Negentig jaar van genade is op 14 April 2026 gevier, met ’n pragtige aand in die Fairtree Atterbury-teater in Pretoria. Mense het van heinde en verre gekom om die geleentheid te gedenk. Die gehoor is bekoor met die operasang van Papi en Bongi Musa, sowel as Hendri van Dyk. Ons is teruggeneem in tyd met stories van die begindae, hoe die CMR gegroei het en waar hulle nou is. Stories van hoop is met ons gedeel deur die mense wat dit self ervaar het, waarvan Lucky Makgatho s’n een was.

Lucky was in sy lewe, nie soos sy naam dalk sou blyk, altyd gelukkig lewe nie. Vroeg in sy lewe moes hy leer om vir homself te sorg. Hy was maar 15 toe sy ma hospitaal toe geneem is deur haar familielede, en sy het ongelukkig nooit weer teruggekom huis toe nie. Hy moes nog steeds skool gaan, waar hy elke tweede dag ’n bord kos ontvang het. Op die ander dae moes hy plan maak om kos in die hande te kry. Sy familielede het sy jonger boetie kom haal om by hulle te gaan bly, maar daar was nie plek vir hom ook nie. Uiteindelik kom dit op ’n punt waar hy nie meer vorentoe kan nie.

Die CMR het op daardie stadium gemeenskapswerk gedoen onder die hoërskole om veral kinders te ondersteun wat hulle huishoudings moet bestuur en onderhou. Daar ontmoet hy vir Neo, die maatskaplike werker. Sy gaan uit haar pad uit om seker te maak hy gaan met goeie klere skool toe. Dat hy genoeg kos het vir elke dag. Sy maak seker hy doen sy huiswerk, sodat hy goed deur Matriek kan kom. Hy sal nooit die deernis van haar dade vergeet nie. “She became a mother to me, not only making sure I have everything I need, but caring enough to make sure I will become the person I was meant to be,” vertel Lucky. Sy lewe draai goed uit, hy het ’n goeie werk en ’n vaste blyplek. En Neo se paadjie vat haar na ’n ander tak toe. Later wil hy graag sy jonger boetie weer terug by hom hê, sodat hy by ’n goeie skool kan aansluit. En hy gaan klop aan by CMR-Noord Lotus Gardens om raad te vra. En wie sal hy daar ontmoet anders as Neo. Sy lewe is onherroeplik verander deur die ingrype van ’n maatskaplike werker wat deur en deur ’n verskil gemaak het.

Dít is ook die verhaal van CMR-Noord vir die afgelope 90 jaar. Sedert 1936 is hierdie organisasie al besig met genadewerk in gemeenskappe. Armoedeverligting, kinderbeskerming, verhoudingsbou en gemeenskapsontwikkeling is maar net ’n paar van die goed waarmee hulle besig is in die noorde van die land. Hulle het 15 ‘Centres of Hope’, of takke waar mense kan kom aanklop vir hulp. Dikwels word die vraag gevra, waar is die NG Kerk wanneer daar soveel nood is in die land? En ek wil antwoord, hier. Ons is hier.

Die CMR se verslae dien by elke ringsitting en elke sinodesitting, maar ek dink nie mense besef aldag die groot werk wat hierdie sentrums van hoop doen in hulle areas nie. Stories soos Lucky s’n wys die enorme impak wat hierdie organisasie het, nie net vir lidmate nie, maar vir elke persoon in Suid-Afrika wat dit sou nodig hê. “Die werk wat ons doen bly baie keer onsigbaar, maar dit word diep gevoel deur die mense wat daarby baat.

Die CMR se storie is ook een van hoop. Hulle pad was nie altyd maklik nie. Die hofsake in 2021-2022 waar die organisasie moes veg om hulle kinderbeskermingstatus terug te kry na bewerings van nalatigheid en ernstige wangedrag, het groot skade berokken. Befondsing is altyd ’n groot bekommernis, en dit is lang dae van hartseer stories waarmee die CMR te doen het. Maar deur dit alles bly hulle hoopvol. Ds Danie Janse van Rensburg het die aand geopen met ’n boodskap wat daaraan herinner: “Alles wat ons onthou, en alles wat ons nog hoop om te sien bly uiteindelik afhanklik van genade. Genade wat ons dra, wat ons lei, genade wat ons ook leer om mekaar te dra.”
In Suid-Afrika is 90 jaar ’n ongelooflike mylpaal om werksaam te wees as NWO, veral wanneer daar tans meer as 250 000 geregistreerde NWO’s in die land is. Dit is niks minder as ’n wonderwerk dat hierdie organisasie nog kan doen wat hulle doen nie. “The curtain doesn’t fall now, it rises. This is only the beginning,” het Marion-Rose Banks, ‘n kommunikasiekundige, gesê oor die tydperk wat vir die organisasie voorlê. Daar is nog te veel Lucky’s in ons land, maar elke persoon wat gehelp word by ’n CMR-sentrum beteken dat daar een minder kind is wat hoef te bekommer oor môre.
Indien jy wil aanklop vir hulp, of betrokke wil raak by die CMR Noord, besoek gerus hulle webtuiste www.cmrn.co.za vir meer inligting.
Ds Hendrien van Vliet is predikant by die Kempton-Hoogland.
Hierdie berig is ná publikasie aangepas. – Red.
