Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Fourie Rossouw van Stellenbosch skryf: Ek lees van predikante wat kla oor die vermorsing van sinodale geld op die PredikanteSAAMkoms wat in Augustus gaan plaasvind. Dié wat dit reël is glo toondoof. Hoe kan die kerk dit “regverdig dat miljoene rande gespandeer word op ’n nie-amptelike, opsionele byeenkoms vir ’n klomp bevoorregte mense?” So vra een van dié wat wel op die noot sing. Ek vermoed dit is op dieselfde note as die kinderliedjie van AG Visser.
Trippe, trappe, trone,
varkies … maar geen bone,
perdjies … maar geen hawer,
koeitjies … maar geen klawer,
gansies … maar geen groene gras,
eendjies … maar geen waterplas;
Net my kind is gaaf en goed,
net my kind is welgevoed,
net my kind is vet en rond,
met twee kuiltjies naas sy mond.
Sulke kritiek val vir my altyd vreemd op die oor. Asof die een ten koste van die ander is. Asof ons nie ’n groot verskil in die wêreld kan maak én ook die lewe saam kan geniet en vier nie. Ek wonder ook oor die morele seepkissie waarop sommige so maklik klim. Dit laat my dink aan die insident met die botteltjie nardusreukolie, toe Judas ook só namens die armes op sy perdjie geklim het. Oor sy beweegredes was die Evangelieskrywer uiters blatant (Joh 12:4-5). Nou, ek sal beslis nie dié wat die predikantebyeenkoms kritiseer oor dieselfde kam wil skeer nie, maar dalk kan ek hulle aanmoedig om weer na die liedjie te luister, want ek dink hulle mis die melodie en dans heel van die ritme af.
Indien hulle enigsins mag dans …

Ek is weer dankbaar dat daar een keer in 20 jaar in die NG Kerk moeite gedoen word vir ons predikante wat wil saamkom. As ek na die sake wêreld kyk en al hulle versorging en motivering van personeel, dan moet ons erken, gemeentes kan nie so kyk na een man of vrou dat hulle ons so ‘n geleentheid sal ontneem nie. My gemeente het dadelik gesê ons wil hê jy moet dit gaan bywoon en kom vertel ons wat julle doen. Groot opgewondenheid. Dit doen niks afbreek aan die bediening in die gemeente of omgewing nie. Dankie vir die manne en vroue wat voor vat om so iets moontlik te maak. Net voor ons aftree sien ek weer al my ou klasmaats ook saam. Kom ons gun mekaar ook iets: