Broken bodies and redemptive tables: ‘Ons wond is waar ons heling lê’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dié nuwe boek beweeg weg van abstrakte denke en geprekke en soek na die konkrete betekenis van die nagmaal, hoor Marileen Steyn by die drie redakteurs van dié publikasie.

“Bodies matter.” Dit is die eer­ste woorde van die gedig “Prolegomenon” in die boek A body broken, a body betrayed, deur Marcia W Mount Shoop. Hierdie woorde vorm ook die slagspreuk van die nuwe boek Broken bodies and redemptive tables: The Lord’s Supper and its theological, historical and socio-political dimensions.

Kerkbode het met Robert Vosloo, Sipho Mahokoto en Marnus Havenga, die redakteurs, gesels oor die betekenis en belang van die (L)iggaam, nagmaal en verlossing.

Die boek, wat op die nagmaal fokus, beweeg weg van abstrakte denke en ge­sprekke en soek na die konkrete be­te­ke­nis van die nagmaal binne die unieke teo­logiese, historiese en sosio-politiese konteks van Suid-Afrika. Dit is om die nagmaalstafel wat versoening en skeiding, uitsluiting en omarming in Suid-Afrika afgespeel het en steeds afspeel. Die nagmaalstafel staan nie in ’n va­kuum nie, maar word betree vanuit spe­sifieke kontekste. Dit is ook vanuit die tafel dat ons die wêreld, met al sy kompleksiteite, weer betree.

LEES OOK: Geloofsvorming meer as net ’n ‘klein google’

Die holistiese beskouing van die nagmaal beteken dat die boek nie net bedoel is vir die konferensie­tafels van akademici nie, ook nie net vir die studeer­kamertafels van predikante nie. Broken bodies and redemptive tables is ook be­doel vir die etenstafels van gemeenskappe. “Dit is ’n boek wat praat oor regte ta­fels en regte mense,” vertel Havenga. Mahokoto wys ook met opwinding uit dat dit onder andere na regte, geïnkultureerde praktyke van die nagmaal in die land kyk.

Die unieke ontstaansproses van die boek staan vir die redakteurs as ’n hoog­tepunt uit. Deel hiervan was die samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie en verskeie kerklike vennote wat deel vorm van die fakulteit se Ekumeniese Raad. Hulle maak veral melding van die unieke gebruik waar outeurs nie in afsondering geskryf het nie, maar ook spe­sifiek na mekaar se werk gekyk het, terugvoer gelewer het en insette gegee het. Die resultaat is ’n boek van vriendskappe, gemeenskaplikheid en kollektiewe wysheid.

Deel van die filosofie agter die boek lê in die oortuiging dat die land se ge­skie­denis en konteks nie los kan staan van die liggaam nie en so ook nie los kan staan van die gebroke Liggaam waarin Christene deel het deur die nagmaal nie. Dit is ’n liggaam wat histories aan ’n kruis gebreek is. Dit is die Liggaam wat deur skeiding en uit­slui­ting oor die jare gebreek het. Die boek kyk na die manier waarop die nagmaalstafel ook ’n tafel van verlossing en lament is. Die nagmaalstafel, verduidelik Maho­koto, word vir gebroke mense, ongeag hulle gebrokenheid, ’n ruimte van verlossing, van verwelkoming, van raakgesien en herken word.

Hy deel hoe hy self maar etlike weke vantevore vir die eerste keer in ’n jaar die nagmaal gevier het. Hy vertel hoe hulle steeds nie die brood en beker kon deel soos gebruiklik is nie en hoe vreemd dit was. Maar dan begin hy praat van die oomblik van herkenning wat in die fisiese teenwoordigheid van mekaar plaasgevind het. Die fisiese teenwoordigheid van die gebroke liggaam was vir hom so belangrik en so waardevol ten spyte van die feit dat hulle die tekens fisies nie kon deel nie.

LEES OOK: Anandie Greyling gesels met dr Dieter de Bruin

Maar wat bedoel Vosloo, Mahokoto en Havenga as hulle van verlossing praat? Hulle bedoel die woord in die omvattende sin om te praat van heling, hoop, versoening en gasvryheid – nie net vir die individu nie, maar ook vir die breër gemeenskap. Dit is ’n verlos­sing wat nie los kan staan van trauma en klag nie, maar wat juis kan wees as ge­volg van die gebrokenheid van die mens se liggaam en die Liggaam van Christus. “Ons wond is waar ons heling lê,” sê Vosloo.

Die boekprojek is voor Covid geïni­sieer, maar die virus het die boek net nog soveel meer relevant gemaak. In ’n tyd wanneer baie gemeentes die nagmaal virtueel vier, het vrae en insigte oor die nagmaal en die wyses waarop dit meer deelnemend as observerend gevier kan word juis na vore gekom, wys Vosloo uit.

Terwyl gemeentes met verlange dink aan die dag wanneer hulle weer die nagmaal soos gebruiklik kan vier, hoop die redakteurs dat, wanneer dié dag aanbreek, gemeentes en gemeenskappe saam dieper kan dink oor wat die nagmaal in Suid-Afrika, op hierdie plek en in hierdie tyd, kan beteken.

  • Prof Robert Vosloo is dosent in Sistematiese Teologie en Ekklesiologie by die Fa­kulteit Teologie, Uni­versiteit Stellenbosch.
  • Dr Sipho Mahokoto is dosent in Sistematiese Teo­logie en Etiek by die Fa­kulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch en predikant van die VGK Kayamandi.
  • Dr Marnus Havenga is ’n postdoktorale genoot in Sistematiese Teologie by die Fakulteit Teologie, Uni­ver­siteit Stellenbosch en pre­dikant van die NG gemeente Stellenbosch-Sentraal.

Ander outeurs van dié publikasie is:
Pieter van der Walt, Eugene Fortein, Elizabeth A Havenga, Marlene Maho­koto, Nadia Marais, Lisel Joubert, Cas Wepener en Dion Forster.

  • Kyk gerus na die boekbekendstelling www.facebook.com/matiestheology.
  • Ds Marileen Steyn is jeugpredikant / tentmaker by die NG gemeente Saldanha.

    Kliek op die illustrasie hierbo om nou die boek te koop.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode