Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoe ondersteun ’n mens iemand wat deur afleggings of ingrypende beroepsonsekerheid geraak word? Kerkbode het drie kundiges geraadpleeg.

Help! My geliefde se werk is in gedrang (Wenke om ander sinvol by te staan)

Hoe gemaak as jou geliefde se maatskappy herstruktureer en jy meteens moet probeer raadgewer  speel vir iemand wat werkverlies in die gesig staar of reeds sy / haar werk verloor het? 


Werkskaarsste in Suid-Afrika dra by tot die traumatiese uitwerking wat afleggings kan hê en “die realiteit is, dis ongelooflik moeilik om werk te kry,” sê Phyline Duncan, ’n direkteur by Joubert en Genote in die Paarl. “En hoe langer jy sukkel om werk te kry, hoe moeiliker raak dit.” Sy voeg by: “As ek iemand sien wat bedank sonder dat hulle ’n ander werk het, wil ek verstaan wat aangaan?”

Werkloosheid en talle buite die arbeidsmag 

Die Suid-Afrikaanse werkloosheidsyfer staan op 32,7%, volgens die kwartaalsyfer wat in Mei vanjaar bekendgemaak is. Die uitgebreide definisie van werkloosheid stoot dié syfer verder op, tot 43,7%. En hoewel daar vele is wat buite die formele sektore woeker, is die magdom ontmoedigde werksoekers en mense wat nie die arbeidsmag suksesvol kan betree nie ’n yslike deel van ons land se ekonomiese uitdaging en ons nasie se ingewikkelde verhaal. 

Duncan is een van drie kundiges wat Kerkbode geraadpleeg het met die vraag: Hoe ondersteun ’n mens iemand wat deur afleggings of ingrypende beroepsonsekerheid geraak word?

 

Wenke vir  gesonde ondersteuning: Waak teen rescue 

Dr Nico Smit sê werkverlies se impak is veelvlakkig. “(Dit raak) identiteit, selfwaarde, ritme, finansiële veiligheid en selfs verhoudings.” 

Een wenslike uitkoms vir ondersteuning aan iemand wat deur so ’n proses gaan, kan bloot wees dat die persoon ervaar dat hy / sy nie skielik minder werd is nie, meen Smit, ’n NG predikant met ’n spesialisberadingspraktyk gekoppel aan die gemeente waar hy dien en werkloosheid is ‘n groot stressor onder die tussen 25-30 pasiënte / kliënte wat hy per week sien. 

 Daar is volgens Smit ’n paar eenvoudige “moets en moenies” vir geliefdes wat gesonde steun en begrip wil toon.

Hoe ondersteuning gewoonlik lyk:

  • Om teenwoordig te wees sonder om alles te probeer regmaak.
  • Om meer te luister as om raad te gee.
  • Om waardigheid te beskerm, nie die persoon soos ’n projek te behandel nie (Dit gebeur baie meer as wat ons dink).
  • Om praktiese hulp aan te bied sonder om beheer oor te neem.
  • Om hoop te gee sonder om die pyn te minimaliseer. Daardie woorde wat leeg is: “Alles sal oukei wees,” werk nie in hierdie omstandighede nie.

Wat ondersteuning nié is nie:

  • Om elke dag oplossings of werksgeleenthede aan te stuur. Dit word so goed bedoel, maar as die persoon nie vir hulp gevra het nie, wees eerder slegs ondersteunend.
  • Om die persoon voortdurend te monitor of te “check”.
  • Om namens hulle besluite te neem.
  • Om skuld of skaamte subtiel te versterk met opmerkings soos: “Jy moet net positief bly” of “alles gebeur vir ’n rede”.
  • Om hulle identiteit net aan werk of sukses te koppel.

 

Wees bewus van jou eie ongemak 

Smit waarsku teen die gevreesde reddingsaksie (rescue), wat na ’n baie spesifieke soort gedrag verwys wat dikwels buite die bewussyn van die doener bestaan. Dit spruit uit die rescuer se eie sterk kondisionering dat hulle eie waarde opgelsuit lê in die mate waartoe hulle ander te hulp snel. “Ek dink baie ‘goeie dade’ kry onbedoelde gevolge wanneer ondersteuning begin skuif van liefde na rescue,” verduidelik Smit, wat ook tans besig is met ’n Meestersgraad in Gedragswetenskap. “Rescue gebeur dikwels wanneer iemand anders se ongemak vir óns so moeilik raak dat ons alles wil oorneem om vinnig weer stabiliteit te skep. Ons voel ons moet hulle red, of moet oplossings bied. Ondersteuning sê: ‘Ek stap saam met jou.’ Rescue sê onbewustelik: ‘Jy kan dit nie sonder my hanteer nie’,” aldus Smit. 

Hoe weet ek of ek help of rescue? Smit sê hierdie vraag aan jouself mag help: “Help my optrede hierdie persoon om weer sterker en meer selfstandig te voel, of meer afhanklik en kleiner?”

 

Bly grounded in jouself 

Elsa Simpson praat weer uit ryke ervaring wat die interpersoonlike aspek van digitaalbemiddeld maar geografies verstrooide werksmagte van multi-nasionale maatskappye insluit. 

“Ek was ’n hele paar jaar gelede as konsultant betrokke by ’n internasionale finasië le instansie met ’n hoofkantoor in San Francisco. Hulle het die intellektuele eiendom van ’n IT start-up gekoop en daarmee saam die meeste mense ook oorgeneem as werknemers,” vertel Simpson, wat haarself as menslike interaksie-konsultant beskryf en ’n agtergrond in maatskaplike werk na die korporatiewe wêreld se koppelvlak tussen werkgewers en werknemers bring. “Terwyl ons nog met die oorskakeling besig was, besluit die moeder-maatskappy om die kantoor in Kaapstad toe te maak en na Indië te skuif. My fokus verander toe na die ondersteuning van mense wat hulle werk gaan verloor of die moeilike besluit moet neem om oorsee te gaan werk.” 

Luister sonder om raad te gee

Ná die proses het Simpson ’n verdere ronde onderhoude met 20 mense wat geraak is gevoer om te verstaan wat hulle die meeste gehelp het. ’n Vashou aan eie waarde tel onder die winspunte, meen sy en deel ’n aanhaling van een van die deelnemers in die opname: “Ek het besef dat die enigste konstante in die verandering, ek is. Hoe meer grounded ek in myself kon wees, hoe kalmer het ek gevoel. Hoe meer moed kon ek bymekaarskraap om na nuwe werk te soek.”

Simpson benadruk die volgende vir diegene wat naby leef aan ’n persoon wat sy / haar werk verloor het:

  • Skort alle kritiek op. Die persoon wat deur hierdie proses gaan, doen oorgenoeg gedwonge selfondersoek en kritiese gedagtes oor hom / haarself.
  • Luister sonder om advies te gee of om te probeer fix. Dit laat die persoon net nog slegter ook hulleself voel.
  • Bevestig die persoon vir wie hy / sy is. Doen moeite om terugvoer te gee oor alles wat die persoon al bereik het en oor wie hy / sy is.
  • Ondersteun (op ’n praktiese vlak) om by ’n berader / sielkundige uit te kom. Ook om by recruitment-mense uit te kom om te help met die werksoekproses.

 

Ook Simpson beaam Smit se waarskuwing teen rescue-gedrag. “Daar is ’n fyn lyn tussen ondersteun en dit vir die persoon doen. Maak seker jy behou die grense. Hoe meer jy vir die persoon doen, bv die afsprake vir hom / haar maak ens, hoe minder goed voel hulle oor hulself en dit is ’n afwaartse spiraal.”

Op ’n praktiese vlak som Simpson op: Bly connected, maar moenie oorneem nie. Daarmee kommunikeer jy dat julle twee gelykes is in ’n groter verhaal wat besig is om te ontvou.

 

In die werkplek: Ken jou regte

Duncan waarsku dat daar dikwels onkunde oor Suid-Afrikaanse arbeidsreg heers, veral rondom artikel 189 van die wet op arbeidsverhoudinge. “Daai stuk wetgewing sit vir jou stap-vir-stap uit wat jy (as werkgewer) moet doen, so dis hoogs gereguleerd.” Haar raad aan werknemers wat in so ’n proses gewikkel is, is om hulself in te lig. Die proses moet ten alle tye prosedureel en substantief billik wees, verduidelik sy. Die wet probeer die magsverhouding tussen werkgewer en werknemer tot ’n mate balanseer deur middel van deeglike prosesse, verduidelik sy. 

So hoe lyk steun aan die mens wat retrench word vanuit haar oogpunt? “Ons as menslike hulpbronkonsultante sit met twee hoedjies op (arbeidsreg en sielkunde). Ons probeer bewus wees jy is besig met ’n mens se lewe. Jy kan nie te koud en kilnies wees nie,” verduidelik sy. “Ek is gewoonlik baie oop daaroor deur te sê, om afleggings te doen is werklik die slegste deel van my werk en tien keer erger vir jou.” Vanuit die maatskappy se kant is daar opsies vir ondersteuning, afhangend van die maatskappy se hulpbronne. Dit wissel van gewoon ’n positiewe verwysig op ’n CV tot tyd af vir onderhoude of berading. 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top