Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Lindie Denny het voor haar doktorale studies klas gegee by Rhema Bybelskool. Sy deel aan Kerkbode dat sy ’n gaping ontdek het: ’n Gaping tussen ‘vir wie’ die materiaal geskryf is en ‘wie’ voor haar in die klas gesit het. Die materiaal was duidelik geskryf vir wit, Westerse en welaf studente, alhoewel die konteks van studente ooglopend anders was: Daar was ’n rykdom van diverse kontekste, belewenisse, nasionaliteite en tradisies onder haar studente.
Sy vra die vraag reguit: “Hoe kan ek ordentlik klas gee vir ’n persoon wie se kultuur ek glad nie verstaan nie?” Sy was oortuig daarvan dat om beter by die studente uit te kom, sy meer van hulle moet verstaan. En dit is presies wat sy gedoen het in haar proefskrif getiteld “Reimagining pedagogy for theological education at a South African university: An ethnographic exploration”.
LEES OOK: Anandie Greyling gesels met dr Tanya van Wyk
Vir ’n hele semester woon Denny verskillende modules aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie en Religie by. Sy fokus op voorgraadse modules tot en met honneursvlak. Sy voer individuele onderhoude met die dosente van hierdie modules, asook fokusgroepe met studente. Denny se waarnemings en aanbevelings word nie beperk tot dié fakulteit waar sy haar empiriese navorsing gedoen het nie.
Pedagogie, verduidelik Denny, beteken om met iemand ’n pad te stap. Hoe lei ons studente op? En hoe stap ons die pad saam met hulle? “Pedagogie is definitief nie net dit wat ons doen daar voor in die klas nie,” beklemtoon sy. Pedagogie sluit in die lesinglokaal, materiaal, dit wat voor en na die klas gebeur en of ’n dosent beskikbaar is vir ’n student. Dit sluit ook in of studente hulle verantwoordelikheid opneem om saam te vorm aan hierdie spasies en interkulturele pedagogie.
LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Dr Khegan Delport
Studente en dosente beleef, nes Denny, skeiding tussen kulture. Sy antwoord vinnig dat dit nie opsetlik is nie. Sy gebruik ook die term “kolonialiteit” om te verwys na sekere pedagogiese aspekte wat steeds in universiteite se opleiding teenwoordig is. Denny se mening is dat kolonialisme verby is, maar dat die “kolonialiteit” ongelukkig steeds teenwoordig is in ons pedagogie. Met ander woorde, die effek van kolonialisme is ongelukkig steeds ’n werklikheid vir van die studente. Wat bedoel sy hiermee? Die argitektuur van ’n gebou en ’n klaskamer by die meeste universiteite, noem sy sommer as ’n kantlynopmerking. Hierdie argitektuur bevorder nie noodwendig tweerigting-gesprek of groepwerk wat juis “kolonialiteit” teenwerk nie. Dit was ontwerp vir die eenrigtingkommunikasie vanaf die dosent.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/03/anandie.jpg” caption=”Ds Anandie Greyling is jeugwerker by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Sommige studente ervaar ook ongelykheid, byvoorbeeld. Vele studente het nie Wifi by die huis nie en ook nie eens ’n rekenaar nie. In hierdie opsig trek die meeste wit studente steeds vandag voordeel. Bitter min studente in haar studie het aangedui dat hulle aanlyn klasse verkies. Haar studie is gedoen voor Covid-19 en op die vraag wat dit beteken vir ons huidige omstandighede, antwoord sy: “As jy nou aanlyn klas gee, gaan jy hard moet werk om by die student uit te kom, om regtig parallel met hulle te loop.” Sy haal haar hoed af vir dosente wat in hierdie tyd aanlyn klas gee.
LEES OOK: Oor tragedie en transendensie
Studente en dosente verwoord dat Engels as medium ’n taal is waarin meer mense mekaar kan ontmoet en hoor. Dit is egter opmerklik dat vir baie studente Engels nie eens hulle tweede taal is nie. Studente vra soms vir iemand in die klas om vir hulle te probeer vertaal wat die dosent op die oomblik sê. Denny meen dat daar meer tale verteenwoordig moet word in teologiese fakulteite, sodat studente selfs net een dosent wat dieselfde huistaal magtig is, kan nader vir hulp indien nodig.
Groepstake, debatte en fakulteitskampe het ’n verrassende effek op die pedagogie gehad. Dit is hierdie tipe omgewings waar mense van verskillende kulture mekaar kan hoor en sien, waar verandering kan plaasvind. Deurlopende, waagmoedige gesprekke binne diverse kulture kan voordelig wees vir fakulteite. Denny stel eintlik voor dat fakulteite modules aanbied waar daar by mekaar geleer kan word van mekaar se kulture en kontekste. Sy benadruk ook dat teologiese fakulteite meer denominasies as vennote moet intrek vir kerkeie opleiding. Daar is tans studente wat op hierdie vormingsgeleentheid uitmis, meen sy.
Denny se laaste paragraaf in haar proefskrif lees soos volg: “We are building a student that will help build a nation.” Fakulteite moet studente voorberei vir hulle konteks waar hulle gaan werk, verduidelik sy. Dit is nie ’n ruimte om ander soos ‘ons’ te maak nie, maar ’n ruimte waar ons ’n verskil kan maak, sodat ander ’n verskil kan gaan maak.
- Dr Lindie Denny is ’n pastoor by Hillsong in Wonderboom, Pretoria. Tans is sy ook die besturende direkteur van EverSmile Suid-Afrika.
Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
