Anandie Greyling gesels met Dieter de Bruin

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Nagmaal was onderwerp én metode van hierdie dominee se navorsing

Dieter de Bruin beskryf homself as ’t ware as “verslaaf” aan die nagmaal. Anandie Greyling het met hom gesels.

De Bruin verwys na Kent Dunnington se werk oor moderne verslaafdes as profete. ’n Ver­slaafde, verduidelik hy tydens ons onlangse gesprek, wat by Blos Café in Pretoria plaasvind, is verslaaf aan die in­te­grerende beginsel of praktyk in sy/haar lewe. Alles wat ’n mens doen, draai om die bevrediging van daardie ver­slawing. Dit is die integrerende ding wat alles saambind.

Hierdie “verslawing” van De Bruin lei tot ’n doktorsgraad wat hy aan die Universiteit van Pretoria in 2016 ontvang. Hy vertel aan Kerkbode dat hy, nes baie ander navorsers, sy navorsing aan­gepak het vanuit ’n plek van verwondheid. Hy het beleef dat “dinge nie is soos dit moet wees nie” en bevind homself op ’n pelgrimstog op soek na die “heilige graal van betekenis en die volheid van die lewe”. En vir De Bruin is dit te vinde in die eucharistie. In dié maaltyd, verduidelik hy, is alles … ook die lewe self!

LEES OOK: Herverdeelde pedagogie vir teologiese opleiding

Die eucharistie, oftewel die nagmaal, is sentraal tot die erediens en eintlik die wese daarvan, volgens De Bruin. Dit is die volledige gebeure van die erediens. Om te praat van die nagmaal as deel van die erediens óf die erediens en die nagmaal is om ’n “kategoriefout” te maak. De Bruin beklemtoon dat die eucharistie die konstituering van die erediens is. Hy verwys na Barth se werk en sê dat ons nie die Woordverkondiging en sakramente uitmekaar kan uithaal nie.

Hy verkies die term “eucharistie” bo “nagmaal”, omdat dit meer ekumenies van aard is. De Bruin skerts ook deur te sê dit is “’n subtiele protes teen ons­ ­Goeie Vrydag-nagmaalsteologie”.

In sy proefskrif getiteld Die weeklikse viering van die eucharistie en die volheid van die lewe lewer De Bruin kritiek op hoe min die nagmaal, spesifiek in NG Kerk-eredienste, gevier word. Hy pleit eintlik vir ’n weeklikse viering. In die proefskrif fokus hy nie soveel op die teo­logie van die nagmaal nie, maar eer­der ’n teologie met en in die Nagmaal.

Hy verduidelik dat die metodologie van die navorsing in wese was om deel te neem aan die eucharistie. Die eucharistie was beide die onderwerp van die navorsing, asook die metodologie. “Dit was deur die nagmaal te vier wat ek dit nagevors het,” sê De Bruin. Dit is hiérdie hunkering na die volheid van die lewe wat op ’n paradoksale wyse in die ­eucharistie bevredig word. “Dit les tegelyk jou dors en laat jou met ’n groter hunkering, omdat dit ten diepste ’n hunke­ring na God is,” sê De Bruin.

“Die hart van die Triniteit is selfgawe en ontvangs,” en De Bruin verduidelik verder dat dit die eucharistie is waar ons as mense aan hierdie selfgawe en ontvangs deelneem. Liturgies en liggaamlik beleef mense die openbaring en deelname aan die drie-enige lewe in die ­eucharistie. “Die doop is hierby inbegrepe,” voeg De Bruin by.

LEES OOK: ‘Ons wond is waar ons heling lê’

Hy gebruik die deugdetradisie van Plato, Aristoteles en Thomas Aquinas om die vorming wat plaasvind tydens die viering van die Nagmaal te verwoord. ’n Deug is dit wat “in jou gevorm word om instinktief en natuurlik op ’n sekere manier op te tree”. Hy wonder wat sal gebeur as ’n mens gevorm word deur dié maaltyd. As alles in jou lewe ingerig word deur die viering van die nagmaal.

De Bruin beskryf die ritueel van die eucharistie as die “sakrament van die liefde”. In die deelneem aan die eucharistie word ’n mens gevorm in en deur liefde. Hy trek hierdie lyn deur na geloofsvorming en verwys kortliks in die onderhoud na jeugbediening. Hy meen dat die eucharistie nie “’n hoof­stuk van die kurrikulum” is nie. Dit is die kurrikulum!

Hiérdie maaltyd rig ons op die finale doel van ons lewe – theosis. Om aan God self deel te neem. De Bruin brei op hierdie gedagte uit deur te sê die eucharistie is die bevestiging en bemiddeling van ons deelname aan God se lewe. Deur die eucharistie meer getrou te vier sal moeilike gesprekke, wat reeds op die tafel is, moontlik anders hanteer word, meen De Bruin. Dié maaltyd het die potensiaal om gesprekke te fokus en te integreer. Dit kan ook ’n effek hê op hoe temas soos voedselsekerheid, die eko­nomie en politiek aangepak word.

Ons gesprek keer terug na die tema van “verslawing”. De Bruin sluit sy proefskrif af met die hoop dat dit hom meer deugdelik gemaak het. Dat dit hom gevorm het om meer deugdelik deel te neem aan dié maaltyd en om die eucharistie meer deugdelik met ander te deel.

  • Dr Dieter de Bruin is predikant by die NG gemeente Pretoria-Faerie Glen.
  • Ds Anandie Greyling is jeugwerker by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie.

Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode