Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In briewe en beriggewing oor die predikantekonferensie van 2005 hoor ’n mens in uitgawes van Jan-Aug dieselfde uiteenlopende opvattings oor kerkwees wat gelowiges weer vanjaar verwoord. Asóók die geloofseenstemmigheid te sien in ’n eenvoudige sin soos: “Ons wil dien, nie heers nie.”

Mediarubriek | PredikanteSAAMkoms 2026: Wat het die vorige massa-saamtrek van dominees ons geleer?

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Bykans twee dekades ná 1 400 predikante van 20-22 Junie 2005 op die Kovsiekampus in Bloemfontein byeengekom het, bring die NG Kerk eersdaags weer sy werksmag saam vir versorging en geestelike verdieping.

 

Sowat 750 predikante van regoor die land sal van 24 tot 28 Augustus by die ATKV Goudini Spa in die Wes-Kaap vertoef. Dit sluit diensleraars, proponente en, onder bepaalde omstandighede, emeriti in.

Nes in 2005, plaas die organiseerders van PredikanteSAAMkoms swaar klem op roeping. Maar die twee saamkomste verskil ook op vele punte. Vanjaar s’n is kleiner, langer en dit eindig met ’n musiekproduksie genaamd Saam in Lof, waarvan die TV-kanaal Via glo later ’n opname wil uitsaai.

Met dit alles gesê, sal sommige predikante se identiteitangs dramaties styg wanneer ’n organisasie met ’n werksmag so homogeen soos dié van die NG Kerk in die jaar 2026 by ’n Bolandse warmwaterbron vergader. Die vraag is immers nie net hoe dit mag “lyk” nie. Dit is ook ’n eerlike vraag na wie die NG Kerk inderwaarheid in en vir die hedendaagse Suid-Afrika is.

Nuwe moed, vars idees

Ds Maartje van der Westhuizen, die ondervoorsitter van die Algemene Sinode Moderamen (ASM), is die sameroeper van die geleentheid. Van der Westhuizen hoop dat deelnemers uiteindelik “met nuwe moed en vars idees (sal) huis toe gaan, met die diepe wete dat hulle deel is van ’n groter geloofsgemeenskap wat saam die Here dien”. 

Oor die keuse van venue, sowat 6 km van Rawsonville in die Breedevallei, sê sy: “Hoewel ons verskeie ander opsies oorweeg het en kwotasies ingewin het, het Goudini uiteindelik die beste aan al ons vereistes voldoen.”

Kerkleiers het R5 miljoen uit die Algemene Sinode se belegging bewillig om die geleentheid so toeganklik moontlik te probeer maak vir diegene wat dit wil bywoon. “Dink daaraan soos ’n kunstefees vir die gees: oral is daar iets aan die gebeur, iets wat jou kan verras, aanraak of inspireer – en deurgaans het jy ’n keuse,” luidens ngkerk.org.za/saamkoms.

“Ons skuif doelbewus weg van vergaderings, toesprake en aanbiedings en beweeg na interaksie, ontmoeting en verbeelding,” luidens die omvattende kommunikasiewebwerf.

In die blaaie van Kerkbode sien ’n mens hoe die vorige landswyse saamtrek van NG dominees ontvou het. In die briewe en beriggewing oor die predikantekonferensie van 2005 hoor ’n mens in uitgawes van Jan-Aug dieselfde uiteenlopende opvattings oor kerkwees wat gelowiges weer vanjaar verwoord. Asóók die geloofseenstemmigheid te sien in ’n eenvoudige sin soos: “Ons wil dien, nie heers nie.” Laasgenoemde is namens konferensiegangers as deel van ’n omvattende getuienis in Kerkbode gepubliseer.

Video: Via ngkerk.org.za/saamkoms

Om balans te vind: Nodige besteding te midde van armoede

“Ek dink doodeenvoudig dit is onverantwoordelik en ongehoorsaam aan God se Woord in ons konteks in 2005 dat enige gemeente van die NG Kerk soveel geld op predikante, wat graag blink wil vertoon, bestee,” skryf dr Martin Heyns van Pinelands destyds in ’n brief aan Kerkbode, beswaard dat daar van hom verwag word om sy gemeente vir R2 000 te vra vir die bywoning van hierdie “blink besigheid in Bloemfontein”.

Spoel vorentoe.

In aanloop tot vanjaar se saamtrek is Kerkbode se brieweblad weer gasheer vir hierdie soort gesprek. Dr Johannes Mouton van Table View-gemeente skryf oor die armoede in Suid-Afrika: “Teen hierdie agtergrond sukkel ek om dit te regverdig dat ons miljoene rande spandeer op ’n nie-amptelike, opsionele byeenkoms vir ’n klomp bevoorregte mense. Trouens, ek beleef dit as toondoof.” Ook op Kerkbode se Facebookblad word die brief energiek bespreek.

Ds Fourie Rossouw van Stellenbosch skryf in reaksie bogenoemde soort kritiek val hom vreemd op die oor. “Asof ons nie ’n groot verskil in die wêreld kan maak én ook die lewe saam kan geniet en vier nie.” Dr Nioma Venter, die algemene sekretaris van die NG Kerk, sluit in ’n brief by Rossouw se punt aan. “Die ondersteuning van hierdie geleentheid staan nie teenoor hulp aan noodlydendes nie. Die kerk het die afgelope tyd op verskeie maniere daadwerklik by noodverligting, rampverligting en gemeenskapsontwikkeling betrokke gebly. Om mense in nood te help en om na leraars om te sien, is nie wedersyds uitsluitende keuses nie,” skryf sy.

Die aktuele wat ’n mens by Venter moet hoor om kerkleiers se besluitneming goed te verstaan, is die Algemene Taakspan Navorsing se data uit 2025 waarna sy in haar brief verwys. Dit toon dat die welwese van baie predikante onder druk is. “Dominees is ook net gewone mense; hulle voel die pyn van ander en dra saam aan die emosionele las daarvan. Om na predikante om te sien, is nie bloot ’n belegging in dominees nie; dit is uiteindelik ook ’n geskenk van die kerkverband aan die welwese van gemeentes en die mense wat hulle dien,” skryf Venter.

Uit die Kerkbode-argief: Bl 11 van die gedrukte uitgawe op 8 Julie 2005 bevat ‘n getuienis ná afloop van die konferensie wat destyds in terme van omvang ‘n eerste van soort vir die NG Kerk was.

Kan ’n mens konteks by die deur laat?

’n Tweede raakpunt tussen die 2005-saamkoms en vanjaar s’n is die vraag of so ’n geleentheid sosiaal-polities uit voeling is. In 2005 het ’n leraar glads ná die predikantekonferensie uit die kerkverband en uit haar pos bedank, luidens ’n berig in Kerkbode van 8 Julie 2005. “Toe ek die eerste aand die saal instap en sien wie is die leiers van die NG Kerk, het ek ervaar met watter oë die res van die land na ons kyk,” het Sunette Pienaar destyds aan Kerkbode se verslaggewer gesê oor die afwesigheid van verteenwoordigers van ander kerke in die kerkfamilie. Vier predikante het in ’n sterk bewoorde brief, wat in dieselfde uitgawe van Kerkbode verskyn het, eweneens die afwesigheid van die VGK en die “a-kontekstuele karakter” van die geleentheid betreur.

Spoel vorentoe.

Vanjaar se saamkoms nooi ook nie leiers van ander kerke of ekumeniese vennote nie. Maar eerder as ’n soort protokol-glips, kry ’n mens via die webwerf die duidelike indruk van ’n alternatiewe visie vir die geleentheid. “Ons gaan saam as predikante weer na die lewe van Jesus kyk en die avontuur van ons roepings gaan ons met mekaar deel,” verduidelik dr Tom Smith. Hy tree op as leier van die saamkoms se “Inhoudspan”. (Hy is ook die hoof van die NG Kerk se Sentrum vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling in Pretoria, asook die moderator van Sinode Hoëveld). Volgens Smith sal twee goed elke dag anker by vanjaar se saamkoms. “Oggend- en aandgeleenthede waar ons die Here saam prys. Vir die res van die program word verskillende lokale gebruik vir verskillende leerstyle,” het hy in ’n videogreep aan afgevaardigdes verduidelik. “Van ons leer lekker as ons van ’n (teologiese) ekspert hoor … Dan is daar ’n ander spasie wat ’n kunsspasie is. Waar jy jou regterbrein kan aktiveer. Dan is daar sessies oor geestelike begeleiding. Dalk het jy nodig om saam met iemand te gesels en te bid,” verduidelik hy.

Video: Via ngkerk.org.za/saamkoms

Die organiseerders dink klaarblyklik holisties en sluit fisieke aktiwiteite en verskillende formate van saamwees by die program in. Wanneer Smith, ’n kranige drawwer, oor “beweging” praat, verwys hy egter nie net na goed soos die gebedsroete en opsies om te stap en vlugbal te speel nie. Die hele saamkoms is volgens hom ’n reis wat gebaseer is op sewe “bewegings” uit Jesus se lewe volgens die Evangelie van Lukas. Te wete, Jesus kom, Jesus roep, Jesus genees, Jesus leer, Jesus ly, Jesus heers.

 

Roeping as identiteit

In 2005 het dr Coenie Burger, as moderator van die Algemene Sinode, in sy afsluitingsboodskap in Bloemfontein ses stellings oor roeping aan die hand van Johannes 21:15-21 gemaak, wat in Kerkbode gepubliseer is. En in ’n voorwoord aan konferensiegangers het hy verduidelik dat Gereformeerde kerke, anders as sommige ander kerke, nie ’n uitgebreide liturgie het wat identiteit kan gee nie. “Ons identiteit hang saam met hoe ons ons roeping op ’n plek verstaan in samehang met die Skrif en belydenis.”

Maar die mees tasbare raakpunt tussen die Bloemfontein wat was en die Goudini wat voorlê, is Burger se opmerking dat saamwees krag het. “Soms gebruik die Here die woorde, die handdruk, die oë van ’n suster of ’n broer om ons nuwe moed te gee vir die pad wat voor ons lê.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top