Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Wessel Wessels deel met Anandie Greyling sy verstaan van postkoloniale teorieë en dat ons vandag nog kolonialiseer.
As iemand wat in die laaste dekade nog aan ’n universiteit gestudeer het, is die term “postkolonialisasie” nie vir my onbekend nie. As student het ek gedink dat postkolonialisasie die reaksie op iets van die verlede is. In ’n onlangse gesprek bevraagteken ek nie net of kolonialisasie net aan die verlede behoort nie, maar ek wonder ook of ek nie dalk self vandag in ’n mate kolonialiseer nie.
Ek worstel met hierdie vrae danksy ’n onlangse onderhoud met dr Wessel Wessels. Hy het in 2020 sy doktoraat aan die Universiteit van Pretoria voltooi met ’n proefskrif getiteld “Postcolonial homiletics? A practical-theological engagement with postcolonial thought.”
LEES OOK: Anandie gesels met dr Cobus van Wyngaard
Wessels fokus in sy studie op drie hooftemas, naamlik dekolonisering van denke, verskuiwing van die sentrum en postkoloniale identiteite. Wat soos ’n string tegniese terminologie kan klink, is eintlik ten diepste vrae na hoe ons dink en wie ons is. Wessels verduidelik dat kolonialisme nie net beïnvloed wat mense dink nie, maar ook hoe mense dink. Daardie maniere van dink moet afgebreek word en heropgebou word in ’n dekoloniale alternatiewe verbeelding. Wat tel as koloniale denkwyses? Enigiets, meen Wessels, wat die menslike welsyn teenwerk.
Daarom is dit belangrik dat ons gereeld ingeligte navraag doen na wat tot voordeel van die welsyn van die samelewing sal wees. Waar iets nie tot voordeel is nie, moet daar alternatiewe idees gerekonstrueer (opgebou) word om behulpsaam te wees tot die menslike welsyn.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/03/anandie.jpg” caption=”Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG gemeente Pierre van Reyneveld.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Die tweede tema van die verskuiwing van die sentrum vra na wat (en eintlik wie) as die middelpunt van die samelewing beskou word. Tydens die koloniale tydperk is Europa as sentrum ingerig, maar postkolonialisme maan teen ’n enkele universele sentrum en vra eerder ’n pluraliteit van sentrums. Dit beteken dat geen enkele plek, selfs nie eens Afrika, die nuwe sentrum kan wees nie. Die oomblik wat denke net om ’n enkele sentrum (middelpunt) gebou word, is dit kolonialisme.
Om byvoorbeeld vir óf die Weste óf Afrika te kies is ook nie postkoloniaal nie. Net so is dit nie postkoloniaal om alles wat Westers is te ontken nie. Enige iets wat dus wil voorgee of dit die universele manier van dink is, is volgens Wessels, kolonialisties. ’n Mens hoor ’n mate van waarskuwing en ernstige vermaning wanneer Wessels hierdie misverstande uitwys. Universalisme en die uitspeel daarvan in totalitêre ideologieë, sê Wessels, is “in gees nie postkoloniaal nie”.
Wessels se derde tema het te make met ’n postkoloniale identiteit. Wessels meen dat identiteite kompleks is en dat geen mens opsigself na iemand kan kyk en sê “Hierdie is jou identiteit nie”. Lewenservaring is soveel meer kompleks, verduidelik hy. Postkolonisering beweeg van identiteite as onbeweegbare en onveranderbare entiteite na identiteite wat altyd vloeibaar en aan die beweeg is.
LEES OOK: Marileen gesels met prof Nico Vorster
My kop skuif weg van die teorie na gemeenskappe en ek wonder: Kan multikulturele gemeenskappe dan gesien word as postkoloniaal? “Nie outomaties nie,” waarsku hy. Multikultureel as trefwoord kan selfs ’n koloniale sentrum en geykte identiteite verskuil. En dieselfde geld vir transformasie, sê hy.
Transformasie in die postkoloniale sin poog nie net om meer diverse mense in te sluit nie, maar om ook meer diverse denke in te sluit. Ek wonder of ek hom reg verstaan en vra of ons dan steeds kolonialiseer? “Net omdat ons in ’n postkoloniale historiese tydgleuf leef,” sê Wessels, “beteken nie kolonisasie is verby nie.”
My kop is by die spreekwoordelike kansel wat ek Sondag moet betree. Wessels se studie het immers gefokus op hoe hierdie teorie predikers kan help. So wat beteken al hierdie vir die prediking? Predikers, meen Wessels, kan met die hulp van postkoloniale teorie ’n groter bewussyn kweek van die diverse ervarings en identiteit van mense in ’n erediens. Almal is nie dieselfde nie. Selfs al is mense sogenaamd van dieselfde ras of klas (wat alles koloniale kategorieë is) is daar ’n magdom sentrums en identiteite in die kerkbanke (en voor die skerms) teenwoordig. Predikers, meen hy, moet juis met hierdie bewussyn die teks en kansel benader.
Dieselfde is waar van hoe die prediker die Skrif benader. Die verhouding tussen die Skrif en interpreteerder is kompleks. Wessels is daarvan oortuig dat ons hierdie kompleksiteit nodig het, want net een sentrum of waarheid is gevaarlik. Inteendeel, die waarheid lê in die gesprek tussen meervoudigheid van interpretasies en gefragmenteerde identiteite – selfs wanneer dit polariserend is. Vir Wessels is dit meer as teorie. Hy vertel geesdriftig dat hierdie sy eie voorbereiding en predikingstyl beïnvloed het.
Daarom moedig hy predikers aan om nie net in hulle persoonlike lewe doelbewus verskillende en teenstrydige materiaal te lees nie, maar ook in hulle voorbereiding vir prediking op ’n Sondag. Hierdie is ’n uiters moeilike en uitdagende oefening, maar “absoluut die moeite werd”.
In ons onderhoud hoor ek ’n waarskuwing om nie te kolonialiseer nie, ’n herinnering aan hoe kompleks die gemeente is en ’n uitnodiging om wyer as my wêreldjie te lees. Want, het Wessels my oortuig: Kolonialisering oor die algemeen (en selfs moontlik in ons benadering tot prediking) is nie noodwendig verby nie.
- Dr Wessel Wessels is ’n postdoktorale navorsingsgenoot in Homiletiek by die Universiteit van die Vrystaat.
▶ Ds Anandie Greyling is verbonde aan die NG gemeente Pierre van Reyneveld.
Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
