Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Nioma Venter skryf: Meer as twintig jaar het verloop sedert die laaste geleentheid waar leraars uit die hele NG Kerk as kollegas kon saamkom. Daarom is die PredikanteSAAMkoms wat in Augustus vanjaar by Goudini naby Rawsonville plaasvind, in baie opsigte ’n unieke geleentheid. Terwyl baie leraars die uitnodiging aangegryp het, is daar ook eerlike vrae oor die wenslikheid van so onderneming.
LEES OOK | Brief: Waarom ek nie die predikantebyeenkoms gaan bywoon nie
Die bedoeling van die PredikanteSAAMkoms is om by die versorging, bemoediging en toerusting van predikante uit te kom. Die beginsel van “care for the carers” is nie vreemd in enige beroep waar mense voortdurend met die nood, pyn en uitdagings van ander werk nie. Navorsing wat in 2025 deur die Algemene Taakspan Navorsing gedoen is, het duidelik gewys dat die welwese van baie predikante onder druk is. Dit is verstaanbaar. Daaglikse blootstelling aan verlies, trauma, onsekerheid, konflik en die uitdagings van gemeenskappe laat sy merk. Dominees is ook net gewone mense; hulle voel die pyn van ander en dra saam aan die emosionele las daarvan. In sulke omstandighede is die verskynsel van compassion fatigue nie onbekend nie. Om na predikante om te sien, is nie bloot ’n belegging in dominees nie; dit is uiteindelik ook ’n geskenk van die kerkverband aan die welwese van gemeentes en die mense wat hulle dien.
Die PredikanteSAAMkoms het ook geestelike verdieping en hernuwing ten doel. Die SAAMkoms is nie bedoel as ’n vakansie of ontspanningsgeleentheid nie, maar as ’n ruimte waar predikante saam kan aanbid, die Woord bestudeer, oor hul roeping besin en opnuut bemoedig word vir die bediening. Tyd saam met die Here, deur middel van ’n verskeidenheid temas, gesprekke en aktiwiteite, verkwik die siel. Dit is ook ’n geleentheid om herinner te word aan die voorreg om steeds in Sy diens te mag staan. Waar baie leraars groot verantwoordelikhede dra en dikwels in uitdagende omstandighede werk, is sulke tye van afsondering en hernuwing nie vanselfsprekend nie.
LEES OOK | Brief: Hoekom ek wel die SAAMkoms gaan bywoon
Die waarde van ontmoeting moet nie onderskat word nie. Die kerk is meer as strukture, besluite en vergaderings. Kollegas wat mekaar selde sien, kry die geleentheid om verhoudings te bou en netwerke te versterk. Sulke ontmoetings dra dikwels by tot groter begrip, vertroue en verbondenheid. In ’n kerkverband wat oor groot geografiese afstande versprei is, is dit nie ’n geringe saak nie.
Daar is ook die vraag oor die koste. Die ondersteuning van hierdie geleentheid staan nie teenoor hulp aan noodlydendes nie. Die kerk het die afgelope tyd op verskeie maniere daadwerklik by noodverligting, rampverligting en gemeenskapsontwikkeling betrokke gebly. Om mense in nood te help en om na leraars om te sien, is nie wedersyds uitsluitende keuses nie. Die een hoef nie ten koste van die ander te gebeur nie.
Miskien is die sterkste aanduiding van die behoefte aan so ’n geleentheid die feit dat die 650 beskikbare plekke binne enkele weke opgeneem is en die byeenkoms tot maksimum vol is. Verder het ongeveer 120 leraars ingestem om temas te lei – in daardie opsig is dit ‘n byeenkoms vir dominees deur dominees.
Dit wys dat die behoefte aan ontmoeting en versterking werklik is. Daarom is die gebed vir die SAAMkoms eenvoudig: dat die Here Sy kerk sal versorg deur dié te versorg wat geroep is om Sy kerk te dien, en dat alles uiteindelik tot Sy eer en die uitbreiding van Sy koninkryk sal wees. Brief verkort – Red.
Dr Venter is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

As bejaarde lidmaat van die NG Magaliesberg Gesinskerk (Marikana) net die volgende:
Oor die afgelope 15 jaar het ons beskikbare fondse (bo en behalwe dankoffers en maandelikse bydraes van gemeentelede) sodanig gekrimp dat ons van ‘n belegging van R4,5 miljoen gekrimp het tot sowat R 1,5 miljoen.
Gegewe die verskillende rings- en sinodale bydraes, diefstal van kerkfondse deur ‘n voormalige saakgelastigde, koste van die luuksheid om ‘n predikant op ‘n ooreengekome vergoedingspakket, gebrek aan leierskap deur die kerkraad, geen huisbesoeke deur enigiemand anders as ‘n handjievol bejaarde lidmate en ‘n ongekende apatiese houding teenoor die gemeente deur sowat 85% van ons lidmate, sit ons, wat betrokke is en sal bly wees, met die hande in die hare!
Ons is, ten spyte van streng finansiële dissipline wat tans gehandhaaf word, nog in die moeilikheid. Die prognose is dat ons nog, ten spyte van alle pogings, nog sowat 7 maande oor het om finansieel te kan oorlewe.
Miljoene wat deur die sinode spandeer word op ‘n eksklusiewe groep predikante by, wat, soos ek dit sien, eintlik net ‘n “lekker” sosiale byeenkoms is, ten spyte van al die positiewe aanpratery daaroor.
Spandeer en/of help liewer ons klein deeltjie van die ruggraat van die NG kerk om te kan oorlewe.
Dit gaan immers altyd oor die verheerliking van ons Vader, en nié oor die najaag van geld nie – ek onthou “omskop van tafels” wat ‘n gruwel in die oë van Jesus was.
Mag die Vader in sy regverdigheid en almag ons genadig wees.