Navorsing: Só ondersoek ons aannames

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dr Cobus van Wyngaard gesels met Anandie Greyling oor hoe navorsing op ’n verantwoordelike wyse op ’n bepaalde tyd kan uitwys wat in die kerk leef.


Wonder jy soms oor aannames wat oor die NG Kerk of selfs oor ’n gemeente aanvaar word? Dan bevind jy jouself in goeie geselskap. Die Algemene Sinode se Taakspan Navorsing bestudeer graag persepsies oor wat in die kerk leef. Op die vraag hoekom daar spesifiek ’n taakspan vir navorsing bestaan, antwoord dr Cobus van Wyngaard, ondervoorsitter van hierdie taakspan: “Sodat ons actually kan weet wat regtig in die kerk aan die gang is.” Daar is meer as ’n duisend NG gemeentes, verduidelik Van Wyngaard, en baie keer dink ons dat ons ’n prentjie het van dit wat in die kerk aan die gebeur is. Tog het elkeen van ons ’n “baie klein venstertjie” waardeur ons kyk. Navorsing, meen Van Wyngaard, help om deur ’n groter lens te kan kyk na dit wat aan die gebeur is.

LEES OOK: Anandie gesels met prof Kobus Schoeman

Ander taakspanne van die Algemene Sinode vra soms vir hierdie taakspan om ’n spesifieke tema of vraag in ge­dagte te hou met ’n volgende rondte navorsing. Tog maak Van Wyngaard dit duidelik dat navorsing in die kerk nie ’n gesentraliseerde ding is nie. Navorsing is nie iets wat verby een persoon, taakspan of spesifieke ‘tafel’ moet gaan nie. Navorsing geskied vanuit verskillende plekke soos byvoorbeeld studente wat studies doen, plaaslike sinodes wat hulle eie navorsing doen of ander taakspanne. Verskeie gemeentes is ook besig met navorsing, sonder dat hulle dit noodwendig besef. Dit is deesdae algemeen dat ’n gemeente ’n google-vorm opstel om hulle gemeente oor iets te pols.

Van Wyngaard praat passievol oor navorsing en beskryf dit as “om beter te verstaan wat aan die gebeur is”. Hy meen dit is krities dat ’n mens besef jy weet nie alles nie. “Ons aannames oor wat lidmate dink is nie altyd akkuraat nie,” sê hy. My eie persoonlike idees van wat ek en my vriende dink is ook nie altyd wat predikante oor die algemeen oor ’n saak dink nie. Van Wyngaard beklemtoon dat navorsing met “’n tikkie ne­derigheid gedoen moet word” en altyd vra “hoe luister ons beter?” Hierdie luister is baie keer aan die hand van vraelyste.

LEES OOK: Anandie gesels met dr Dieter de Bruin

Hierdie taakspan, volgens Van Wyngaard, fokus veral op die deskriptiewe aard van die data – “wat gaan aan?” Hy meen ook dat die data oor tyd kan wys wat in die kerk geskuif het. Van Wyngaard is gemaklik om te sê dat hierdie taakspan deel is van ’n groter sisteem. Ons dien die groter kerkverband deur te help om ’n beter prentjie te hê oor ‘waar is ons?’ Wat daarmee gebeur lê mos nie net by Taakspan Navorsing nie, sê Van Wyngaard. Ons taakspan vra gereeld “wat is die persepsies” en dan gaan toets ons dit. ’n Onlangse voorbeeld daarvan is die jongpredikante-paneel wat in 2019 gedoen is. Daar was ’n persepsie dat jong predikante nie bereid is om platteland toe te gaan nie. En die navor­sing het uitgewys dat die persepsie vals was.

As van die lesers nuuskierig is oor hier­die taakspan se navorsing en wat in die kerk leef, waar kan hulle die inligting verkry? Van Wyngaard deel dat hulle binnekort nuwe navorsing gaan publiseer by http://ngkerk.net/navor­singverslae/

As ondervoorsitter van die Taakspan vir Navorsing deel Van Wyngaard hulle taakspan se verbintenis as “ons wil navorsing op so ’n manier doen dat dit die kerk help, waar die kerk nou is”.

Indien gemeentes ernstig is om hulle lidmate in vraelyste of google-vorms te pols, wat moet hulle in gedagte hou?

Moenie te veel oop vrae gebruik nie, anders kan ’n mens nie ordentlik deur die antwoorde werk nie.

Om verantwoordelik te analiseer is nie so maklik nie. Vra liewer minder vrae, maar vra presies wat julle wil weet.

LEES OOK: Anandie gesels met prof Stéphan van der Watt

Daar is ’n vertrouensverhouding nodig tussen die persone wat dit invul en dié wat dit analiseer. Behou anonimiteit en werk respekvol met die antwoorde.

Luister. Wees versigtig om antwoorde uit vraelyste te wil intrek in bestaande oortuigings en debatte.

Moenie die stem van die meerderheid vanuit die vraelyste vat en dit die posisie of standpunt van ’n gemeen­te maak nie. Geloofsonderskeiding in die kerk werk anders.

Van Wyngaard praat van ’n “groter sensitiwiteit” en dat ons fyner moet werk as ons wil weet wat in die kerk leef. Watter aannames leef in ons hart, gemeentes en by braaivleisgesprekke oor die NG Kerk en haar gemeentes? Navorsing kan ons help om op ’n verantwoordelike wyse nederiger te luister en hopelik versigtiger te praat.

  • Dr Cobus van Wyngaard is dosent in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika en ondervoorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan Navor­sing.

Ds Anandie Greyling is jeugwerker by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode