Doktorale navorsing nou ’n erflating aan die NG Kerk

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ds Bianca van Graan is op 26 Julie 2021 oorlede aan Covid-19, terwyl sy met die finale fase van haar doktorale studie besig was. Anandie Greyling deel in die rubriek Van Graan se navorsing wat op kerklike tug as liefdeshandeling gefokus het. – Red. 


Ek het ds Bianca van Graan leer ken terwyl ek ’n gemeentejaarstudent by NG Lyttelton-Oos was en sy predikant daar was. Sy is by verskeie gemeentes waar sy betrokke was geliefd en geken as ’n saggeaarde, deernisvolle persoon wat hard kon werk – veral op basaars, in haar studies en om koek te bak vir die mense na aan haar. Haar gesin beskryf haar aan Kerkbode as iemand wat nuuskierig was en maklik ’n boek of Google nadergetrek het as sy meer van iets wou weet. Hulle sal haar ook onthou as iemand wat ’n hart vir alle mense gehad het, ook mense wat swaar kry.

Ds Bianca van Graan het op die NG Kerk se Oostelike Sinode en Algemene Sinode se regskomissies gedien. Haar ouers droom daarvan dat haar model tog in die toekoms as opleidingshandleiding ontwikkel kan word.

Van Graan was lief vir die kerk en het ’n passie vir die kerk­orde gehad. Sy wou ’n dosent in kerkreg word, sodat sy haar liefde en kennis in die vakgebied met ander mense kon deel. In ’n mate beskou ek haar werksdokument van haar proefskrif as ’n soort nalatenskap en erflating aan die NG Kerk.

Op ’n persoonlike vlak is dit nie net vir my hartverskeurend dat sy gesterf het nie, maar ook voor haar doktoraal afgehandel kon word. Sy was ’n doktorale kandidaat aan die Universiteit van Pretoria met ’n goedgekeurde titel van “Kerklike tug: ’n Nuwe model vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk”.

Prof Johan van der Merwe, Van Graan se studieleier, som haar studie op as “tug wat van die bottom-up en nie top-down nie” plaasvind, met ’n sterk fokus op die bemagtiging van lidmate eerder as net kerkstrukture. Van Graan het die tug as ’n belangrike kenteken van die kerk beskou en dat dit nie net van toepassing was op mense in die ampte nie. Versorging as tug eerder as straf, was die fokus van haar studie en spesifiek hoe gemeentelede mekaar moet versorg, soos byvoorbeeld in omgeegroepe. Van Graan het ook op Willie Jonker se bydraes gefokus in haar besprekings rondom versorging. Van der Merwe verduidelik ook dat Van Graan ’n sensitiwiteit wou kweek waar mense kan raaksien as “iemand in die moeilikheid is of swaarkry” om hom/haar by te staan.

LEES OOK: Marileen gesels met ds Charl Stander

“Kerklike tug is riglyne om mense binne die wil van God te laat wandel, om mense te help om te breek met die sondige natuur en om met liefde hulle weer tuis te laat voel in die kerk van die Here Jesus Christus,” skryf Van Graan in haar studie­stuk. Verder beklemtoon sy dat kerklike tug tot ’n einde moet kom wanneer ’n persoon waaroor dit toegepas word, tot beke­ring kom en berou toon oor sy/haar dade.

Vanuit Van Graan se empiriese studie dui sy aan dat lidmate van die NG Kerk nie noodwendig ’n probleem het met die kerklike tug nie. Tog het die respondente aangedui dat die manier waarop kerklike tug soms uitgeoefen word skade kan berokken deurdat mense liefdeloosheid, verwerping en selfs oordeel kan beleef. Sy beklemtoon egter dat dit nie die doel en funksie van kerklike tug is nie, maar sy pleit daar “moet aandag gegee word daaraan (want) dit is hoe sommige lidmate die kerklike tug ervaar.”

Van Graan meen dat lidmate van die NG Kerk bemagtig en toegerus moet word om self die verantwoordelikheid wat hulle het om medegelowiges te vermaan en tug te kan uitoefen, toe te pas. Verder, verduidelik Van Graan, moet daar meer aandag aan die kundigheid van persone gegee word wat op kerkraad- en ringsvlak dien om die tug toe te pas.

Kerklike tughandeling moet eerder op die persoon (waaroor dit gaan) fokus, as die slaafse navolging van stappe wat die reglement voorskryf, skryf Van Graan. Sy stel dit baie duidelik dat sy nie wil wegdoen met kerkorde-artikels of -reglemente nie, maar die persone wat verantwoordelik is vir die uitoefening van die kerklike tug moet “so vertroud wees met die prosedure wat gevolg moet word, dat hulle in hulle beoordeling en ondersoek eerder kan fokus op die persoon waaroor dit gaan …” skryf Van Graan.

LEES OOK: Anandie gesels met dr Pieter Visser

Uit haar empiriese data is dit duidelik dat daar ’n verhouding moet wees tussen die persoon wat die tughandeling uitvoer en die persoon waaroor die tughandeling uitgevoer word. Sy beskryf dit as ’n liefdesverhouding tussen broers/susters (of ’n ouer en kind). “Wanneer so ’n verhouding ontbreek,” verduidelik Van Graan, “mag dit ’n invloed hê op hoe die kerklike tug of vermaning ervaar word.” Sy skryf dat hierdie tipe verhoudings onder lidmate bestaan en daarom nie net alleen op ampsvlak uitgevoer kan word nie. Verder stel sy ’n tipe biegstelsel voor om lidmate aan te moedig om in ’n veilige omgewing, sonder oordeel of skuld, ’n sondebelydenis te kan doen. Van Graan beklemtoon ook dat “nuwe lig gewerp en aandag gegee word aan kerkvisitasie”, as deel van ’n liefdes- en vertrouensverhouding – die twee ankers van haar model vir effektiewe kerklike tug.

Kerkreg was Van Graan se passie en “sy wou die kerk ’n plek van plesier maak vir almal om te geniet”, vertel haar gesin. Dankie, Bianca, vir hierdie erfporsie van jou kennis, liefde en insig. Jou navorsing en lewe gee ons baie stof tot nadenke!

  • Ds Bianca van Graan het op die NG Kerk se Oostelike Sinode en Algemene Sinode se regskomissies gedien. Haar ouers droom daarvan dat haar model tog in die toekoms as opleidingshandleiding ontwikkel kan word.

▶ Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG gemeente Pierre van Reyneveld.

*In herinnering aan ds Bianca van Graan, 29 Januarie 1988 – 26 Julie 2021.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode