Kerklike tug: en die grootste hiervan is die liefde!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Marileen Steyn gesels met Charl Stander oor die tug, die kerkorde en bo dit alles: die liefde.

“Hoekom?” blaker ek uit byna voordat ek myself kan keer. “Hoekom sal jy soveel van jou tyd aan kerkreg en regskommissies wil spandeer?” Dít is hoe my gesprek met ds Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland en skriba van die Algemene Taakspan Regte (ATR), begin.

Ek kan nie anders as om dit te vra nie. Myns insiens word die wêreld van kerkreg geken aan trauma en kritiek: Trauma as gevolg van die tugsake wat ’n mens (byna konstant) moet hanteer en kritiek (byna konstant) oor hoe jy dit hanteer het.

LEES OOK: Anandie praat oor ds Bianca van Graan

“Want ek is regtig lief vir die kerk,” kom Stander se eenvoudige antwoord. Stander vertel hoe hy werklik die heil van die kerk op die hart dra en dat die kerkreg juis ’n instrument is wat die welwese van die kerk bevorder. Kerklike tug, herinner hy, is nie bedoel as straf nie, maar eerder om die een wat struikel, op te help, om die een wat afdwaal te heroriënteer om ’n nuwe rigting in te slaan.

Ds Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland en skriba van die Algemene Taakspan Regte (ATR).

Wanneer dit by tugsake van predikante kom, is die doel allermins om ’n predikant wat sondig “uit te vang” en te straf. “Dit is eerstens gerig op selfinsig, berou en bekering tot die regte weë sodat die predikant se bedie­ning tot seën van die gemeente sal wees.” Dit poog om die integriteit en die geloofwaardigheid van die amp van predikant, te beskerm sodat mense steeds die stem van God deur die predikant sal kan hoor.

Stander verwoord ’n stuk berou as hy vertel hoe die kerklike tug deesdae hoofsaaklik onder predikante geskied terwyl dit eintlik veronderstel is om deel te wees van elke Christen se lewe. Elkeen van ons is afhanklik van ’n gemeenskap om ons verantwoordbaar te hou in ons strewe na die Christelike handel en wandel.

In hierdie opsig laat ons mekaar in die steek, meen Stander. Die probleem, verduidelik hy, is dat mense daarvan wegskram om verantwoordelikheid vir hulle optrede te neem en nog minder oop is dat ander hulle verantwoordbaar hou. “Geestelike volwassenheid,” sê hy, “is om oop te wees vir ander om jou op die regte pad te hou. Ons behoort mekaar uit te nooi en aan te stel om ons verantwoordbaar te hou.”

Hoe doen ’n mens dit? wonder ek. Die Bybel leer ons nou wel om met ons broer of suster te praat, maar die Bybel gee nie juis ’n stap-vir-stap handleiding nie. Stander verduidelik dat ons mekaar slegs verantwoordbaar kan hou as daar reeds ’n verhouding is. Die vreemdeling se vermaning sal op dowe ore val, maar die vermaning van ’n vriend, wat in liefde ge­skied, mag dalk net tot ’n ander deurdring.

LEES OOK: Marileen gesels met prof Nico Vorster

“Die probleem is dat ons nie daarin ingeoefen is nie,” sê Stander. “Daarin?” vra ek. “In die gebruik om mekaar te ondersteun en in liefde te vermaan.” Soos ons dit bespreek, besef ek dat Stander hier nie net na tug verwys nie, maar oor die algemeen na die manier waarop mense versuim om mekaar by te staan op hulle lewensreis. In ons gesprek word dit duidelik dat dit (weereens) neerkom op ’n gebrek aan liefde.

Die liefde wat ons as Christene vir mekaar het, vra van ons om meer as toeskouers in mekaar se lewe te wees en om eerder in te tree en aktief deel te wees van mense se hoogte- en laagtepunte. Vat byvoorbeeld gemeentes waar ’n predikant (of iemand anders) deur ’n tugproses gaan. Die algemene reaksie hierop is tel­kens, sê Stander, om as toeskouers na die proses te staan en kyk en agteraf daaroor te praat. Liefde vra eerder dat daar direk met die betrokke partye gepraat word. Stander gee ’n voorbeeld van hoe liefde in so ’n gesprek lyk: “Ek weet nie of jy skuldig is of nie. Dit is nie vir my belangrik nie. Ek is hier vir jou en wil jou ondersteun.” Dít is die tipe liefde wat van ons almal gevra word.

Stander is rustig, kalm, gematig soos wat ons gesels. Wanneer hy praat oor die kritiek wat hy en ander al vir hulle bydrae in tugsake moes verduur, kan ’n mens egter sien dat dit opmerkings is wat nie net ligtelik afgemaak word nie. Stander, is ek seker, gee om en hy verseker my dat dit waar is vir elke regskommissielid wat by hierdie sake betrokke is. Daar is geen verskuilde agendas nie. Net liefde vir die kerk en ’n besorgdheid oor die integriteit en geloofwaardigheid van predikante.

Terwyl ek daar sit, wroeg ek met Stander se woorde en die ervarings van ander wat ek ken, wat al deur tugsake is. Met hierdie (soms teenstrydige) stemme in elke hand, staan en weeg ek op wat ek gehoor het. In daardie oomblik word ek herinner aan die oopgesprei­de arms van Christus wat die vermoë het om albei hierdie ervaringe en waarhede vas te hou en in die middel daarvan? Daar bly die liefde.

  • Ds Marileen Steyn is verbonde aan die NG gemeente Saldanha.

Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode