Hoekom ek ook na dekolonialisme toelogie kan luister

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek was op laerskool toe ek die eer­ste keer die woord “gereformeerd” gehoor het. “Nederduits-Gereformeerd” was deel van my weeklikse roe­tine en een van die eerste woorde in my teologiese woordeskat.

Dit was eers heelwat later, iewers gedurende my studies waarskynlik, wat ek met die woord “dekolonialisasie” in aanraking gekom het. Dit was ’n abstrakte term, een wat ek nie teengestaan het nie, maar een wat in die kantlyne van my denke gespeel het.

Dekolonialisasie teologie, na my beperkte verstaan, was nie vir hierdie wit meisie nie, maar eerder vir swart bevrydingsteoloë. Dit is maar relatief onlangs wat ek meer en meer begin besef het dat ek ook oor dekolonialisasie teologie moet omgee.

LEES OOK: Anandie gesels met dr Wessel Wessels

Wanneer ek met prof Nico Vorster gesels, is dit juis oor hierdie twee teologieë: gereformeerde teologie en dekolonialisasie (en postkolonialisasie) teologie. Eerste goed eerste, stop ek die ge­sprek. Ek weet nie eens wat die verskil tussen postkolonialisasie en dekolonia­lisasie is nie! Postkolonialisasie teologie, verduidelik Vorster, is ’n oorkoepelende term wat na verskeie strominge, waaronder dekolonialisasie teologie, verwys. Dekolonialisasie teologie kyk na die gevolge van voormalige kolonialisasie en ondersoek sogenaamde neo-kolonia­lisme (agterblyfsels en nuwe vorme van kolonialisasie).

Waarin Vorster spesifiek belangstel, is wat dekolonialisasie en gereformeer­de teologie by mekaar kan leer. Die twee tradisies kan, meen Vorster, mekaar “se blinde kolle uitwys en hulleself en mekaar versterk sonder dat hulle noodwendig oor alles saamstem.” Nie dat die twee, soos hy dadelik uitwys, natuurlike pasmaats is nie. Ongelukkig het gereformeerde teologie en kolonialisasie immers hand aan hand hulle voete aan die oewer van die Kaap gesit.

So wat kan ons as gereformeerdes by dekolonialisasie teoloë leer? Ten diepste herinner dekolonialisasie teologie dat gereformeerde teologie (en gereformeerdes) nie blind kan wees vir sy eie aandeel in die kolonialisasieprojek nie. Vroeë Calvinisme het slawerny nie genoegsaam teengestaan nie en sommige dogmas van die Calvinistiese teologie (hoewel verdraai) is op groot skaal gebruik om apartheid te regverdig.

Dekolonialisasie teologie wys vir gereformeerde teologie uit dat ekstreme dogmas oor sonde sowel as geïnstitusionaliseerde rassisme ongelooflike min­derwaardigheidskomplekse tot ge­volg gehad het. Waar gereformeerde teo­logie al in die verlede dit gestel het dat mense van hulle beeldskap van God gestroop kan word, herinner dekolonia­lisasie teologie volgens Vorster juis dat sonde en genade altyd in balans gesien moet word.

So ook wys dekolonialisasie teologie vir gereformeerdes dat sonde nie bloot ’n persoonlike daad is nie, maar dat dit ook strukture kan beïnvloed en binnedring. Geïnstitusionaliseerde rassisme, as voorbeeld hiervan, vra as teenreaksie juis vir ’n sterker klem op menswaardigheid en die imago Dei (die beeld van God).

Wanneer gereformeerde teologie na dekolonialisasie teologie luister, kan ons juis leer om ook die bronne van kennis en die mondelinge tradisies in Afrika ernstig op te neem. Op hierdie punt staan ek spreekwoordelik kop neergeboë, bewus van hoe baie ek van Europese stories, tradisies en letterkunde ken en hoe min ek van Afrika ken.

Dan kom Vorster by die punt waarby ek dink die meeste van die wit gereformeerdes vir wie ek ken (ek ingesluit) kan baat: Wit gereformeerdes moet daar­teen waak om nie hulle eie Wester­se praktyke van kerk-hou en kerk-wees op Afrika gereformeerdes af te dwing nie. Vergaderings, eredienste (nie die Woordverkondiging of die nagmaal nie) hoef nie te lyk soos wat “ons” dink dit moet lyk nie.

Wanneer Vorster later na die bekende gereformeerde slagspreuk: ecclesia semper reformanda est (die kerk moet altyd reformeer) verwys, is dit vir my die her­innering dat die manier waarop “ons” dinge doen, ook nie altyd die ma­nier was nie, of moet wees nie.

Vorster praat van die slagspreuk as ’n uitnodiging aan dekolonialisasie teologie om ook nie net krities na buite te wees nie, maar soortgelyk krities na binne te wees en gereeld selfondersoek te doen. “Watter standpunte moet gereformeer word?” is die vraag wat Vorster by dekolonialisasie teologie wil los. “Watter nuwe insigte is daar in ons standpunte?” Indien elke teologie nie hierdie vraag vra nie, loop dit die risiko om “gefossileerd en ekstreem” te word.

LEES OOK: Marileen gesels met ds Anriëtte de Ridder

Verder, meen Vorster, vra gereformeerde teologie geldige vrae oor dekolonialisasie teologie se Skrifgebruik en die manier waarop geweld geromantiseer is en steeds word. Terwyl dekolo­nia­lisasie teologie dikwels niks met Westerse tradisies te doen wil hê nie (of die denke bloot op die kantlyn skuif), is Vorster oortuig dat dit nie moontlik of aan te bevele is nie.

Vorster wil homself geensins as ’n dekolonialisasie teoloog beskryf nie. Tog voel hy dat dit krities belangrik is om na mekaar te luister. Daar sal altyd dinge wees waarmee ’n mens nie kan saamstem nie, maan hy. Nietemin is dit belangrik om swart ervarings te leer verstaan, om te verstaan waar mense vandaan kom en om te verstaan waarteen hulle verset is.

“Hoe luister ek as ek ongemaklik voel?” vra ek. Vorster beveel aan dat ’n mens jouself en jou emosies opsy skuif om te verstaan wat die ander wil sê en watter ervarings hulle met jou wil deel. Wanneer ’n mens dit doen, kan ’n groter sensitiwiteit ontwikkel wat kan oor­spoel na onderlinge kontak en konstruktiewe verhoudings met mekaar.

Waar ek hier sit en skryf, gaan ek verseker nie die volgende groot dekolonialisasie teoloog van ons tyd wees nie. Maar ek is gereformeerd. En dit beteken dat ek altyd self-krities moet wees oor wat ek glo. As dekolonialisasie teologie my kan help om dit te doen, dan wil ek luister.

  • Professor Nico Vorster is sistematiese teoloog by die Noordwes-Universiteit.

▶ Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode