’n MBA is nie vir almal nie, maar bestuursvaardighede is

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die kerk is nie nét ’n geestelike instansie nie, herinner ds Hanno Ackerman Marileen Steyn in hulle onderhoud oor sy MBA-graad.


Die kerk, wat dikwels net as ’n geestelike instansie gesien en bestuur word, is ook op die ou end ’n besigheid. “Ons mis hierdie punt,” verduidelik Ackerman. “Die kerk is ’n organisasie soos enige ander met sisteme, kommissies en begrotings.” Met ’n natuurlike belangstelling in die besigheidswêreld, en vanuit die diep oortuiging dat dit hom sal help om ’n beter predikant te wees, het Ackerman onlangs sy MBA-graad voltooi.

Predikante, sê hy, moet dikwels help om nie-regeringsorganisasies (NRO’s) te begin of op die bestuur van NRO’s dien. Die slegte ding vir Ackerman is dat predikante in topbestuur instap met opleiding wat hulle voorberei het om geestelike leiers te wees en hulle nie nood­wendig vir die bestuurselement van die beroep toegerus het nie.

Buiten vir predikante se betrokkenheid by NRO’s, moet daar onthou word dat die kerk in dieselfde sektor in die besigheidswêreld as nieregeringsorgani­sasies (NRO) en niewinsgewende orga­nisasies (NWO) val. Tog verskil die prak­tyke soms radikaal. Terwyl NRO’s en NWO’s weet dat hulle voortbestaan van basiese besigheidspraktyke soos bemar­king en verantwoordbaarheid afhang, blyk dit of die NG Kerk nie hierdie praktyke na waarde ag of im­ple­menteer nie.

Die NG Kerk blyk sku te wees vir die korporatiewe en organisatoriese element in ’n poging om te verhoed dat die kerk ’n markplein word waarvan die tafels omgegooi kan word. Tog kan hierdie elemente die kerk juis help om die kerk meer verantwoordbaar te bestuur.

LEES OOK: Anandie Greyling gesels met Charles le Roux

As deel van sy graad het Ackerman navorsing voltooi met die titel: “Corporate social responsibility: Social and environmental accounting of faith based organisations.” In hierdie navorsing het hy gekyk na die manier waarop kerke meer verantwoording kan doen vir hulle impak op die samelewing en omgewing. Ackerman bevestig dat die NG Kerk verantwoordelik is, dat die sinode die gemeentes tog verantwoordbaar hou. Nietemin vra hy beter strukture wat die bestuur van hulpbronne in die gemeente meer formeel in verslae (eerder as in ’n kerkblaadjie of afkondiging) aan gemeentelede en belanghebbendes kommunikeer. Die basiese vraag van Ackerman se navorsing, en die vraag wat hy ook aan gemeentes wil vra, is: “Hoe help ons mense om te sien wat doen ons met hulle geld?”

Vir Ackerman kom dit daarop neer dat die kerk meer slim, strategiese be­stuur benodig – veral in ’n Covid-tyd waar so baie van die praktyke uitgedaag word en gemeentes sisteme in plek moet sit om personeel verantwoordbaar te hou en om ’n aanlyn strategie en handelsmerk te vestig.

Is hierdie klem op besigheidsbestuur binne die kerk nie meer gepas vir makrogemeentes eerder as plattelandse gemeentes nie? Volgens Ackerman is die belang van bestuurskennis en -vaardighede van die predikant juis soveel meer belangrik op die platteland, waar daar van die predikant verwag word om die gemeente op verskillende vlakke te bestuur.

LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Cas Vos

“Wat van dominees soos ek?” vra ek. “Dominees wat van nature nie na die kerk as ’n besigheid kyk nie en wat geneig is om meer pastoraal na die be­stuur van die kerk te kyk.” Ackerman bevestig die belang van balans op die kerk­raad. Vir ’n goed funksionerende, gebalanseerde kerkraad, benodig ’n mens mense wat uit verskillende hoeke kyk – en dit sluit die besigheidsperspektief, sowel as die humanitêre perspektief in. Hierdie perspektiewe word genooi om die middelgrond te soek en so die belange van die gemeente te bevorder. Ackerman verwys na sistematiese denke wat poog om sisteme te help om hulleself te help en wat vra dat al die stemme na die tafel kom. Dit is juis om hierdie rede dat Ackerman meen dat al die predikante van ’n gemeente op die bestuursraad behoort te sit. Een van die gevare in bestuursliggame, vertel Ackerman, is die sogenaamde ‘echo-chamber’. Dit is wanneer ’n bestuursliggaam slegs uit mense bestaan wat soortgelyk aan mekaar dink en doen. “Ons kort juis diverse stemme en ’n verspreiding tussen mense wat die harde lyn en die sagte benadering inneem.”

Ackerman erken dadelik dat ’n MBA-graad nie vir almal is nie – en dat dit okay is. Tog plaas hy klem op die feit dat die besigheidsleke onder ons steeds moeite moet doen om basiese besigheidsbeginsels te verstaan en toe te pas. Dit begin, na sy mening, by die teologiese opleiding van predikante. Ackerman meen dat die teologiese fakulteite meer moeite moet doen om vir teolo­giestudente die besigheidsaspek van die kerk te leer navigeer. Verder beveel hy predikante aan om lidmate wat wel hier­die wêreld ken en verstaan, te betrek en na hulle te luister. Dit is juis Ackerman se hoop: vir predikante om hulleself te onderlê in die wysheid wat die besigheidswêreld kan bied. “’n MBA is dalk nie vir almal nie, maar om kennis op te bou is nie moeilik nie.”

  • Ds Hanno Ackerman het sy MBA-graad aan die Stellenbosse Besigheid­skool in Maart 2021 verwerf. Hy is aan­gestel as predikant by NG Stellenberg, Durbanville.

▶ Ds Marileen Steyn is jeugleraar by NG Saldanha.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode