Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Ons eenheid is broos, ja. Maar daar is ’n diepe hunkering na vrede, en na mekaar – ek hoor dit by die meeste gemeentes. En twee verdere oortuigings: Ons is te min – 70 000 NG lidmate in ’n provinsie van 3 miljoen mense (en waarvan baie, baie ook Christene is!) – om mekaar nog verder te verdeel. En tweedens, ons roeping hier is te groot; die voetspoor van die NG Kerk in die Vrystaat is veel groter as ons getalle. Ry maar, en gaan kyk in die dorpe die kerktorings en -tuine. Ons is hier." - Jan Lubbe aan Kerkbode in die onderhoud hieronder. Foto: Kerkbode-argief

Sinode in die Vrystaat: ‘Ons eenheid is broos, ja. Maar daar is ’n diepe hunkering na vrede, en na mekaar’ – Lubbe

Van 7-10 Junie sal die NG Kerk Vrystaat by Nampopark buite Bothaville sinodesitting hou. Verteenwoordigers van die oorgrote meerderheid van die 149 gemeentes van dié streeksinode van die NG Kerk sal die geleentheid bywoon. Op die vooraand van die sinodesitting het Kerkbode vir ds Jan Lubbe, die voorsitter van die vergadering, gevra …

 

Kerkbode (KB): Vertel asseblief die storie agter die tema en die fokusteks vir die saamkoms.

Ds Jan Lubbe (JL): Ons moderamen en ’n visioneringspan het die afgelope jaar verskeie kere saam na Menuha gegaan, die retreatsentrum op die pad na Brandfort, en in die veld en kapel daar stilgeword. Ons het teruggeblaai na die tekste waaruit die Vrystaatse Sinode se leuse sedert 1865 al kom, Jesaja 60 en 61, “Lig in die Duisternis”. Die ommekeer wat God belowe – sewe maal staan daar “in plaas van”, byvoorbeeld rou, vreugde – het ons aangegryp. En toe die vraag kom hóé God dit sal doen, het die visioen van Esegiël 47 by ons opgekom: Die profeet wat geneem is na die heiligdom, na die teenwoordigheid van die Bron, na God Sélf. En hoe meer ons gelees en met mekaar gedeel het, hoe meer het die Woord vir ons van Genesis 1 tot Openbaring 21 oopgegaan, en Hy wat by die put in Samaria gesit en gesels het oor “Lewende Water” (Johannes 4).

KB: Ná die sinodesitting van 2022 het julle reeds twee buitengewone sinodesittings gehou. Wat was die primêre wins van daardie twee ekstra byeenkomste?

JL: In die aanloop na daardie twee buitengewone sinodes in April 2023 en Oktober 2024, en met die Algemene Sinode ook tussen dié twee, het ons in die Vrystaat in uitgebreide gesprekke met mekaar gesoek na ’n welwillende weg vir almal in al die 149 gemeentes; ons moes baie goed na mekaar leer luister, mekaar leer verdra. En ons het drie keer gekies om mekaar nie te laat los nie; ook nie die ander NG gemeentes en kollegas en vergaderinge buite die Vrystaat nie – ons het gekies vir ’n familieverband, al is die eenheid soms ook moeilik, en dikwels broos. Terselfdertyd, ons het duidelik vir mekaar gesê dat ons glo die Bybel is God se Skrifgeworde Woord, wie Jesus Christus is, waarom ons moet bid verlos ons van die Bose, hoe die Kerk haar roeping in hierdie wêreld moet vervul. Dít staan in die notules van daardie sinodes.

KB: Iemand wat van buite kyk, sou kon vra of hierdie vergaderingskultuur – 440 blaaie in die agenda, dae van 12 ure en langer elk – noodsaaklik is, of eerder ’n erfenis uit die era voor e-pos en digitale kommunikasie is. Hoe kyk jy daarna?

JL: Ja, dit is ’n lywige agenda, maar baie daarvan is ook agtergrondinligting, leesstof om kerkrade te kan help. By ’n sinode gebeur egter méér as papiere en iets wat nie aanlyn kán gebeur nie: Mense – medegelowiges – van vlees en bloed, en bang en goed, regoor die Vrystaat ontmoet mekaar van aangesig tot aangesig, bid saam met mekaar, vier ons eenheid, ontdek ons konkrete roeping tot barmhartigheid en sagtheid, omdat ons mekaar in die oë kon kyk.

KB: Julle is deur interne konflik die afgelope paar jaar. Die afgevaardigdes van Vrystaatse gemeentes het enersyds gestem teen ’n voorstel dat die sinode moet verdeel in twee op grond van teologiese verskille. En andersyds gestem vir ’n voorstel dat daar probeer word om eenheid ten spyte van verskille te behou. So julle het opsies deeglik verken. Hoe sou jy die gehalte van die eenheid tans beskryf op grond van jou interaksie met leraars en die baie reise wat jy deur die provinsie aflê?

JL: Ons eenheid is broos, ja. Maar daar is ’n diepe hunkering na vrede, en na mekaar – ek hoor dit by die meeste gemeentes. En twee verdere oortuigings: Ons is te min – 70 000 NG lidmate in ’n provinsie van 3 miljoen mense (en waarvan baie, baie ook Christene is!) – om mekaar nog verder te verdeel. En tweedens, ons roeping hier is te groot; die voetspoor van die NG Kerk in die Vrystaat is veel groter as ons getalle. Ry maar, en gaan kyk in die dorpe die kerktorings en -tuine. Ons is hier.

KB: Vyf gemeentes het uit verband met die NG Kerk getree (“Aktes van Opskorting”). ’n Mens sien hulle plek word “gehou” in die agenda tot die sinode se afgevaardigdelys. Is die verwagting dat die gemeentes weldra sal terugkeer?

JL: Ja, dit is my gebed dat daar herstel sal kan kom, en ’n terugkeer. Ons mense, en spesifiek ons dominees, is soos stof, ons tyd gaan gou verby, maar die Here wat sy kerk lei en bewaar en saamroep, werk met dekades en eeue. Sy wil is nie skeuring, van géén kant af nie, en só het Paulus en Petrus hulle briewe vol geskryf aan moeilike gemeentes, en gepleit vir die liefde, wat ook niks anders is as die waarheid nie.

KB: Die NG Kerk Vrystaat is op personeelvlak deur ’n klomp verandering. Sedert 2022, is sowat 50 leraars weg (hetsy afgetree, na ander streke beroep, uit die bediening bedank of oorlede). Aan die ander kant is 62 diensleraars, predikante en proponente in gemeentes bevestig. Wat is jou indruk van hoe die bekendstelling van diensleraars die dinamika binne gemeentes in die Vrystaat verander?

JL: ’n Goeie dinamika, maar dit vra ook goeie begeleiding, en natuurlik die beste opleiding – dit is hoekom hierdie Vrystaatse Sinode oor die ampte sal moet praat, en wat nodig is om iemand daarvoor voor te berei; kerklik én akademies.

KB: ’n Mens lees in die verslae dat “namate die kerklike landskap in die Vrystaat vir die NG Kerk verander, ringe ’n al groter rol moet speel as eerste uitdrukking / ‘linie’ vir kerkverband en om hulp aan gemeentes te bied vir hulle bediening.” Hoe sien jy dit reeds prakties in die Vrystaat uitspeel en wat beteken dit vir kerkwees op die platteland?

JL: Dit ís asof daar ’n realisme gekom het: Dit help nie ons verlang terug na ’n vervloë era van groot gemeentes elk met ’n dominee of drie nie, en asof ons met mekaar in kompetisie is, asof elkeen net wil oorleef nie. Oral begin groter en kleiner gemeentes handevat – in die Suid-Vrystaat, in en rondom Bloemfontein, in die Riemland en die Ring van Betlehem om enkele voorbeelde te noem. Sterker ringe, en ’n sterker sinodale struktuur om te ondersteun – dit is wat meer en meer nodig gaan wees, en gelukkig het ons nog die kragte en kundigheid en middele wat God deur 160 jaar aan hierdie sinode gegee het om dit te kan doen; die tyd is nou hier!

KB: Kerkleiers het besef kerkwees vandag stel hoë eise aan funksionarisse se regskennis en, in sommige gevalle, emosionele weerbaarheid. Hoe sou jy hierdie paragraaf op bl 61 van die agenda in meer toeganklike taal verduidelik: “Dit is veral nodig dat daar opnuut geloofsonderskeidend gedink sal word oor die teologie en uitgangspunte wat ons verstaan van en reglemente vir die Christelike tug in die Kerkorde onderlê.”?

JL: Persoonlik is daar wat my aanbetref, ’n diep teologiese gesprek nodig oor wat die “Christelike opsig en tug” oorspronklik bedoel was om te wees – Jesus se eie woorde, in die eerste gemeentes, in ons gereformeerde belydenis. Pastoraal, soos ’n herder na die voorbeeld van die Goeie Herder self, en minder wetties, minder juridies. Terselfdertyd, die Skrif is vol geskryf oor die geregtigheid van God en oor hoe ’n weegskaal vir iedereen gelyk moet hang. Regspraak val nie buite die Koninkryk van Christus nie!

KB: Die NG Kerk Vrystaat het by die vorige sinodesitting ten opsigte van ten minste een verdelende saak (die opsies van gay lidmate) te ruste gekom by die “versoek” dat die dominees wat paartjies in selfdegeslagverbintenisse wil bevestig, dit liefs nie doen nie. Hoe moet ’n mens dink oor die volhoubaarheid van so ’n besluit?

JL: Dit was ’n kompromie en een waaroor in die jare wat voorlê, meer duidelikheid sal kom; die woord was “versoek”.

KB: Die “universitas-beginsel” het verhoogde nuuswaarde verkry in afgelope jare. Wat is dit en hoekom help dit ’n mens om dit te verstaan wanneer jy in kerknuus lees van gemeentes wat hulle verband met sinodale strukture wil loswikkel of breek?

JL: Die sogenaamde “universitas-beginsel” kom uit die algemene (“gemene”) reg, en beteken gewoon dat niemand – selfs ’n minderheidjie of enkelinge – teen hulle sin vervreem mag word van dit waarin hulle deel het of lewenslank en deur generasies help opbou het, of dit nou eiendom of fondse of inderdaad ook, die bediening van die Woord en sakramente daar waar hulle lidmate is nie. Hierdie “gawes” en “voorregte” behoort aan die héle gemeente. Praat daarom eerder met mekaar en kom onderling tot ’n vergelyk, wees geduldig en soek mekaar se geestelike welsyn, alvorens daar op allerlei onkerkordelike maniere dwang na enige kant uitgeoefen word.

KB: Een van die besprekingspunte vir Bothaville is die voorgestelde opdatering / aanpassing van die NG Kerk Vrystaat se kommunikasiebeleid. Wat is vir jou die sukseskriteria vir kerklike kommunikasie?

JL: Egte, eerlike, openhartige en toeganklike kommunikasie. En ja, versigtig maar vir KI – dié masjien kan nie glo nie, en nog minder bid. Moet ons nie verdom nie.

KB: Waarna sien jy uit vir hierdie vergadering?

JL: Esegiël 47 se sáám lees. “God is hier teenwoordig” te beleef. Die viering van vier jaar se werk. Die leer uit wat ánders sou kon wees. Die stemme en landskap wat rondom ons opklink te hoor. Vars water te proe. Te sien wie God roep om leiding te neem. Vorentoe te kyk. En om dan Woensdagmiddag huis toe te kom, soos in huis toe. Ook na ’n tuisgemeente, weer. En diep te mag weet: God is getrou, Hy sal sy kerkies in die Vrystaat versamel, versorg en onderhou!

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top