Jy swot wat? Ontmoet Engelette Kruger

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

‘Luister na die stories van ander se roeping’

“Dit is die eerste keer in 22 jaar dat iemand net na my storie luister.” Dít was die terugvoer wat dr Engelette Kruger keer op keer ontvang het gedurende haar PhD-navorsing onder musiekstudente. Kruger, wat vir lank gemeente-orrelis was en tans musiekleier by Wapadrand Gemeente is, se navorsing is gebore uit ’n nuuskierigheid oor die identiteit van musikante en die “ineengevlegde skeidslyn tussen self en beroep”, sowel as die problematiek daaraan verbonde. In haar proefskrif getiteld Identity of students of Western Art Music at a South African tertiary institution: A narrative approach, ondersoek sy hierdie noue band tussen dit wat mense doen as be­roep en dit wie mense is.

LEES OOK: Jy swot wat? Ontmoet Angelique Havenga

Volgens Kruger se navorsing word musikant telkens as ’n minderwaardige beroep gesien en word dit afgemaak. Dit is wel nie net die geval by musikante nie. Kruger se navorsing het haar op die spoor van onderwysers, kelners, maatskaplike werkers en predikante gesit. Dit is juis baie keer hierdie beroepe waarop daar neergekyk word, vertel sy aan Kerkbode. Dikwels, meen sy, juis omdat mense in dié beroepe minder besoldiging ontvang of daar gemeen word dat daar te min beroepsgeleenthede is. Die lyne op haar voorkop trek saam as sy haar misnoeë oor die verband tussen besoldiging en beroepstatus uitspreek. Dít, terwyl daar juis in hierdie tye van die virus meer na hierdie beroepe gekyk word om mense deur dié ontwrigtende tye te dra, sê sy. Deur Kruger se navor­sing het sy gevind dat hierdie beroepsnobisme en beroepsminderwaardigheid tot selfbeeldprobleme kan lei. Kruger het dit ook aan haar eie lyf gevoel: “So oud soos wat ek is, is dit die eerste keer dat ek nie heeltemal minderwaardig oor my beroep voel nie.”

Dr Engeletta Kruger

Wanneer die gesprek na roeping draai, verduidelik Kruger dat dit presies is waaroor dit gaan. Sy gebruik wel die woord identiteit, maar sy glo dat roeping (en identiteit) die kombinasie is tussen wie jy is en wat jy doen. Kruger se navorsing is dus die herinnering dat die ontkenning van die waarde van mense se roeping, hetsy dit as musikant, predikant, onderwyser, maatskaplike werker, kelnerin of dies meer is, ook hulle persepsie van hulle eie menswaardigheid negatief kan beïnvloed.

Die oplossing lê vir Kruger in die respekvolle luister na mense se lewenstories. Die feit dat 22-jariges vir die eerste keer beleef het dat iemand werklik na hulle lewenstorie luister, is vir Kruger ’n aanklag teen die samelewing. In haar navorsing het Kruger van narratiewe analise gebruik gemaak om na mense se lewenstories te luister en sy het dit dan vanuit vier uitgangspunte geanaliseer. Vanuit die terugvoer na afloop van hierdie onderhoude het Kruger die waarde van luister opnuut besef. Sy pleit dat daar weer meer na mense se lewenstories geluister word – nie om raad te gee, vrae te vra of opinies te gee nie, maar om werklik te hoor wie die ander is.

Kruger se navorsing is eindelik ’n uitnodiging aan die kerk om met respek na mense se stories te luister en om gemeente- en gemeenskapslede te ondersteun in die uitleef van hulle roeping, nie as minderes nie, maar as gelykes in die oë van God.

Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.