om ons te herinner dat ons tesame ’n ander wêreld kan bou.”
Lidmate van VGK Lakeside Gemeente asook prof Leepo Modise was onder plaaslike besoekers. Met Modise se eweknie as moderator van die kerkverband, ds Jan Lubbe, wat die preek aan die hand van ’n teksgedeelte uit Lukas 24 waargeneem het.


Tydens die diens, wat ook aanlyn uitgesaai is, het kerkleiers van die NG Kerk, VG Kerk en besoekers uit die VSA saam die nagmaal gebruik.
Van NG Kerk-kant het ’n intertaakspan-afvaardiging die afgelope week ook met die besoekers ontmoet, waaronder lede van Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake, Taakspan Navorsing, die fokusgroep vir Publieke Getuienis, die Taakspan Miga 6 vir versoening en geregtigheid, asook lede van die Algemene Sinode Moderamen se dagbestuur.

Venter het vandeesweek aan Kerkbode gesê: “Die (ontmoetings) was eerlik – het ondersoek of ons raakpunte sien wat deur groter geopolitiese konteks loop, waaroor ons teologies saam kan besin. Temas wat aangeraak is uit die verskeie kontekste het ingesluit: polarisasie in die kerk en samelewing wêreldwyd; hoe dit die eenheid van die kerk impakteer; hoe spanning tussen ideologie en teologie verdiep; Christelike nasionalisme; die narratief van ’n wit volksmoord in Suid-Afrika; oorlog in die Midde-Ooste, insluitend Israel-Palestina en nou ook Iran; die impak van Amerikaanse politiek op die ganse wêreld.”
Ds Rudi Swanepoel, leraar by Aan-die-Berg Gemeente, het oor Sondag se erediens gesê: “Ek was diep onder die indruk van die gewig van die geleentheid. Hierdie tyd van diep verdeeldheid, ekonomiese ongeregtigheid en gewapende konflikte vereis van Jesus-volgelinge om met ’n verenigde stem te praat.”
- Regstelling: ‘n Vorige weergawe van hierdie berig het verwys na lidmate van VGK Scottsdene Gemeente. Dit was lidmate van VGK Lakeside Gemeente. – Red.
