Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Tyd vir herverbinding, bemoediging en nuwe hoop’ | 5 vrae aan Maartje van der Westhuizen oor Predikantesaamtrek in 2026

Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het op 13 November in Gauteng die groen lig gegee vir ’n predikantebyeenkoms op Goudini in Augustus volgende jaar. Kerkbode (KB) het vir ds Maartje van der Westhuizen (MvdW), die sameroeper, gevra:

 

KB: Dit is nóg sinodesitting, nóg werkswinkel, nog teologiese beraad … Wat wil die organiseerspan wel hê móét dit wees?

MvdW: Ons droom is om ’n ruimte te skep waar predikante saam kan wees, mekaar kan versterk en herinner kan word dat ons nie alleen in ons roeping en bediening stap nie. Ons verlang na ’n geleentheid waar ons saam kan bid, kuier, groei en vier – ’n tyd van herverbinding, bemoediging en nuwe hoop.

KB: Watter oorwegings het julle help besluit op Goudini as venue?

MvdW: Ons het doelbewus ’n plek gesoek waar almal op dieselfde terrein kan bly en waar daar ’n ruim saal is om saam te kom. Dit moes naby ’n lughawe wees, maar ook ’n ruimte bied waar ’n mens werklik kan ontspan en tot rus kom. Hoewel ons verskeie ander venue-opsies oorweeg het en kwotasies ingewin het, het Goudini uiteindelik die beste aan al ons vereistes voldoen.

KB: Wat is die suksesfaktore van so ’n saamtrek? (Waar slaag of misluk dit?)

MvdW: ’n Predikantesaamtrek is werklik suksesvol wanneer predikante ’n diep Godsbelewenis het en hulle roeping opnuut versterk word. Dit is ook belangrik dat hulle mekaar beter leer ken, stories deel en weer besef dat hulle nie alleen in die bediening staan nie. ’n Goeie program skep kreatiewe ruimte vir leer en groei, vir verbintenisse en luister na mekaar se verhale, terwyl dit ook genoeg tyd bied vir rus, kuier en herlaai. Wanneer die praktiese reëlings vlot verloop, ondersteun dit die groter ervaring op ’n natuurlike manier. Uiteindelik moet predikante met nuwe moed en vars idees huis toe gaan, met die diepe wete dat hulle deel is van ’n groter geloofsgemeenskap wat saam die Here dien.

KB: Gee so ’n paar interessante statistieke: Hoeveel mense mag kom, hoeveel geld is hiervoor begroot … en hoeveel ure beplan julle al hieraan!?

MvdW: Die terrein bied plek vir ongeveer 750-800 leraars, en selfs al sou daar meer belangstellendes wees, is ons oortuig daarvan dat ons ’n oplossing sal vind. Die byeenkoms is oop vir alle leraars, diensleraars en emeriti wat tans aktief in gemeentes bedien. Inskrywings open Januarie 2026 en ons hoop dat soveel moontlik kollegas sommer dadelik begin registreer. Die ASM het hulle uit die hart uit verbind om die saamtrek so bekostigbaar moontlik te maak. Ons gaan poog dat elke predikant van bo in die noorde tot die plaaslike predikant dit kan bywoon – niemand moet uitgesluit word nie. Maak dus solank ’n nota van die datum in jou 2026-dagboek: 25-28 Augustus 2026. Daar sal binnekort meer inligting volg. Ons werk al byna drie maande aan die beplanning, en die inhoudspan kom binnekort saam om te sorg dat hierdie saamtrek ’n onvergeetlike, lewegewende week vir ons kerk sal wees.

 

KB: Wat is jou grootste verwagting vir die impak wat so ’n geleentheid op die NG Kerk mag hê?

MvdW: Ek vertrou dat hierdie samekoms ’n diep lewegewende en lewensveranderende ervaring sal wees – ’n ruimte waar ons weer met rus en ontvanklikheid na God se wil kan luister en waar ons bande as kollegas opnuut versterk kan word. Die laaste keer dat so ’n byeenkoms plaasgevind het, was in 2005, en dié wat dit bygewoon het, getuig steeds van die blywende uitwerking daarvan. Met ’n oop hart sien ek dus uit na wat die Here deur sy Gees in ons midde wil kom doen.

Ds Maartje van der Westhuizen is die sameroeper van die byeenkoms en leraar by NG Elarduspark in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top