Die verrassende perspektiewe as jou beroepspad in twee bane loop

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit was vir hom verstommend dat mense beginsels glo en toepas as hulle dit in die besigheidskool leer, maar nie noodwendig probeer toepas omdat ’n mens dit by die kerk of vanuit die Bybel leer nie, vertel Charles le Roux aan Anandie Greyling.


Proponent Charles le Roux se be­roepspad bestaan uit twee bane: teologie en besigheid. Hy is ’n kommersiële bestuurder van Farmwise Marketing. Hy is wel lank voor dit al ’n gelegitimeerde van die NG Kerk. Le Roux se pad na die besigheidswêreld was wel ’n unieke roete. Hy ontvang beide sy teologiese grade aan die Universiteit van die Vrystaat terwyl hy ook aan ’n sportloopbaan, spesifiek in atletiek, bou. Dit is ook hierdie sport wat Le Roux laat verhuis na Pretoria en ook ’n invloed gehad het op sy MDiv-navor­sing in narratiewe beginsels in die Ny­werheidsbediening, naamlik Die fasili­tering van ’n deelnemende pastorale ge­­sprek as deel van die onderlinge versorging van gelowiges.

LEES OOK: Marileen Steyn gesels met Hanno Ackerman

Tydens Le Roux se navorsing ontdek hy ook dat hy makliker met mense kon gesels as ‘Charles die atleet’ teenoor wanneer hulle hom sien as die dominee. Le Roux dink terug aan goeie gesprekke wat hy en sy fisioterapeut gevoer het. Dit was niks anders as ’n narratiewe gesprek nie, meen Le Roux, maar hy onthou dat dit anders en minder ‘ernstig’ was as wanneer hy ’n predikant sou gaan sien het om daaroor te praat. “Mense kry nie die geleentheid om proaktief gesprekke te voer nie,” verduidelik Le Roux. Hy brei uit op hierdie idee deur te sê dat dit veral mense soos jou haarkapper is met wie jy gemaklik gesels, omdat iets anders gebeur of omdat daar ander raakpunte is om in gesprek oor te tree.

Terwyl Le Roux by NG Elarduspark betrokke was na sy studies, betrek ’n maatskappy hom om by hulle te begin werk. Hierdie maatskappy se fokus was in die voedselbedryf. Hy besef hy het ’n aanvoeling vir besigheid en soos Le Roux dit verwoord “alles gaan oor mense en of jy probleme vir mense kan oplos of hulle mobiliseer”.

“Hoe vereenselwig jy hierdie twee wêrelde?” vra Kerkbode hom. “As mense my by ’n braai vra wat ek doen, dan sê ek dat ek help om die nasie te voed.” Le Roux beskryf sy beroep as iets heilig, juis omdat hulle vir mense kan sorg. Naweke is hy steeds betrokke by NG Elarduspark se musiekbediening, kry soms geleentheid om te preek en hy is ook op die kerkraad. Sal jy ooit voltyds teruggaan na die bediening? “Ek sal altyd soek vir best of both worlds,” antwoord Le Roux.

In 2017 verwerf Le Roux sy MBA-graad aan die Gordon Institute of Business Science (GIBS) wat aan die Universiteit van Pretoria verbonde is. Nes in sy MDiv-navorsing soek Le Roux na die alternatiewe oplossings of storie. In hier­die navorsing fokus hy op die alternatief vir die voedselketting van vars produkte. Tydens sy MBA-studies was hy ook aangenaam verras oor hoe baie daar op leierskap en gemeenskapsbou gefokus is. ’n Mens sou kon wonder of teologiese opleiding nie ook meer kon bied ten opsigte van gemeenskapsbou, leierskapsontwikkeling en die mobilisering van mense nie.

Iets anders wat Le Roux gefassineer het tydens dié studie is dat ’n hele paar besigheidsbeginsels eintlik as Bybelse beginsels beskou kan word. Dit was vir hom verstommend dat mense beginsels glo en toepas as hulle dit in die besigheidskool leer, maar nie noodwendig probeer toepas omdat ’n mens dit by die kerk of vanuit die Bybel leer nie. Le Roux dink dadelik aan die voorbeeld van ’n dienende leierskapsmodel, of te wel servant leadership, wat mense in die besigheidswêreld probeer nastreef omdat goeie navorsing en joernale dit gepubliseer het. Tog is dit presies dieselfde leierskap wat ons by Jesus leer, meen Le Roux.

LEES OOK: Anandie Greyling gesels met Stephan van der Watt

As iemand wat teologiese grade en ’n meestersgraad in besigheidsadministrasie het, is Le Roux ’n unieke persoon om op ’n kerkraad te hê. Hy dien al die afgelope vyf jaar op NG Elarduspark se kerkraad en erken dat hy nog baie moet leer oor die rol van die kerkraad en hoe om ’n sinvolle verskil te maak. Hy be­skou strategiese vrae as belangrik, soos byvoorbeeld wie kies ’n mens as kerk­raadslede; hoe ontwikkel ons leiers wat tyd het om aktief betrokke te wees en wat is ’n goeie strategie vir ’n kerk. Hy wonder ook wat sou gebeur as ’n mens die ‘besigheidsmodel’ van die kerk op haar kop draai, sodat predikante inhoud kan ontwikkel wat ander gemeentes ook op ’n ekonomies bekostigbare wyse kan bekom.

“Hoe dien die kerk die gemeenskap?” vra Le Roux. Dit is meer as net wat op ’n Sondag in die erediens gebeur. Hy beklemtoon dat mense onder baie druk is deur die week en vra daarom vanuit hierdie perspektief hoe die kerk die gemeenskap sinvol kan dien. Le Roux gebruik dieselfde taal as hy verwys na die bestaansdoel van ’n besigheid: “Dit gaan nie net daaroor om geld te maak nie.” Nee, ’n goeie besigheid wil ’n probleem oplos en die gemeenskap dien om ’n verskil te maak.

Kortom: Proponent Charles le Roux is kommersiële bestuurder by Farmwise Marketing. ­Hierdie maatskappy help om die land se winkelrakke vol te hou met die beste varsprodukte van die beste boere af.

  • Ds Anandie Greyling is jeugwerker by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie.

Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode