Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Waarom ek nie die predikantebyeenkoms gaan bywoon nie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Johannes Mouton van Table View-gemeente skryf: In Augustus vind die predikantebyeenkoms plaas. ’n Geleentheid wat onlangs by ’n kerkvergadering as ’n soort “kunstefees vir dominees” bemark is – ’n “nice-to-have”, met ander woorde. ’n Lekker bymekaarkoms waar dominees kan deelneem aan die items op die program of dalk nie, is daar gesê. Al klink dit lekker het ek besluit om dit nie by te woon nie. Nie uit onbetrokkenheid of ’n gebrek aan waardering vir kollegiale gesprekke nie. Inteendeel. My besluit kom eerder uit ’n groeiende ongemak oor wat so ’n byeenkoms binne ons huidige konteks kommunikeer – beide binne die kerk en binne Suid-Afrika.

Lees meer: PredikanteSAAMkoms: 24-28 Augustus 2026

 

Ons bevind onsself in ’n land met enorme uitdagings: armoede, ongelykheid, werkloosheid en gemeenskappe wat al hoe swaarder kry onder die druk van stygende lewenskoste. Teen hierdie agtergrond sukkel ek om dit te regverdig dat ons miljoene rande spandeer op ’n nie-amptelike, opsionele byeenkoms vir ’n klomp bevoorregte mense. Trouens, ek beleef dit as toondoof.

Daarmee saam is ek ongemaklik dat gemeentes aangemoedig word om die verblyfkostes vir hulle dominees te betaal. In baie gemeentes word daar daagliks moeilike begrotingsbesluite geneem. Brandstofpryse en algemene lewenskoste plaas ook toenemend druk op lidmate, wat noodwendig ’n invloed op gemeentefinansies het. Dit voel dus nie vir my gepas om van gemeentes te verwag om geld aan ’n opsionele byeenkoms te bestee nie.

Lees meer: ‘Tyd vir herverbinding, bemoediging en nuwe hoop’ | 5 vrae aan Maartje van der Westhuizen oor Predikantesaamtrek in 2026

 

Maar dit gaan nie net oor die kostes nie. Dit gaan veral oor die simboliek daarvan – oor wat so ’n geleentheid kommunikeer. My seun het onlangs opgemerk dat hy toenemend ongemaklik voel in die NG Kerk, omdat dit die enigste plek is waar hy byna uitsluitlik wit mense sien. Hierdie opmerking het my diep geraak en laat nadink. Wat kommunikeer ons wanneer ’n groot kerkgeleentheid van buite af lyk soos ’n byeenkoms van wit bevoorregte mense vir wie groot bedrae geld beskikbaar is? Wat sê dit vir mense wat van buite af na ons kyk? Het ons nie juis in hierdie tyd die verantwoordelikheid om ons deure, ons ruimtes, ons finansies, ons verbeelding wyer oop te maak nie?

Onderliggend hieraan lê vir my die vraag of ons as kerk nie dalk steeds vasgevang is in ons eie kultuur, gewoontes en bevoorregting nie. Wanneer ’n bepaalde kultuur of leefwêreld die norm word, raak dit al moeiliker om onsself krities te ondersoek. Dan kan die kerk stadigaan verval in ’n vorm van instandhoudingsteologie – waar die behoud van bekende strukture, gemak, bevoorregting en identiteit belangriker raak as die moeilike, maar noodsaaklike werk van selfondersoek en missionale geloofwaardigheid. Dit is hierdie spanning wat my ongemak met die byeenkoms help verwoord.

As kerk in hierdie tyd en konteks het ons nodig om die moeilike, maar noodsaaklike vrae te vra: Hoe lyk geloofwaardigheid in ons konteks? Hoe leef ons eenvoudiger en meer verantwoordbaar? Hoe lyk ’n kerk wat werklik luister na die pyn, ongelykhede en uitdagings van die samelewing waarin ons leef? Met ander woorde, hoe lyk ’n kerk wat werklik tuis is in ’n diverse Afrikaland? Ek is nie so seker of die “lekker” predikantebyeenkoms ons met hierdie vrae gaan help nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top