Jy swot wat? Ontmoet Angelique Havenga

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die nagmaal moet saamvoeg

Ter afwagting van die tyd van skaapboud en sjerrie, het Kerkbo­de gaan gesels met dr Angelique Havenga. Haar belangstelling is ook dié van die tafel, dié van die liturgiese tafel waarrondom Christene vergader vir die viering van die nagmaal. In haar proefskrif getiteld “Om te word wat ons sien en te ontvang wat ons is: ’n Prakties-teo­logiese studie van die verhouding tussen die nagmaal en mens­waardigheid in ’n tyd van rasseskeiding” herontdek Havenga die betekenis van die nagmaal vanuit die werke van Johannes Calvyn.

Vroeg-vroeg in haar bediening het Havenga na die sakrament van eenheid gekyk met ’n diepe bewussyn van die skeiding tussen die NG Kerk en die VG Kerk. Met haar vooropgestelde idees het Havenga vir die oorsprong van hierdie skeiding by Calvyn gaan soek, net om verras te word. Hierdie vlugteling, het sy gevind, het eerder reg deur sy bedie­ning die kerk uitgedaag om die grense wyer te trek – en die uitdaging staan van­dag nog.

Havenga gebruik die lens van mens­waardigheid in haar studies en identifiseer twee dimensies inherent tot mens­waardigheid. Die spreekwoordelike ver­tikale lyn van menswaardigheid lê in die feit dat die mens in die Beeld van God geskep is, ’n identiteit waarvan die mens onvervreembaar is.

Die horisontale lyn behels die mate waartoe mense mekaar herken en er­ken. Dit is hierdie lyn van menswaardigheid wat op die spel is wanneer daar verdeling in die viering van die nagmaal is en wanneer Christene, hetsy opsetlik of nie, mekaar se menswaardigheid verwring en misken.

Nagmaal is die hart van die verstaan van gemeenskap. Die betekenis en waar­de hiervan word egter bedreig wan­neer die nagmaal in afsondering gevier word. Hiér praat Havenga nie net van die afsondering tussen gemeentes nie, maar ook die afsondering wat binne die viering van die nagmaal in een erediens sigbaar is. Die gebruik van aparte glasies in die NG Kerk, terwyl daar in aparte banke gesit word, sonder dat daar eens na die ander gekyk word, lei daartoe dat daar van die ander vergeet word. Die nagmaal verander dan in ’n individualistiese viering van persoonlike verlossing.

Deel van die oplossing lê vir haar in die instelling van die vredesgroet na die skuldbelydenis. So ook stel sy voor dat die nagmaal aan die breër gemeenskap gekoppel word deurdat die gemeente die brood elders na afloop van die diens breek.

Havenga bevestig dat die nagmaal selfs in die afsondering van Covid-19, waar gemeentes steeds nie almal saam die nagmaal vier nie, waardevol kan wees. Wanneer die kerk onthou dat die nagmaal nie net ’n gedagtenismaaltyd is nie, maar ook ’n maaltyd wat mense – in die teenwoordigheid van die gasheer, die gekruisigde, opgestane Jesus Christus – met mekaar verbind, maak dit nuwe (of eerder ou) deure oop vir mense om aan mekaar, te midde van afsondering, verbonde te kan bly.

Die nagmaal is eindelik die herinne­ring dat ons, deur die teenwoordige en regerende Christus, nie net verbonde is aan die mense wat ons kies nie, maar ook wat ons nie kies nie. Baie soos daardie familielede om die Kerstafel.

  • Dr Angelique Havenga ontvang in Desember 2020 haar doktorsgraad nadat sy dit suksesvol verdedig het. Sy is ook pre­di­kant by Stellenbosch Moederkerk /Kruiskerk.

Marileen Steyn is tentmakerleraar van NG Saldanha met ’n spesifieke fokus op jeugbediening.