Oor tragedie en transendensie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Tragedie. Vir party is dit die kuns­vorm van bekende skrywers soos Sofokles en Shakespeare. Vir ander is dit ’n filosofiese konteks. Vir die meeste mense is ’n tragedie egter ’n gebeurtenis wat in die hier en nou afspeel. Dit is die ervaring van lyding wat die mens laat voel dat iets verkeerd is, dat omstandighede teen hulle is en hulle ontwrig. Tragedie gebeur daar waar die mens bewus word van hulle beperkinge in hierdie lewe. Dr Khegan Delport is diep geïnteresseerd in hierdie werklikheid van die menslike bestaan en vra: Wat kan teologie oor tragedie sê?

LEES OOK: Jy swot wat? Ontmoet Engelette Kruger

In sy PhD-tesis getitel “On tragedy and transcendence: A critical exposition of Donald Mackinnon and Rowan Williams in the context of a modern debate” kyk Delport na die onderskeie stemme wat probeer sin maak van teo­logie se verhouding met tragedie. Die stemme in dié debat, vertel hy aan Kerkbode, is geneig om aan een van twee kante van ’n spektrum te val. Aan die een kant is daar ’n vorm van idealisme, ’n stem wat sê dat alle tragedie oorkom kan (en gaan) word. Dié stemme is geneig om te vinnig verby die menslike ervaring van tragedie te beweeg en dit gevolglik, in vele gevalle, te ontken. Aan die ander kant van die spektrum is daar die teologie van die tragedie wat, byna fatalisties, stel dat die tragedie deel van die onderbou van die lewe is en sal bly. Dit is ’n teologie wat tragedie volwaardig wil omhels. Delport beskryf dit as ’n spanning tussen die tragedie en die anti-tragedie.

Vanuit die werke van Mackinnon en Williams, stel Delport egter ’n midde­weg voor. Hy verwys daarna as ’n paradoks wat probeer om beide die menslike ervaring van tragedie ernstig op te neem, sowel as die teologie wat erns maak met die oorkoming van hierdie tragedie.

Hy praat van die manier waarop Christus se lewe op hierdie paradoks wys: Jesus se lewe spreek van beperking, van eindigheid; deur Jesus se inkarnasie tree Hy op binne ’n beperkte, weerlose liggaam; die gelykenisse het telkens ’n tragiese ondertoon; die feit dat Jesus nie deur sy eie mense as die Messias erken word nie, is “tragies”; en die tragedie bereik sy hoogtepunt (of is dit laagtepunt?) wanneer Jesus aan ’n kruis gehang word en die tragedie van God se verlatenheid beleef.

Tog spreek Jesus se lewe ook van die oorkoming van tragedie: van die opstan­ding en die wederkoms wat die belofte van die einde van verwonding inhou. Nie dat hierdie oorkoming die kruis kanselleer nie. Delport verwys spesifiek na Jesus se interaksie met Tomas na sy op­stan­ding. Die feit dat daar wonde was waaraan Tomas kon vat, is vir Delport ’n teken van die feit dat die mens se lyding, sy wonde na afloop van tragedie, nie net verdwyn nie. “Human suffering is included within and not negated by the salvific drama,” sê hy. Tog het die verwonding en die tragedie nie die laaste sê nie. “Tragic is finite, not the finality,” verduidelik Delport. Tragedies kan wel oorkom word, al is dit eers bin­ne die gro­ter raamwerk van die menslike verhaal.

LEES OOK:Om ’n begin te vind in dit wat soos ’n einde lyk’

Khegan sit en gesels met ’n as-kruis op sy voorkop getrek. Hy praat van Aswoensdag. Hy hou van Aswoensdag, sê hy. Dit is ’n dag waarop die mens hulle eie beperkinge, weerloosheid, sondigheid en lyding in die oë kan kyk. “It is the great leveller of people,” wat almal gelyk in die oë van God maak. Dit is, as ’t ware, die dag wanneer die mens die tragedie van die lewe in die gesig staar. Lydenstyd is egter ook die herinnering dat die tragedie op pad is, nie net na Goeie Vrydag nie, maar ook na Opstandingsondag.

En Korona? Tel dit as tragedie? Vroeg reeds maak Delport dit duidelik dat tragedie subjektief is en dat ’n gebeurtenis vir die een ’n tragedie kan wees en die ander nie. Covid gaan wel gepaard met verliese en die mens se ervaring van hulle beperkinge en inper­king. So tussendeur sy werk word dit duidelik dat mense se belewenis van die tragedie in Covid (en sommige se ge­voel dat hulle daardeur oorweldig word) nie ontken kan word nie. Tog is daar ook die hoop dat Covid nie die laaste sê het nie. Dit is die ironie dat selfs tragedie sy beperkinge het en dat dit ook ’n eindpunt binne die groter skema van die Skepping het.

*Khegan Delport is buitengewone dosent in Teologie by Hugenote Kollege op Wellington. Hy is ook navor­singsgenoot by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van die Vrystaat (UV). Hy het sy doktorsgraad in April 2019 aan die US verwerf.

  • Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.

Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode