Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Tanya van Wyk

‘Om ’n begin te vind in dit wat soos ’n einde lyk’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Jürgen Moltmann is ’n Duitse sistematiese teoloog wat bekend is vir sy teologie oor lyding, die kruis en hoop. Wanneer die tema van tragedie ter sprake kom, is Moltmann se werk ’n baken van hoop vir verskeie teoloë, ook vir dr Tanya van Wyk.

Van Wyk begin die gesprek oor haar teologiese held, Moltmann, deur ’n persoonlike herinnering met Kerkbode te deel. In 2017 het hy Suid-Afrika besoek. Dit was die eeufeesvieringe van die Teo­logiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Sy dink terug aan die toe 91-jarige, wêreldberoemde teoloog, en sy beskryf hom as “avontuurlustig” en met “blink oë”. Van Wyk onthou hoe sy tóé, maar eintlik steeds vandag, wonder hoe hy te midde van persoonlike erva­ring van lyding en tragedie, “blinkoog” en met aanhoudende “hoop” deur die lewe gaan.

LEES OOK: Oor tragedie en transendensie

Moltmann het in 1943 dienspligtig geword tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy was reeds deel van die Jungenvolk, Hilter se jeugbeweging. Later daar­die jaar het hy ’n bomontploffing oorleef. Hierdie was een van sy eerste ervarings met lyding. In die aanval Ope­rasie Gomorrah, is duisende mense dood. Die gebeure het diep vrae by Moltmann veroorsaak, want sy vriend, wat langs hom gestaan het, is dood. En hy het oorleef. Hoekom?

In 1945, kort voor die einde van die oorlog, word Moltmann se bataljon deur Britse magte vasgekeer, vertel Van Wyk. In sy outobiografie, A broad place, skryf Moltmann dat hy weggekruip het vir die Britse weermag. Na dae se haglike omstandighede loop hy homself in Britse soldate vas en gee homself oor.

Moltmann beland later in ’n kamp in Skotland en is verbaas oor hoe hy, ’n Duitser, behandel word. Van Wyk be­klem­toon dat hy met menswaardigheid behandel is en vriendelik verwelkom is. Hy ontvang ’n Bybel en lees van Jesus se uitroep en Godverlatenheid aan die kruis. Dit is ’n uitroep waarmee hy identifiseer. Hy kom tot die oortuiging dat as God self lyding ervaar het, sal God ook sy lyding verstaan. Moltmann pen ook later hierdie denke en teologie neer in The crucified God.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/03/anandie.jpg” caption=”Ds Anandie Greyling is leraar by die NG gemeente Doornkloof.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Van Wyk is versigtig om namens Moltmann te praat. Sy trek kort-kort nog ’n publikasie van hom nader. “Christ’s God forsakenness showed me where God is. Where he had been in my life, and where he would be in the future,” haal sy hom weer aan. Sy sê weer dat Moltmann se ‘blinkoog’ houding ‘onverstaanbaar’ is. Sy kom tot die gevolg­trekking dat sy geloofsoortuiging hierdie houding moontlik maak en hom energie gee. Daarom verwoord Van Wyk die ‘hoop’ waarvan Moltmann praat as ’n ‘geloofsenergie’. Sy druk dit uit as “om ’n begin te vind in dit wat lyk soos of dit op die oomblik ’n einde is”.

Moltmann erken in terme van tragedie, meen Van Wyk, dat daar verskillende vorme van lyding is. “Dit is die punt, hy het nie net teologie geskryf nie,” verduidelik sy. Dit begin by sy eie persoonlike verlate gevoel en dit reso­neer met wat hy lees van wat Christus aan die kruis ervaar het – verlatenheid. En wat gebeur? “There I became a seeker of the God,” lees Van Wyk uit Moltmann se lewensverhaal.

“God is a broad place where there is no cramping,” deel Van Wyk in verwy­sing na Moltmann se verhaal. ’n Ruimte waar mense kan leef in ’n spasie van ver­soe­nende verskeidenheid en nie kom­peteer nie. Hierdie ruimte is ’n be­vry­dende ruimte – God. Moltmann het iets hier­van in die kamp beleef, toe hy mens­waardige behandeling, pleks van ver­oordeling, beleef het. Vir Moltmann het hoop ook ’n sterk sosiaal-etiese karakter. En wat beteken dit? “Waar ons lyding sien – raak betrokke!” antwoord sy.

Van Wyk sluit die gesprek af met nog ’n persoonlike herinnering van Moltmann. Moltmann se teologie het haar op akademiese en persoonlike vlak gevorm. Sy wys ’n foto getiteld “hoop”. ’n Foto waar sy en Moltmann saam aan tafel sit tydens sy besoek aan Pretoria. ’n Foto wat eintlik die herinnering vasvang van ’n gesprek waarin sy met hom meedeel hoeveel betekenis sy teologie van hoop ook in haar lewe teweeggebring het. Sy reaksie was: “Praise be to God.” Moltmann wys dat hoop as respons op tragedie nie net teoreties is nie, maar dat ons ook uitgedaag word om met blink oë hoop te bring.

  • Dr Tanya van Wyk doseer sistema­tiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top