Wat sê die kruis vir Christenmans oor hulle manlikheid?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Stéphan van der Watt gesels met Anandie Greyling oor die diversiteit en Christelike spiritualiteit van manlikheid.


“Daar is nie net een uitdrukking van manlikheid nie,” sê dr Stéphan van der Watt in ’n onlangse onderhoud aan Kerk­bode. Manwees, verduidelik hy, word op verskillende maniere uitgedruk en uitgeleef vanweë verskillende kontekste en ervarings. Van der Watt het reeds in 2007 sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf met die proefskrif getiteld Images of men and masculinities within cultural contexts: A pastoral assessment.

LEES OOK: ‘Beeldspraak, metafore en om die smaak van God in die mond te kry’

Van der Watt meen dat massamedia, insluitend films, tydskrifte, TV-programme, musiekvideo’s en sosiale media, sekere oortuigings en inligting na ons toe laat aanrol oor wat dit oënskynlik beteken om ’n man te wees. Hy begin met ’n analise van tydskrifmedia, spesifiek die voorblaaie van Men’s Health Magazine (MHM), in sy doktorale stu­die en analiseer dit vir nog vyf jaar daarna. Hy bespreek later 123 MHM-voor­blaaie, oor ’n tydperk van 10 jaar, in ’n navorsingsartikel, getiteld ‘BIG, HARD and UP!’ A healthy creed for men to live by?’ Vanuit hierdie analise, sê hy, staan die ideaal van die man as ‘seksuele kampioen’ uit en tweedens die gespierde, ‘perfekte’ liggaamsbou. Mans word gebombardeer met die beelde en onderbou van patriargale ideale dat hulle “goed in die bed moet wees” en tweedens “die perfekte liggaamsbouer” moet wees. Die dilemma, aldus Van der Watt, is dat ’n bitter klein persentasie van mans by daardie ideale kan uitkom. Hy verduidelik verder dat MHM nie noodwendig ’n diversiteit van ervaringe van manwees vanuit verskillende klasse, rasse, ouderdomme, sosiale groepe en dies meer in ag neem nie. Om nie eens te praat van mans met fisiese gestremdhede nie. Die onvermoë om aan hierdie ‘manlike’ idea­le te voldoen het ook newe-effekte op tienerseuns, ’n negatiewe liggaamsbeeld en angs op ’n seksuele terrein.

Hoe kan ons teologies hieroor besin? Van der Watt trek dit deur na die kruis en opstanding: “Wat sê die kruis en opstanding vir my, as man – as ’n Christenman spesifiek – oor my kerniden­ti­teit?” Die kruisgebeure, verdui­delik hy, kom wys, in die vreemde logika (wysheid) van God, dat mag prysgegee moet word (1 Kor 1). “Die beeld van Christus se ontlediging aan die kruis is ’n kontrabeeld”, sê Van der Watt, “teenoor die magsbehepte samelewing waarbinne ons woon.” Die boodskap van die kruis staan lynreg teenoor die manlik gedo­mineerde magsvergrype van die samelewing (Fil 2).

“So what?” vra ek? Van der Watt se taal is deurgaans in die onderhoud inklusief. As ons spesifiek genderbepaald of op manlikheid fokus, sê Van der Watt, is die uitdaging verál vir die meeste mans om die mag wat hulle het – hetsy finansieel, sosiaal, polities, verhoudingsmatig – altyd krities te beskou en vanuit die kruis te dink en te reageer. Hy sluit geslagsgebaseerde geweld by hier­die gesprek in en verwys na Jesus se voorbeeld van prysgawe. Die uitdagings aan mans gaan wees om altyd te vra: Hoe raak ek bewus van die mag in ’n verhouding? Gee ek my mag prys? Of misbruik ek dit deur te domineer of deur ’n tipiese partriargale styl te handhaaf?

Wat van goeie Christenmans wat in hulle huis domineer en onderdruk vanweë hulle verstaan van die Bybel? In sy proefskrif het hy geskryf oor die ontmaskering van hierdie tipe bewegings en ideologie. Hy sê dit is ’n selfgerigte ideologie en fokus op die mag wat mans rondom hulleself sentreer, terwyl die kruis ’n kontrabeeld van opoffering en diens is. Van der Watt verduidelik dat wanneer mag, enige vorm van mag – en hierby sluit hy die mag wat vroue het, in – misbruik word vir eie gewin, moet ’n Christen introspeksie toepas. Waar nodig dan bely en om vergifnis vra.

LEES OOK: Lees en luister: Die profete’ is terug – en hulle vlei nie

Jesus het ’n menslikheid en manlikheid uitgeleef wat heel anders was as die mans rondom Hom. Hy gee baie keer vir vroue voorrang en maak plek vir kinders. Dit is ’n andersoortige menswees wat Hy uitbeeld binne daardie patriargale kultuur. Ironies genoeg, gee Hy sy mag op, juis as man. Dit bied ’n uitdagende werklikheid vir alle mense.

Hy verwys na die krag wat lê in die opstanding as die “vitaliteit van die nuwe lewe wat deurbreek”. Christus se opstanding bevestig God se hoopvolle trou in ons beliggaamde lewe. Hy meen dat dit vars dimensies oopsluit van ons verstaan van manlikheid, soos om byvoorbeeld te mag fokus op die opbou van gesonde liggame. Christus se opstanding motiveer ons ook om op te staan teen onreg, bv magsmisbruik. Hy beskryf ’n Christelike spiritualiteit van manwees as “die moed om weerloos te wees en mag prys te gee”. Om nie die hele tyd jouself te moet bewys, te doen of presteer soos die media op die voorgrond hou nie. Dit is die spiritualiteit wat voortkom uit die kruis en opstan­ding. Dit is die radikale aflê van mag, maar ook bevestiging van nuwe lewe en ’n hoopgewende, dinamiese verstaan van manlikheid (en vroulikheid).

  • Dr Stéphan van der Watt is voltydse dosent van Pastorale Teologie en Sorg by Kobe Reformed Theological Seminary, waar hy in Japannees doseer sedert 2016. Hy was ’n leraar van die NG Kerk in Suid-Afrika en voorheen betrokke as projekbestuurder en navorser by Communitas, sowel as by teologiese opleiding aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch. Hy is sedert 2009 deel van Missie Japan en die NG Kerkfamilie se getuieniswerk in Japan (www.missiejapan.co.za).

Ds Anandie Greyling is jeugwerker by Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie.


Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Word 'n vriend van Kerkbode