Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Christiaan Wheeler van Bellville-Vallei Gemeente skryf: Ek het nie ’n gawe om my woorde soos baie van my kollegas wat gereeld hul opinies met die Kerkbode deel, vreeslik professioneel aan mekaar te weef nie, so ek gaan sommer net my hart met julle deel. Ek glo in geregtigheid en versoening en werk soos baie ander hard om sout en lig te wees in my gemeenskap.
Lees ook: Waarom ek nie die predikantebyeenkoms gaan bywoon nie
Maar laat ek dit sê: Ek is lief vir my kerk en lief vir my land, maar beide my kerk en my land maak my moeg. Alewige temas wat verdeeldheid uitlig en in die proses verdeeldheid verdiep. Dit is die een populêre tydsgolf na die ander wat deurspoel en almal moet iets te sê hê. Ons almal lewe in stukkende gemeenskappe. Of dit nou in die bendegeweld-klimaat van die Kaapse-vlaktes is of die veilige mure van ’n sekuriteitskompleks, oral is iets, of iemand, stukkend.
Lees ook: Wat is die PredikanteSAAMkoms?
En predikante, waarna ek met absolute nederigheid wil verwys as predikante soos ek en vele ander wat ek ken, staan dag na dag gereed om die seer aan te spreek, by te staan of teen te staan. Of dit nou in die smeer van ’n toebroodjie is vir ’n skool se voedingskema. Of om iemand wat nie self kan nie by ’n hospitaal uit te kry. Die hawelose se naam te leer ken en saam die persoon ‘n pad te stap. Mense in te nooi, deel te maak en hopelik op ons eie klein manier, heling te aan te bied. Die dinge doen ons om hopelik iets te kan verander aan die gesig en hart van die gemeenskap waarin jy leef en dien.
En om nog nie eers te begin praat van broers en susters wat Sondag na Sondag op kansels klim om met mense oor die Woord van die Here te praat nie. Mense wat, dank Vader, in soveel gemeentes glad nie meer ‘n homogene gesig is nie. Mense wat dit die moeite werd maak om die ure se voorbereiding en fyn luister in te sit en soms mense wat regtig maar net op soek is om fout te vind met alles, ons almal ken maar hulle soort. En baie doen dit sonder kollegas. So, afnaweke en verlof is alewig ’n kopseer en word op sigself werk om te beplan. So, ja, ek is moeg en ek glo daar is so baie ander wat moeg is.
Dit is vir my jammer dat nie meer denominasies en instansies in staat daartoe is om so iets vir hulle werknemers en predikante te reël nie. Maar ek is die Here dankbaar dat ek deel is van ’n kerklike familie wat dit vir die predikante gaan moontlik maak om saam met ander wat deur dieselfde dinge moeg gemaak word, uitgebrand word, skuldig voel oor verlof vat, wat dag in en dag uit, met integriteit en liefde, in diens van Jesus en sy kerk probeer leef, op Goudini te kan gaan rus.
En, weet jy, sonder ’n skuldige gewete. Want na daardie paar dae, gaan ek (hopelik) met nuwe energie en hoop, lus vir die bediening en nuwe vriende weer terugkeer na my kerk en my land, wat my so moeg maak, maar waarvoor ek so lief is. Die Here was nie kwaad toe Elia net gaan sit het en nie krag gehad het om verder te loop nie. Hy het hom laat rus, laat eet en drink.
