Prof Kobus Schoeman is bekend vir sy werk met kerklike navorsing. Marileen Steyn gesels met hom oor die waarde van navorsing op gemeentevlak en van die netwerke wat daaruit kan vloei.
Schoeman is lief vir statistiek. Hy beskryf sy navorsing en sy reis met Kerkspieël as sy werk, maar ook as sy stokperdjie. Kerkspieël het in 1981 as ’n sensusopname in die kerk begin. Oor die jare het dit ontwikkel in kerklike navorsing wat ook vra na dit waarmee gemeentes en geloofsgemeenskappe besig is en na die maniere waarop hulle ’n verskil kan en moet maak. Schoeman is nou alreeds sedert 1988 by Kerkspieël betrokke en staan tans aan die hoof van hierdie navorsing.
LEES OOK: Anandie gesels met dr Cobus van Wyngaard
Waardevol soos wat die navorsing is, is dit egter nie alleenlik genoegsaam vir effektiewe gemeentebediening nie. “Deel van ons problematiek met ons teologie is omdat ons nie ordentlike, plaaslike, kontekstuele konteksanalise doen nie,” sê hy. Die doel van gemeentewees is volgens Schoeman nie om net bymekaar te trek en in ’n gemeente in te vlug waar almal dieselfde as jy dink nie, maar om juis uit te gaan en saam met die gemeenskap en groter gemeenskap waarin ’n mens lewe, te worstel. “Ons is nie regtig hartgrondig besig om te worstel met die vraagstukke binne die gemeenskap nie.”
Schoeman spreek sy kommer uit oor die feit dat gemeentes dikwels nie met die ‘ander’ gesels nie. Diegene in die marges word dikwels oorgesien sonder dat hulle stem na geluister word. Kontekstuele bediening vra egter dat gemeentes eers met die gemeenskap gesels en dán begin gesels oor kerkwees.
Beteken dit dat ek aan elke deur in my gemeenskap moet gaan klop? Nie noodwendig nie. Schoeman praat oor die waarde van observasie: “Moenie net deur jou gemeenskap jaag nie, maar stap, draf en ry fiets. Vra jouself dan: Watter stemme hoor jy nie en wie is afwesig?” Hy gebruik die voorbeeld van gemeentes wat dikwels aanvaar dat hulle ouerwordend is, maar die jongmense in hulle gemeenskap nie raaksien of na luister nie. Iets soos die webwerf Wazimap.co.za, wat op grond van sensusdata wys hoe die samestelling van ’n gemeenskap lyk, kan byvoorbeeld ’n gemeente help om te vra of die gemeente die gemeenskap reflekteer en om die stemme wat nie teenwoordig is nie, te identifiseer. So ook kan die National Church Life Survey (NCLS) Werkboek gemeentes help om anders na hulle gemeenskappe te kyk.
LEES OOK: Marileen gesels met ds Hanno Ackerman
Die goeie nuus is dat die mense in die gemeenskap waarskynlik reeds ontvanklik vir samewerking kan wees. Schoeman, wat ook by Statistiek Suid-Afrika betrokke is, meen dat ongeveer 80% van Suid-Afrikaners met die Christelike geloof identifiseer. Helfte van hierdie 80% het aangedui dat hulle weekliks eredienste bywoon. Die geleentheid is dus daar om ekumenies oor gemeentegrense heen te werk.
“Statistiek,” sê Schoeman pertinent, “is net ’n instrument. Dit is nie ’n oplossing nie.” Hiermee beklemtoon Schoeman dat statistiek nie die einddoel kan wees nie, maar eerder die pad na iets groters. Wat is hierdie iets groters volgens hom? Dit gaan vir hom daaroor om saam te werk en te bou aan die koninkryk. Dít is volgens Schoeman die groot vraag waarmee gemeentes moet worstel wanneer hulle missionaal-kontekstueel wil dink. Hoe kan ons saamwerk om ’n verskil in die gemeenskap te maak? “Gaan worstel dan met die Bybel in die een hand en die analise in die ander en vra dan eers of ek werklik in die gemeenskap betrokke is,” sê hy.
Dit gaan oor ’n etiese vraagstuk. “Ons kla oor korrupsie,” verduidelik Schoeman. “Ons kla oor dienslewering. Ons kan saam ’n netwerk skep wat saam ’n verskil in die gemeenskap kan maak.” Daarom is die fokus vir Schoeman op die bou van netwerke tussen kerke en ander organisasies, want “ons kan dit nie alleen maak nie.”
Hierdie tipe netwerke is selfs nog van groter belang in die lig van die toename in digitale bediening en werk wat sedert Covid-19 toegeneem het. Schoeman voorsien dat die toekoms ’n hibriede benadering tussen digitale en fisiese bediening gaan wees. Die uitdaging lê in sulke tye in verhoudingsbou. “Mense kan net so lank vir ’n skerm kyk, iewers het ons interaksie nodig.”
In die lig hiervan, is Schoeman juis opgewonde om te sien dat gemeentes in grendeltyd in 2020 netwerke met ander gemeentes en nie-regeringsorganisasies gebou het. Deur hierdie samewerking kon gemeentes se invloed wyer kring, maar kon hulle ook begin om werklik gemeente vir die gemeenskap te wees.
Schoeman se oproep is dus tot gemeentewees wat luister, sien en saamwerk. Dit is gemeentewees wat nie net Sondae as kerk saamkom nie, maar ook in die week as kerk in die gemeenskap uitgaan. Hy vra vir ’n teologie waar die tekkie die gemeenskap se slaggatteer sal tref en sal netwerke vorm om saam die koninkryk van God in plaaslike gemeenskappe uit te bou.
- Prof Kobus Schoeman is professor in praktiese teologie wat fokus op gemeentestudies en leierskap. Hy is ook die voorsitter van die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode.
▶ Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.
Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).