Die saambestaan van skoonheid en vullis het hom onkant betrap toe hy hierdie die foto op ’n strand in Wes-Afrika geneem het, vertel Le Roux Schoeman.
Het jy al ooit ’n foto geneem, maar nie geweet wat om daaroor te sê nie? In joernalistieke terme hoef jy hoogstens ’n sin of twee onderaan te skryf, nie waar nie? Hoe moeilik kan dit wees? En tog het hierdie toneel, met sy vissers, vark en rigtinglose rommel my woordeloos gelaat.

Hoe beskryf ’n mens enige foto?
Die legendariese Britse joernalis Harold Evans het die tegniek betrokke by die skryf van ’n goeie foto-onderskrif goed verduidelik. ’n Mens moet drie goed vra, meen Evans. Wat sê die foto self? Wat laat die foto my as joernalis toe om te sê? En wat dwing die foto my as joernalis om te sê?
Stewig soos Evans se raamwerk mag wees, het ek steeds nie geweet wat om oor hierdie vark by die see te sê nie. Dit is immers die vark wat die kollig steel, hoewel daar ander visuele elemente is. Roland Barthes maak via die Latynse terme studium en punctum die onderskeid tussen twee aspekte van ’n foto. Studium is die algemene, kultuur-historiese getuienis wat ’n foto mag dra. Punctum bars die generiese oop. Dit is die ding wat jou as kyker kneus, verduidelik die Fransman in sy boek Camera Lucida (1980). Hy voeg ’n verdere betekenislaag by as hy sê punctum is ook soos om ’n dobbelsteen te gooi. Vir hierdie kyker is dit die vark se krulstert en die afwaartse, taakgerigte ore, wat die kyker “kneus”. Maar wat sê die foto? Wat laat dit my toe om te sê? Wat dwing dit my om te sê?
Ons agterdog as skild
Sê een foto van een vuil strand iets ekologies universeel? Susan Sontag het ondermeer in die konteks van oorlogfotografie geskryf oor die soort agterdog wat heers binne ons toeskouerkultuur wat dreig om deur ooraanbod die morele krag van beelde te neutraliseer. Ons agterdog oor die belangstelling in bepaalde beelde. Asook ons agterdog oor die bedoeling van die persoon wat die foto geneem het. “Some people will do anything to keep themselves from being moved,” skryf Sontag in Regarding the Pain of Others (2003).
Geagte KI, leer my iets
Toe wonder ek, watter hulp lê buite die raam van die foto om my eie agterdog te bowe te kom? Met dié dat ons in die era van Kunsmatige Intelligensie (KI) leef, het ek myself tot ’n masjien gewend vir ’n antropologiese blik op vullis … Vir ’n staanplek op bewegende sand. Die video verteenwoordig ’n geredigeerde en verkorte weergawe van die gesprek met Claude.ai.
In die KI-opsomming van die antropoloog Mary Douglas se werk, verduidelik hy /sy: Die kernargument in Douglas se Purity and Danger is dat vuil nie ’n absolute is nie. Besoedeling en taboe gaan oor dinge wat grenslyne vervaag. Dit gaan oor dinge wat indeelstelsels wat in die kultuur gebruik word om sin te maak, deurmekaarkrap. Die skokkende van die foto, leer ek, lê dus in die verydeling van verwagtinge: Plastiek uit plek, ’n vark in getywater, bote op die strand. Douglas, aldus Claude se opsomming, verskuif die morele gewig vanaf ding na sisteem. Die foto se mees dringende vraag sou dus kon skuif van Hoekom leef hierdie mense te midde van vullis? na Watter sisteem ontbreek of het gebreek? Dit plant die probleem in infrastruktuur, ekonomie en globale plastiekvervaardiging.

Daar is ‘n bok ook. En die een boot se naam is (hoopvol?) “God”